Hof se bevinding oor R11 miljoen ‘buitensporig’ – Hlaudi

Hlaudi Motsoeneng. (Foto: Facebook/ Hlaudi Motsoeneng)

Hlaudi Motsoeneng, omstrede voormalige bedryfshoof van die SAUK, het ʼn onlangse hofbevel dat hy miljoene aan die SAUK moet terugbetaal as “buitensporig” bestempel.

Die Gautengse hooggeregshof het onlangs bevind dat die “suksesbonus” van meer as R11 miljoen wat die SAUK in 2016 aan Motsoeneng uitbetaal het, onreëlmatig en onwetlik was. Hy moet nou dié geld, met rente, aan die SAUK terugbetaal.

Hlaudi voer nou aan dat hy wel die geld verdien het deur sy “buitengewone bydrae” aan die SAUK en dat hy in die eerste plek nooit die volle R11,5 miljoen ontvang het nie.

“Gedurende my tyd as bedryfshoof het ek ʼn merkwaardige bydrae tot die openbare uitsaaier gemaak, waaruit die uitsaaier vandag steeds voordeel trek. Ten spyte hiervan blyk daar ʼn obsessie met my mislukking te wees,” het Motsoeneng in ʼn verklaring gesê.

Hy noem ook dat die SAUK in sy termyn as bedryfshoof meer finansieel stabiel was en werk geskep het, teenoor die huidige situasie waar die uitsaaier mense afdank. “In plaas daarvan dat ek vereer word vir my bydrae, word ek nou gestraf en tot booswig gemaak.

“Die regter is ook onredelik om van my te verwag om R11,5 miljoen terug te betaal, aangesien ek in die eerste plek slegs R6,7 miljoen van die SAUK ontvang het,” sê Motsoeneng nou.

Hy hou ook vol die SAUK se raad het die uitbetaling gemaak op grond van die motivering wat voor die raad gedien het en dat die besluit dus geoorloof was.

Hy het reeds sy regspan opdrag gegee om aansoek te doen om die hof se bevinding te appelleer.

“Ek het nooit geld van die SAUK gesteel nie. Ek is bloot deur my base betaal, in erkenning van die goeie werk wat ek gedoen het. Ek is nie spyt oor enige besluit wat ek as die bedryfshoof van die SAUK geneem het nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.