Hof pootjie Caster se 800m-hoop

Caster Semenya (Foto: Reg Caldecott/ANA)

Caster Semenya se hoop om haar titel in die 800 m by vanjaar se Wêreldkampioenskap te verdedig, is uitgedoof nadat ʼn Switserse hof ʼn tydelike beslissing, wat haar toegelaat het om aan internasionale byeenkomste deel te neem sonder testosteroon-onderdrukkende middels, omgekeer het.

Semenya (28) is al geruime tyd in ʼn hofgeding gewikkel met die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) oor reëls wat haar dwing om middels te neem wat haar natuurlike hoë testosteroonvlakke teenwerk. Dinsdag het ʼn regter van die Switserse federale hooggeregshof ʼn vorige hofuitspraak wat in Junie gemaak is omgekeer. Dié uitspraak het die IAAF se reëls tydelik uitgegooi hangende die uitkoms van Semenya se appèlsaak voor die hof vir sportarbitrasie (CAS).

Semenya, Suid-Afrika se steratleet, is wetlik geklassifiseer as vrou en het haar hele lewe as vrou grootgeword. Sy is gebore met XY-chromosome wat veroorsaak dat sy manlike en vroulike biologiese eienskappe toon en haar liggaam se testosteroonvlak hoër is as dié van die gemiddelde vrou. Die IAAF voer aan dat atlete met Semenya se toestand “biologies manlik” is, ʼn term wat Semenya as “uiters kwetsend” bestempel.

“Ek is baie teleurgesteld dat ek daarvan weerhou word om my hardverdiende titel te verdedig, maar dit sal my nie kniehalter in my stryd om te veg vir die menseregte van alle vroueatlete nie,” het Semenya in ʼn verklaring gesê.

Semenya was al twee keer Olimpiese kampioen in die 800 m, insluitend in 2012 toe sy hormoononderdrukkers gedrink het, wat sy sê newe-effekte soos gewigstoename, naarheid, maagpyn en koors meegebring het. Die jongste beslissing beteken sy mag nie in enige item van die 400 m tot die 1 500 m deelneem nie.

Die Wêreldkampioenskap vind van 28 September tot 6 Oktober in Doha, Katar, plaas.

Argieffoto van Caster Semenya en haar regsverteenwoordiger Gregory Nott. Foto: (Laurent Gillieron/Keystone via AP)

Semenya het bevestig dat sy nie weer middels sal neem om haar testosteroon te onderdruk nie en het gesê sy sal dan oorskakel na kortafstande of veel langer afstande as sy nie in die 800 m mag deelneem nie.

In April het die CAS die IAAF se regulasies rondom Semenya se toestand, bekend as “verskil in geslagsontwikkeling”, gehandhaaf. Semenya het haar tot die Switserse federale hof gewend wat beperkte mag het om die CAS se besluit te hersien.

Die hof het bevind Semenya se appèlsaak is nie deeglik gegrond nie, onder meer omdat die hof gebind is aan die CAS se bevinding dat Semenya se mediese toestand ʼn direkte impak op prestasie in sport het wat nooit deur ander vroue vermag kan word nie.

Dorothee Schramm, die prokureur wat Semenya se appèlsaak lei, het Dinsdag gesê die besluit is ʼn terugslag, maar nie ʼn nederlaag nie. “Die regter se prosedurele besluit het nie ʼn impak op die appèl self nie. Ons sal voortgaan met die appèlsaak en veg vir Caster se fundamentele menseregte,” het Schramm gesê.

“’n Wedloop word eers by die eindstreep beslis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Schalk ·

Bleikbaar is daar baie geslagte of wat jy hulle wil noem.Kategoriseer soos by gestremde spele en siedaar almal kan deelneem.Ai mense en vroue regte moviese vraagteken.Verstaan nie weet nie wanneer deur wie sy aangestel is nie .Die pos is nie adverteer nie.

SjN ·

Ons regstelsel kan gerus iets gaan leer by die Switserse howe, stem nie saam met die stelling van n ster atleet nie, vergelyk n slag appels met appels.

Francois Van Den Bergh ·

Dit is nie die hof wat haar keer nie , dit is sy self. Daar is reels en sy moet dit net gehoorsaam. Sy moet haar hormoon vlakke bring ooreen stemend met ander deelnemers soos wat dir reels bepaal. Wil sy n vrou wees? Dan moet sy dienooreenkomstig doen en wees soos ander vrouens.

Valerie ·

Hoop Caster kry die boodskap uiteindelik en verdwyn van die toneel af. Dit was van die begin af ‘n sirkus. Nie Caster se skuld, maar Caster moet begin verstaan hoe dinge werk. Dit raak nou erg irriterend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.