Hof se besluit oor Zuma ‘uiters vreemd’

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. (Foto: AfriForum)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om voorbereidings te tref om as vriend van die hof toe te tree tot oudpres. Jacob Zuma se hofaansoek wat op 12 Julie in die Konstitusionele Hof aangehoor word.

Maroela Media het vroeër berig dat die land se hoogste hof die voormalige staatshoof Dinsdag tot 15 maande tronkstraf gevonnis het vir minagting van ’n hofbevel om voor die Zondo-kommissie na staatskaping te getuig.

Die Konstitusionele Hof het intussen ingestem om Zuma se dringende aansoek vir die tersydestelling van sy skuldigbevinding en vonnis aan te hoor, wat beteken dat die bevel dat Zuma hom teen Sondag by die Nkandla- of Johannesburg-Sentraal-polisie moet aanmeld om sy vonnis te begin uitdien, vir eers agterweë bly.

Zuma voer aan dat hy nie ’n geleentheid gegun is om getuienis ter versagting van sy vonnis te lewer nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die spesiale behandeling wat Zuma tans van die hof ontvang, is ’n skending van die beginsel dat almal gelyk voor die reg hanteer moet word.

Die organisasie is voorts van mening dat Zuma se aansoek om sy skuldigbevinding ter syde te stel nie aan die bepalings van reël 42 van die hofreëls, waarop hy sy aansoek grond, voldoen nie, aangesien sy afwesigheid tydens die verhoor weens sy eie toedoen was.

“Dit is uiters vreemd dat die Konstitusionele Hof ingestem het om die saak aan te hoor.”

Boonop, sê Kriel, sou ’n gewone landsburger geensins daarin kon slaag om dieselfde vergunning as Zuma voor die howe te kry nie.

“Dit is daarom in belang van elke gewone landsburger dat AfriForum toetree om standpunt in te neem ter beskerming van gelykheid voor die reg.

“Waar die Konstitusionele Hof se aanvanklike uitspraak teen Zuma wyd geloof is as ’n oorwinning vir die beginsel van gelykheid voor die reg, het die jongste verwikkelinge ernstige skade aan die geloofwaardigheid van die regbank aangerig.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

53 Kommentare

jongste oudste gewildste
Strandloper

Mooi AfriForum gee hom opdraende hy het lank genoeg weggekom met bykans moord!

Boerkind

Suid Afrika is een groot bedrogspul as gevolg van die ANC se totale onbevoegdheid en oorweldigende korrupsie in alle vlakke van die samelewing!! Was dit nou ‘n wit persoon… hulle mag nie eens Toerisme Covid-hulp ontvang nie. En wat sê die res van die doodstil wêreld??

Pieter

Die land se regstelsel is een groot grap net soos die ANC.

Mieke

Natuurlik kon mens niks anders verwag nie!

Ovelia

Hy sal so min tronk toe gaan..