Hof moet ingryp in DA-stryd tussen Zille en Selfe

Foto: Demokratiese Alliansie/Facebook

Die Wes-Kaapse hooggeregshof gaan moet ingryp in die soveelste DA-binnegeveg in die Wes-Kaap; hierdie keer tussen die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, en die voorsitter van die DA se federale dagbestuur, James Selfe.

Indringende navrae deur Maroela Media in DA-geledere het die volgende aan die lig gebring: Ter sprake is ‘n enorme stryery nadat Selfe ‘n amptelike klag teen Zille ingedien het toe sy van die standaardvrae aan DA-kandidate afgewyk en hom met ander vrae gepeper het tydens Wes-Kaapse onderhoude om parlementskandidate aan te wys.

Direk ná die onderhoud het Selfe ‘n klagte gerig aan die DA se federale voorsitter, Athol Trollip, oor die tipe vrae wat Zille aan hom gestel het. Trollip het die saak na die DA se federale regskommissie onder leiding van adv. Glynnis Breytenbach verwys.

Die bevinding van die federale regskommissie was eerstens dat die klagte voortydig was kragtens DA-regulasies omdat die uitslae van die onderhoude nog nie bekend was nie.

Tweedens – en hierdie bevinding is op nege potensiële DA-kandidate insluitend Selfe van toepassing – kan die federale regskommissie nie ‘n bevinding oor die inhoud van die klagte maak nie, omdat daardie nege onderhoude, strydig met die DA se reëls, nie behoorlik opgeneem is nie.

Ná die federale regskommissie se opinie het Zille toe die DA met regsaksie gedreig omdat sy meen haar integriteit is aangetas. Sy is verteenwoordig deur ‘n bekende in DA-kringe wat ook ‘n leidende rol in die Kaapse georganiseerde samelewingsverband speel.

Om ‘n verdere uitgerekte DA-hofstryd te vermy is toe besluit dat die nege persone, die federale regskommissie en Zille ooreen sal kom om die federale regskommissie se bevinding tersyde te stel en die nege onderhoude behoorlik oor te doen.

Hiervoor is daar kragtens die DA se grondwet egter ‘n hofbevel nodig – wat nou sonder teenstand in die Wes-Kaapse hooggeregshof verkry moet word.

Die gevolge van die hele gemors is dat die DA se kandidaatprosesse in die Wes-Kaap nou vertraag word totdat die hofbevel verkry en die nege onderhoude behoorlik oorgedoen kan word.

By navraag het die DA se nasionale woordvoerder, Solly Malatsi, geweier om die besonderhede van die saak te bespreek. “‘n Klagte is oor die kwessie ontvang en dit is deur die federale dagbestuur bespreek. ‘n Ooreenkoms is bereik waarvolgens alle tersaaklike onderhoude oorgedoen sal word in belang van regverdigheid aan alle betrokke partye. Alle partye betrokke stem saam met hierdie benadering,” het Malatsi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Ja Nee ·

Die DA volg ook in die voetspore van die anc. Hulle het my stem verloor, net blaf en geen byt nie.

Irma ·

Die onderlinge stryery het my en my man weer laat kyk na ‘n party waarvoor ons id komende verkiesing kan stem, en ongelukkig lyk dit nie vir ons na die DA nie. In my loopbaan het ek die voorreg gehad om met ‘n persoon tedoen te kry wat ook niks in sy pad laat staan het om sy sin te kry nie. Nie weer nie. Dit is onsmaaklik. Gelukkig kan ons nou mooi sien wie is wie.

bollie ·

By verre nie so erg soos VF+ se Peter Marais aanstelling nie. LOL

Adam ·

Ek wil graag voorstel dat ons die DA se bestuur in ‘n kleuterskool plaas sodat hulle na hartelus aan mekaar kan ruk en pluk. Ek is bereid om die skoolfooie te betaal, want die klomp narre kan nie langer sonder volwasse toesig op die strate toegelaat word nie.

VanGoch ·

Die DA maak my moeg! Is hulle geheel en al onkapabel om interne konflik op ‘n volwasse manier deur middel van onder handling, by te lê? Dit is tog wat gesoute politieke party en politic doen in ‘ n moderne demokratiese samelewing. Hulle stel ‘n swak voor voorbeeld aan mede-landsburgers, vervreem hulle ondersteuningsbasis en ongetwyfeld is die voortdurende onbeholpe onderlinge gevegte in die DA se besluitnemingskomitees, geen aansporing vir moontlik nuwe lede onder veral die jongmense nie. Grow up DA or face a humiliating defeat at the ballot box in 2019….WTF! You are exasperating!

jaco ·

Lekker né. Mev Zille weet ook sy kan sê en doen nes sy wil, maak nie saak watse gevolge haar dade vir ons wit mense het nie. Sy kan deur albei haar oupas Duitse burgerskap kry, so as dit regtig sleg gaan met wit mense in SA, kan sy maklik net verdwyn Duitsland toe. Mense met sulke lekker “agterdeure” moet eerder uit die politiek bly.

Andre ·

Koebaai DA . Julle domastrandheid gaan veroorsaak dat julle nie in enige van die Metro’s gaan hond haarafmaak nie.
Julle speel reg in die ANC se hande.

Melanie ·

Nadat ek hierdie berig gelees het, wonder ek of die DA nog sal deelneem aan die algemene verkiesing. Indien wel, sal al die leier-figure by hulle onderskeie stemlokale met verbande, bloedneuse, krukke, ens opdaag. Daardie dag sal hulle so besig wees om mekaar die stryd aan te sê dat die anc en eff die dag terdee sal geniet. DA is besig om by die dag duisende stemme te verloor.

Gustav ·

Die da (kleinletters met opset) leierskap is grootmense tussen kinders en kinders tussen grootmense.

Johanna ·

Da kom asb by. Julle tyd word min voor die verkiesing. Probeer eerder stemme werf!!!

HARTSEER ·

Almal sit die pot mis. Sy sien en hoor dinge wat nie bekend gemaak word nie en dit laat haar dus geen keuse om so op te tree nie. Sy weet haar dae is getel (juis omdat sy vir die haar mede- mens omgee) dus probeer sy nog dinge regruk al kos dit wat. Haar mede-kollegas hou nie hiervan nie.

Letitia B ·

Nee a! Word groot. Hulle speel absoluut in die hande van die ande partye!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.