Hof sê later oor verbod op kerkdienste

kerk-banke

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die hof sal eers later sê of ʼn verbod op kerkdienste wel as ongrondwetlik en onwettig verklaar moet word.

Burgerregte- en godsdienstige organisasies se saak teen die regering oor die verbod op godsdienstige byeenkomste is vandeesweek in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg aangehoor. Die uitspraak in die saak is voorbehou. Dit terwyl die bedreiging van ʼn vierde Covid-19-vlaag oor Suid-Afrikaners se koppe hang.

Freedom of Religion South Africa (FOR SA) se saak is vroeër vandeesweek vir drie dae gelyktydig saam met dié van AfriForum, Solidariteit Helpende Hand, die Begrond-instituut, die Moslem-prokureursvereniging (MLA) en ander organisasies aangehoor.

Die verbod op hierdie byeenkomste is verlede jaar tydens die algehele inperking ingestel om die verspreiding van Covid-19 te beperk. Hoewel die verbod intussen aangepas is om kerkdienste gedeeltelik toe te laat, meen talle partye dit behoort as onwettig en ongrondwetlik verklaar te word sodat dié drakoniese maatreëls nie op ʼn latere stadium weer ingestel kan word nie.

“Ons voel positief oor ons saak en is oortuig van ons argumente se basis in realiteit en redelikheid,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“AfriForum hoop om uitspraak te ontvang voordat die regering weer ’n wrede, irrasionele verbod op godsdienstige byeenkomste instel.”

FOR SA het ook gesê hy is tevrede met hoe hy sy saak in die hof aangebied het.

“Al is dit moeilik om te voorspel in wie se guns die saak sal gaan, is ons tevrede met die saak wat ons, en dié van die miljoene mense in Suid-Afrika wat glo dat dit noodsaaklik is vir gelowiges om saam in tye van krisis te kan ontmoet, gestel het.”

FOR SA het reeds vroeër vanjaar ʼn saak teen die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, gemaak en eis dat godsdienstige leiers as noodsaaklike werkers tydens ʼn afsonderingstydperk, nou en in die toekoms, verklaar word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christina ·

Ek stem saam dat Geestelike werkers se werksaamhede as noodsaaklike diens verklaar moet word. Daar is groot nood in ons staat hospitale vir besoeke van Geestelike werkers.

Janee ·

En sou kerkdienste verbied word, dan het die slang weereens in sy doel geslaag…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.