Hof las dat watertoevoer na skole herstel word

Argieffoto

Argieffoto

Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria het vandag in ʼn dringende aansoek wat deur AfriForum en FEDSAS gebring is, beveel dat watertoevoer na skole in Vanderbijlpark herstel word.

Volgens AfriForum is ʼn bevel toegestaan wat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit dwing om water na skole in die munisipaliteitsdistrik, te herstel.
Op 22 Junie 2014 is die skole in die distrik se watertoevoer sonder kennisgewing afgesny terwyl die leerders besig was met eksamen.

Carien Bloem, hoof van AfriForum se onderwysveldtogte, sê die regering is die eienaar van openbare skole en is dus verantwoordelik vir die betaling van dié skole se eiendomsbelasting.

“Die provinsiale departement het vir maande, en in sommige gevalle vir langer as ʼn jaar, nie die eiendomsbelasting betaal nie.

Die skole se munisipale rekenings was wel op datum, maar die munisipaliteit het die water afgesny, omdat die departement van openbare werke nie die eiendomsbelasting betaal het nie.”

“Dit is onaanvaarbaar dat skole te na gekom word as gevolg van ʼn interregeringsdispuut. Water is ʼn fundamentele reg en kan nie summier afgesny word sonder enige gronde nie. Meer as 15 000 leerders is hierdeur geraak,” sê Bloem.

“FEDSAS het AfriForum genader om in te gryp en die burgerregte-organisasie het die hof genader om die orde te herstel, aangesien dit vir AfriForum baie belangrik is om die regte van leerders te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paul Smith ·

As die ou spul nie eers vir hulle diere, soos varkies en ander, kan sorg nie, hoe kan daar verwag word dat hulle vir kinders moet omgee. Ek wonder nou onwillekeurig hoe dit met Zuma se hoendertjies gaan. Miskien moet daar ook so ‘n verrassings besoek gebring word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.