Hof moet sê oor rekenaarregte vir gevangenes

(Grafika: Lisa Nelson/GroundUp)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die appèlhof sal later vanjaar argumente aanhoor oor die kwessie of gevangenes toegelaat mag word om hul persoonlike skootrekenaars in tronkselle vir studiedoeleindes te gebruik.

Die gebruik van skootrekenaars deur gevangenes wat verder studeer word tans in aanhoudingselle verbied.

Twee regters het egter in vorige sake beslis dat dié verbod onbillik, ongrondwetlik en diskriminerend is. Dit sluit in die saak van die voormalige Boeremag-lede dr. Lets Pretorius en sy twee seuns.

Dié uitsprake is nou op appèl geneem deur die minister van justisie en korrektiewe dienste, die nasionale kommissaris en die onderskeie hoofde van die betrokke tronke.

Die regering voer aan dit skep ʼn sekuriteitsbedreiging aangesien gevangenes internetmodems in hul selle kan insmokkel of met die hulp van onwettige selfone aan die internet kan koppel.

Regslui vir Menseregte, wat namens die gevangene Mbalenhle Sydney Ntuli optree, sê dié saak is gemoeid met gevangenes se reg tot toegang tot onderwys, wat ʼn beduidende rol speel in hul rehabilitasie en voorbereiding vir hertoetrede tot die samelewing.

Ntuli het in September 2019 ʼn bevel in die Johannesburgse hooggeregshof  bekom om sy persoonlike skootrekenaar, sonder ʼn modem, in sy enkelsel te gebruik solank hy ʼn geregistreerde student bly.

Ntuli dien tans 20 jaar tronkstraf uit vir roof, maar is geregistreer vir ʼn dataverwerkingskursus by die Oxbridge-akademie.

Ntuli is aanvanklik toegelaat om sy persoonlike rekenaar in sy sel te gebruik om te studeer, maar nadat hy na ʼn ander afdeling van die gevangenis oorgeplaas is, is daar aan hom gesê dat hy in die rekenaarsentrum moet studeer.

Ntuli se beswaar was dat hy slegs vir ses uur per dag buite sy sel toegelaat was, waartydens hy moes stort, eet en sy wasgoed was. Aangesien die rekenaarsentrum net vir beperkte ure oop was, het dit sy studietyd beperk.

Ntuli het ook aangedui dat die rekenaarsentrum raserig is.

Waarnemende regter Molefe Matsemela het eindelik in Ntuli se guns beslis.

“Gevangenes moet aangemoedig word om verdere opleiding te bekom. Waar die doel van vonnisoplegging voorheen hoofsaaklik op die straf gemik was, is die belang van rehabilitasie nou op die voorgrond. Dit is immers in die belang van die samelewing dat oudgevangenes ten volle in die samelewing kan funksioneer,” het Matsemala gesê.

ʼn Soortgelyke bevinding is gemaak in die saak van Pretorius en sy twee seuns, Johan en Wilhelm Pretorius.

Maroela Media het vroeër berig die hooggeregshof in Johannesburg het beslis dat die pa en seuns hul skootrekenaars sonder ʼn modem vir studiedoeleindes kan gebruik.

Hierdie vergunning geld solank hulle geregistreerde studente by ʼn erkende tersiêre instelling is.

Die regering voel egter die uitsprake het “die sluise oopgemaak” sonder om behoorlike oorweging te gee aan die veiligheidskwessies en hoe prakties dit vir korrektiewe beamptes is om rekenaargebruik te monitor, veral in gemeenskaplike selle.

ʼn Datum vir die aanhoor van die appèl moet nog vasgestel word.

Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.