‘Hof red waar politiek misluk’ – regskenners

Die hooggeregshof in Johannesburg. (Foto: Christel Cornelissen)

Suid-Afrikaners wend hulself al meer tot die hof eerder as die land se politici of die parlement om samelewingsprobleme op te los. Dit is omdat die politiek die land gefaal het. Só het ʼn uitgelese paneel bestaande uit vier van Suid-Afrika se voorste regskenners op die Woordfees in Stellenbosch gesê.

ʼn Paar honderd mense het gestroom na die gesprek tussen die voormalige Openbare Beskermer, prof. Thuli Madonsela, oudregter Johann Kriegler en regter Dennis Davis, regterpresident van die kompetisie-appèlhof. Die gespreksleier was prof. Andreas van Wyk, oudrektor van die Universiteit Stellenbosch, en die gesprek het gegaan oor “lawfare” – die nuwe gewoonte van Suid-Afrikaners om hof toe te gaan oor kwessies wat voorheen buite die hof beslis is.

Davis het afgeskop met die stelling dat lawfare, of dan regsoorloë, oral in die wêreld toeneem, en dat dit die noodwendige toevlug is wanneer die politiek onderpresteer. Madonsela het hierby aangesluit met die mening dat die Suid-Afrikaanse grondwetlike demokrasie so ontwerp is dat die drie sfere van die staat mekaar moet ondervang – as die uitvoerende gesag (die regering) droogmaak, moet die regsprekende gesag (die howe) hulle tot verantwoording roep, en as die regbank te werklikheidsvreemd of elitisties begin raak, is dit die wetgewende gesag (parlement) wat hulle moet in toom moet hou.

“Die howe is ook nie perfek nie. ʼn Mens kom byvoorbeeld dikwels ʼn kommerwekkende klasvooroordeel teë,” het Madonsela gesê.

Kriegler het gesê een van die groot probleme tans met die regstelsel is die funksionering van die RDK, die regterlike dienskommissie (wat regters aanstel en dissiplineer), soos die versuim om op te tree teen die Kaapse regterpresident, regter John Hlophe, duidelik toon.

Davis het saamgestem met Van Wyk se stelling dat die funksionering van die RDK veel te wense oorlaat, spesifiek omdat dit soveel politieke aanstellings insluit dat die ANC as regerende party amper kan aanstel wie hy wil.

Hulle kan ook briljante mense soos advokate Geoff Budlender en Jeremy Gauntlett van regtersaanstellings ontneem, tot nadeel van die land, het Davis uitgewys.

Kriegler en Davis het ʼn ander belangrike punt onderliggend aan die ontwerp van ons grondwetlike demokrasie gemaak: Die howe kan die demokrasie help verdedig, maar uiteindelik berus die verdediging van die demokrasie by die bevolking (die kiesers).

Madonsela het bygevoeg dat die regstelsel probleme het, maar beslis nie gebreek is nie, wat Van Wyk toegelig het met die argument dat regters menslik en dus feilbaar is.

ʼn Aspek waaroor die paneel met lede van die gehoor saamgestem het, is dat die regstelsel te stadig funksioneer. Hieroor het Davis opgemerk dat die reg op appèl te maklik deur Suid-Afrikaanse howe toegestaan word. “As dit afgeskaal word tot ʼn moeilikheidsgraad (vir appèlle) vergelykbaar met dié van Brittanje, sal geregtigheid vinniger geskied.

“Ook vir ʼn sekere voormalige staatshoof uit KwaZulu-Natal,” het die paneel bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
henndrik

Ek stem saam met die gesprek. Ek voel egter dat die regsprekende gesag wel ook in ‘n mate gekaap is deur die ANC. Die demokrasie is wel by die bevolking maar die bevolking is meestal nie geskoold genoeg om dit te begryp nie.

Johan Venter

Ek stem tot ‘n mate saam, maar verseker nie betreffende uitsprake wat Afrikaans en witmense aan betref nie, veral die Grondwethof laat mens nie die riel dans of handeklap nie. Dis asof hulle ook maar al te graag polities terwilleuitsprake gee en opsigself dra dit nie tot goeie rasseverhoudinge by nie, dit laat maar ‘n uiters bitter smaak op die tong wat mens laat wonder: “Hoe het ons tot daar gekom?”

Vrystater

Die ANC kom uit ‘n agtergrond van kommunisme, wat hulle as hulle leidende lig gekies het om met ‘n verskuilde revolusie mag oor belastinggeld te bekom. Slagspreuke soos “Weg met Apartheid en Kolonialisme,” is tipies revolusionêre strategie en propaganda om met intimidasie beheer oor te neem oor bestaande bates en fondse, waarvoor ander hard gewerk het vir die skep van ‘n suksesvolle ekonomie. Die ANC se sg. demokratiese verkiesing is vreemd aan die Afrika-kultuur, waar die fisiese mag van die sterkste steeds geld en vergeld. Maar die demokrasie is op onafhanklike ondersoek, bewyse, bevraagtekening, wet en orde, standaarde, prosedures, billikheid… Lees meer »

Jaco

Voordat almal nou bly ra: onthou net dat die wit boere in Zimbabwe ook die howe gebruik het om onteiening sonder vergoeding te keer. Uiteindelik het president Mugabe eenvoudig daardie regters wie se uitsprake teen onteiening was, afgedank en met regters vervang wat konsekwent Mugabe se beleid nagepraat en uitgevoer het. Presies dieselfde gaan in SA gebeur.
Ek sien dit reeds met ligte vonnisse vir swart en wit mense wat wit mense vermoor. So asof die vonnis vir die moordenaars wil sê: dankie dat julle “gehelp” het om die wit mense te verminder.