Hof hoor Zuma-verkiesingsaak aan

Oudpres. Jacob Zuma by die Konstitusionele Hof (10 Mei 2024) (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die Konstitusionele Hof het Vrydag ʼn appèl aangehoor om oudpresident Jacob Zuma onverkiesbaar te verklaar.

Die 82-jarige Zuma verteenwoordig die uMkhonto we Sizwe-party (MKP), ʼn nuwe opposisieparty wat moontlik ʼn ontwrigting kan veroorsaak in die nasionale verkiesing op 29 Mei.

Verkiesingsowerhede voer aan dat die politikus verbied moet word om aan die verkiesing deel te neem weens ʼn skuldigbevinding in 2021 oor minagting van die hof.

Die hof moet oor die saak besluit ná die kieshof in April ten gunste van Zuma beslis het.

Zuma se inhegtenisneming in 2021 het gelei tot onluste en plundertogte wat die lewens van meer as 350 mense geëis het. Daar is vrese dat dié onluste herhaal kan word.

“Zuma se ondersteuners het vanjaar weer met geweld gedreig indien sake nie verloop soos wat hulle wil nie,” het Zakhele Ndlovu, ʼn dosent in politiek aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.

ʼn Paar dosyn MKP-aktiviste, met die party se groen-en-swart kleure, het buite die hof gesing en gedans as ondersteuning vir Zuma. Sommige het plakkate rondgeswaai met die woorde “Stem MK-party”.

ʼn Groot deel van die oggend is spandeer aan ʼn versoek deur Zuma se regspan dat ses regters hulself aan die saak moet onttrek omdat hulle “bevooroordeeld” is.

Die hof het uiteindelik die aansoek van die hand gewys, sonder dat enige redes verskaf is.

Lede van die nuwe MKP sing en dans buite die Konstitusionele Hof ter ondersteuning van Jacob Zuma (10 Mei 2024) (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Talle persone in Zuma se kamp beskou die Konstitusionele Hof as partydig. Dit is dieselfde hof wat Zuma in 2021 vyftien maande tronkstraf opgelê het toe hy geweier het om voor die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping te getuig.

Die hoof van daardie paneel, Raymond Zondo, is dié hof se hoofregter.

Die saak hou verband met die interpretasie van ʼn grondwetlike norm wat enigiemand, wat meer as 12 maande tronkstraf opgelê is, verbied om in die parlement te dien. Die verbod verval vyf jaar ná die vonnis afgehandel is.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie voer aan dié voorskrif is op Zuma van toepassing.

Zuma se prokureurs het egter suksesvol voor die verkiesingshof betoog dat dit nie op hom van toepassing is nie, omdat sy vonnis nie geappelleer kon word nie en hy vroeg op mediese parool vrygelaat is.

Regskenners meen dit kan ʼn paar dae duur voor ʼn finale uitslag gelewer word.

‘Duidelikheid is nodig’

Ben Winks, ʼn prokureur wat in grondwetlike reg spesialiseer, het gesê die OVK het ʼn sterk appèlsaak.

“Die bewoording van die Grondwet … sê niks van hoe lank jy uitgedien het nie.” het hy gesê.

Zuma is vrygelaat op mediese parool net twee maande ná hy met sy tronkstraf begin het.

Sy nuwe party het uit die niet ontstaan en gou een van die groot mededingers geword in die verkiesing.

Die MKP verwag om ʼn groot deel van ANC-kiesers te lok. Dit kan beteken dat die ANC vir die eerste keer in ʼn nasionale verkiesing minder as 50% van die stemme ontvang. Sonder ʼn parlementêre meerderheid sal die ANC koalisievennote moet soek om aan bewind te bly.

Die ANC sukkel in meningspeilings oor die swak ekonomie en bewerings van korrupsie en wanbestuur. ʼn Ipsos-peiling verlede maand het die ANC op 40,2% bereken met die Demokratiese Alliansie op 21,9%. Die EFF het op 11,5% gestaan. MKP het gevolg met 8,4%.

Die OVK het verlede maand, toe hy aangedui het hy is van voornemens om appèl aan te teken, gesê hy wil nie “betrokke raak in die politieke speelveld nie”, maar wil “duidelikheid verskaf om ʼn vry en regverdige verkiesing te verseker”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.