Hof keer besluit om oor Unisa-administrasie

(Foto: Jacques Naude/ANA)

Die Gautengse hooggeregshof in Pretoria het Woensdag die minister van hoër onderwys en opleiding opdrag gegee om dadelik sy besluit om die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) onder administrasie te plaas, om te keer.

Die hof het dié besluit as “onwettig” bestempel, wat boonop in stryd is met vorige hofbevele.

Minister Blade Nzimande het verlede week die besluit om die universiteit onder administrasie te plaas in die Staatskoerant bekend gemaak. Hy het boonop ook ʼn administrateur aangestel.

Unisa het kort daarna die hof op ʼn dringende basis genader om die besluit om te keer.

Die hof het Woensdag bevind dat die minister se aankondiging nie net onwettig is nie, maar in stryd is met ʼn vorige hofuitspraak wat op 24 Augustus deur dieselfde hof gelewer is. Na aanleiding van dié uitspraak mag daar nie ʼn besluit rakende die administrasie van die universiteit geneem word nie, hangende die finalisering van Unisa se interdikaansoek om die onafhanklike assessor se verslag te hersien en tersyde te stel.

“Die universiteit glo dat hierdie hofbeslissing reg is, aangesien die aangeleentheid met betrekking tot die hersiening van die onafhanklike assessor se verslag, wat grootliks die grondslag van die minister se besluit gevorm het, steeds voor die hof is en nog afgehandel moet word,” sê Unisa.

Die universiteit het in dieselfde asem gesê dat hy nie in ʼn geskil met Nzimande betrokke is nie, maar dat hy slegs sy verantwoordelikheid teenoor die instelling en sy belangegroepe uitoefen deur enige onnodige ontwrigtings te verhoed.

“Die bestuur van die universiteit doen weereens ʼn beroep op personeel en studente om nie toe te laat dat die verwikkelinge in die hof hul ontspoor van hul taak om akademiese bedrywighede voort te sit nie.”

Die hof het ook die betrokke partye verlof tot appèl toegestaan om die adjunk-regter-president van die Gautengse hooggeregshof te nader vir ʼn datum en tyd vir oorweging van die kwessie van minagting.

Nzimande het kennis van die hofbevel geneem en gesê hy sal die uitspraak bestudeer “en besluit oor die volgende wettige roete om te volg”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pietertjie ·

Hier gaan ons alweer. Lyk my die Grondwet Hof moet sommer alle Regerings-verwante sake van meet af aan hanteer, sodat die spul nie rondomtalie speel soos nat wasgoed in ‘n tuimeldroër nie.

Johann ·

En so betaal ons vir die heen en weer. Ergste is “UNISA”is in sy janter in,maar die kaders het nog baie om te skep.

Sobymykoolkop ·

Die land het nie meer geld nie maar die kaders sleep mekaar hof toe met ons belastinggeld. Maak hul bbeee prokureurs ryk

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.