Hof lewer uitspraak in Pienaarspoort-grondbesettersaak

Argieffoto

Die sakeregtewaghond AfriSake verwelkom die hof se beslissing vandag in ’n dringende aansoek om onwettige grondbesetters in Pienaarspoort te laat verwyder. Die hofbevel bepaal dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) tesame met die plaaslike balju enige en alle onwettige okkupeerders van die grond moet verwyder met onmiddellike effek.

“Ons is verheug dat die hof in die guns van die grondeienaars beslis het. Die oppergesag van die reg het weereens geseëvier en ons sal onverwyld ons lede bystaan waar sulke vergrype plaasvind,” het Charles Castle, bestuurder van die arbeidsregsadvieseenheid by AfriSake, gesê.

Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake, het bygevoeg solank as wat AfriSake grondeienaars kan bystaan in sulke sake sal hy veg vir die beskerming van hul regte soos omskryf in Artikel 25 van die grondwet.

Hooggeregshofregter EM Kubushi het in sy uitspraak gesê ʼn groep van vyf vroue het aanvanklik op een van die plase sonder enige toestemming ʼn wendyhuis opgerig met die doel om ʼn kantoor te bedryf waaruit erwe op die verskillende plase verkoop sou word. Die eienaars van die plase het bevestig dat hulle geen magtiging gehad het om op die plaas te wees, sake te doen of enige erwe aan enigiemand te verkoop nie. ʼn Klag van betreding is daarna by die polisie aangemeld, maar die polisie kon nie enigiets doen nie. Die applikante het daarna selfs die dienste van ʼn privaat veiligheidsmaatskappy bekom, maar dit het ook nie gewerk nie, weens die hoeveelheid mense op die plaas en dat hulle gewelddadig geraak het.

Alle strukture, substrukture en boumateriaal moet gevolglik van die gronde verwyder word.

Kostes word voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

GR ·

Kom ons kyk of die strukture verwyder gaan word,hierdie mense steur hulle nie aan die wette van hierdie land nie,as hulle nie hulle sin kry brand hulle alles af…

Ai ·

Kan iemand asb vir my verduidelik hoekom die polisie “nie enige iets kon doen nie”?

As dit nie so ernstig was nie, was dit lagwekkend.

Stem saam ·

Ek stem saam, waarom kon die polisie nie help nie. Waarvoor is hulle dan daar????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.