Hof sê later oor afleggings by Barloworld

(Foto: Unsplash)

Uitspraak in die saak wat Solidariteit namens sy lede teen Barloworld Equipment Suid-Afrika voer, is Dinsdag in die arbeidshof voorbehou. Solidariteit het hom dringend tot dié hof gewend om afleggings – wat hy as gegrond op ras bestempel – te stuit. Die regstappe volg nadat sekere werkers se dienste vanaf 16 September beëindig is. Solidariteit sê dit is gedoen ná die toepassing van onwettige, rasgebaseerde seleksiekriteria.

Die metaalwerkersvakbond Numsa het hom intussen in ʼn afsonderlike saak ook tot die arbeidshof gewend.

Solidariteit het in sy saak aangevoer die seleksiekriteria, soos toegepas deur Barloworld, is na sy mening onbillik en diskriminerend. Volgens Solidariteit is daar nie aan die vereistes vir ʼn afleggingsproses voldoen wat betref beraadslaging oor billike en objektiewe seleksiekriteria nie en hy voer aan onwettige kriteria kan nooit billik en objektief wees nie.

Solidariteit het die hof gevolglik gevra om die proses op te skort en partye te dwing om na die onderhandelingstafel terug te keer.

“Die rede vir werkgewers se toepassing van ras as seleksiemaatstaf blyk niks minder as die najaag van die ANC-regering se rasbehepte klassifikasie vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) te wees nie,” sê Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van metaal- en ingenieurswese by Solidariteit.

Barloworld voer in die hof aan hy het genoegsaam oorleg gepleeg en het ook voorstelle van vakbonde oorweeg. Hy sê voorts sy kriteria diskrimineer nie onbillik teen wit werkers nie en dat hulle dus nie buite verhouding teenoor ander werknemers afgedank word nie. Barloworld vra die hof ook om die dringende aansoek van die hand te wys.

Venter sê Solidariteit verwerp dié mening omdat die voorgestelde kriteria bloot voorgehou is en geen poging tot konsultasie om konsensus te bereik, plaasgevind het nie.

“Verder het Solidariteit voorbeelde aan die hof voorgelê van lede wat afgelê is waar dit blyk dat hulle selfs met dekade lange diens hul werk weens transformasie kwyt is. Konsultasie oor seleksiekriteria vorm deel van die afleggingsproses en kan nie omseil word nie. Solidariteit staan bankvas agter sy lede en sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat regverdige en behoorlike prosesse en prosedures gevolg word,” het Venter gesê.

Die metaalwerkersvakbond het Dinsdag ook die konsultasieproses as gebrekkig bestempel en gesê alternatiewe vir afleggings is boonop nie oorweeg nie.

Phakamile Hlubi-Majola, woordvoerder van Numsa, sê tientalle werkers is reeds afgelê en dat die vakbond geen benul het hoeveel mense uiteindelik hul werk gaan kwyt wees, óf wie hulle is nie.

Numsa het ook in die hof aangevoer daar was nie ʼn behoorlike konsultasieproses nie en geen konsensus oor watter kriteria gebruik word om oor afleggings te besluit nie. “Die maatskappy het geweier om belangrike inligting oor die proses, soos die name, ouderdomme, vaardighede en dienstydperk van moontlik geraakte werkers bekend te maak. Die inligting is belangrik om die doeltreffende deelname van vakbonde aan die proses te verseker,” het Hlubi-Majola gesê.

Volgens die vakbond kan hy sonder hierdie inligting nie sy lede behoorlik van raad bedien oor kwessies soos alternatiewe tot aflegging, of om lede vir werksonderhoude te help voorberei nie.

“Die maatskappy het werkers ingeroep om deel te neem aan onderhoude sonder dat hulle geweet het vir watter posisies hulle ʼn onderhoud doen, wat die werksbeskrywing is, watter vaardighede benodig word en watter kriteria tydens die onderhoudproses gebruik word.”

Hlubi-Majola sê die maatskappy het ook geweier om sy beskikbaar te stel, ten spyte daarvan dat hy aanvoer ʼn afname in aanvraag, verkope en ou bestellings is een van die primêre redes vir die afleggings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Persheks Adri ·

Dis in die arbeidswet dat niemand teen jou mag diskrimineer nie ongeag. Kom Solidariteit doen wat julle moet en wys die regering wat dink ons van hulle rassisme!

Hulle reëls maak naar verby en hulle pas als aan soos dit “our people” pas

Loop tsek man

Nie Verbaas ·

30% plus geforseerde BEE = totale ekonomiese ineenstorting. Staatsentiteite die onbetwisbare bewys.

Genis ·

Ek het amper 20 jaar vir Barloworld gewerk. Dit was n maatskappy onder Tony Phillips, en Clive Thomson om op trots te wees… Sederdien word wittes geintimedeer, afgele en benadeel.. Mens kan ook sien hoe alles agteruit gaan, en daar is nou kaders in bestuursposte wat gin mens voorheen van gehoor het nie… Barloworld gaan die selfde pad loop as die SOE’s.. merk my word.. So gaan alles tot niet…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.