Hof moet besluit oor aanvullende medisyne

(Foto: pixabay)

Die hooggeregshof in Pretoria hoor Woensdag ʼn saak aan waarin die vereniging vir natuurlike gesondheidsprodukte (ANHP) die regulasies wat bepaal dat aanvullende medisyne aan dieselfde standaard as konvensionele medisyne moet voldoen betwis.

Die drukgroepe Treatment Action Campaign (TAC) en Section27 sê die minister van gesondheid het ʼn plig om die gesondheid van die bevolking te beskerm deur te verseker alle soort medisyne en gesondheidsprodukte voldoen aan aanvaarbare standaarde.

TAC is ʼn vriend van die hof (amicus curiae) terwyl Section27 as sy regsverteenwoordiger optree in dié saak wat deur die vereniging vir natuurlike gesondheidsprodukte (ANHP) gebring is. Die saak teen die minister van gesondheid en die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad (SAHPRA) word Dinsdag en Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor.

Daar word gefokus op die inligting op die etikette, bemarking en die verkoop van sulke gesondheidsprodukte sodat die doeltreffendheid, gehaltebeheermaatreëls en veiligheid daarvan vir alle medisyne nagekom word.

Die ANHP het die hof in 2018 genader om die bepalings te betwis.

Die vereniging voer eerstens aan dat die Wet op Medisyne nie die minister die mag gee om aanvullende en alternatiewe medisyne te reguleer nie, omdat dit nie binne die definisie van medisyne val nie. Hy sê enige pogings om die bedryf ingevolge dié wet te reguleer is onregmatig – tensy die middels skedulebestanddele bevat of terapeutiese bewerings maak.

Die vereniging voer tweedens aan die proses wat gevolg is om die regulasies te bepaal was onbillik. Hy vra dat dit ter syde gestel word, of as alternatief dat die definisie van medisyne aangepas word sodat dit aanvullende medisyne uitsluit.

TAC en Section27 sê die hofsaak word aangehoor te midde van ʼn wêreldwye soektog na ʼn entstof teen die nuwe koronavirus wat reeds sowat 345 000 lewens geëis het.

“Die hofsaak kom op ʼn belangrike tyd met die Covid-19-pandemie wat kwaksalwers die kans gee om weer kop uit te steek.

“Ons glo sterk dat kwaksalwers nie toegelaat moet word om opregte mense, wat soek na gehalte en bekostigbare medisyne, te mislei nie,” het Sibongile Tshabalala, TAC-voorsitter, gesê.

Die departement van gesondheid en die SAHPRA staan die aansoek teen en voer aan aanvullende medisyne moet gereguleer word sodat die publiek teen vals bewerings beskerm kan word.

Dié partye sê aanvullende medisyne, in die vorm van gesondheidprodukte, kruiemedisyne en aanvullings is geredelik oor die toonbank beskikbaar en die hoeveelheid en verskeidenheid daarvan het oor die jare toegeneem. Omdat die produkte nie by die SAHPRA geregistreer of daardeur beheer word nie, kan vervaardigers en verspreiders daarvan nie vir produkte aanspreeklik gehou word nie.

Hulle ontken ook dat die proses om die regulasies te bepaal, onbillik was.

TAC en Section27 gaan in die hof aanvoer die minister het ʼn grondwetlike plig om medisyne te reguleer om verbruikers te beskerm en dat dít deur die regulasies gedoen word.

“Ons het al baie kamerade verloor weens kwaksalwers wat beweer dat hulle wonderkure het. Talle mense het geld verloor terwyl hulle kwalik liggaam en siel kon aanmekaar hou, terwyl nog ander newe-effekte weens die medisyne ondervind het. Die saak gaan heelwat doen om verbruikers te beskerm,” het Anele Yawa, algemene sekretaris van TAC, gesê.

Die organisasies sê mense het die reg om toegang tot medisyne van bewese gehalte, veiligheid en doeltreffendheid te gebruik en die staat het ʼn plig om dit te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie ·

Natuurlik sal hul dit wil beheer wnt so kan hulle die mark manupileer. Daar is honderde aanvullende medikasie wat werklik werk en die mediese raad weet dit en hulle weet ook dat hulle verloor geld want hulle wil mense reg dokter met chemiese stowwe. Die aanvullende medikasie is al oer jare beskikbaar. Waarmee het die mens homself genees. Dit is oral bekend dat plante en ander grondstowwe geneesende uitwerkings het want hoekom, omdat die groot Geneesheer self dit geskep het. Dus mediese raad hou op krap waar dit nie jik nie.

Andréas ·

Goeiedag alle MM lesers, Laat my asb my 5c kommentaar toe? Indien huidige regering nog meer wil reguleer let ernstig op die volgende en toets dan sommer alles bv:
1. Jul het rook van Cannabis gewettig. Waar is alle studies wat toon dis volgens jul nie gevaarlik of verslawend.
2. Watter skoonheidsprodukte bied bewese verjonging?
3. Watter tandepasta kan werklik gevoeligheid verlig?
4. Hoekom maklik verkrygbare produkte toelaat wat dood kan veroorsaak soos insekdoders, plaagbeheermiddels vir tuin, skoonmaakmiddels?
5. Onthou dan… Alle “sangoma’s” (en hul “muti”) moet ook gereguleer word!

Wat my wel kwel is die prys van natuurlike produkte. Waar gesien eenvoudige aanvullings en vitamiene kos in algemeen meer as voorskrif medisyne wat baie toetse/ studies moes deurstaan?

Grappender gewys, wil ANC nie reeds water ook reguleer? Te veel daarvan kan mos lei tot verdrinking…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.