Hof sê of ‘kleinhoewe-martelaars’ se verhoor voortgaan

‘n Skermskoot uit die video.

Uitspraak is Woensdag gelewer in ses mans, wat daarvan aangekla word dat hulle Floris Johannes Kruger (60) op ʼn kleinhoewe gemartel en vermoor het, se aansoek dat die saak teen hulle gestaak word.

Die ses beskuldigdes se regsverteenwoordiger het verlede maand ʼn aansoek by die hooggeregshof in Port Elizabeth ingedien om die saak teen hulle – wat al vir sewe jaar lank sloer – te staak. Regter Dayalin Chetty het egter Woensdag in sy uitspraak bevind die mans probeer nou voordeel trek uit die afsterwe van regter Bonisile Sandi wat aanvanklik die saak aangehoor het en vroeër vanjaar oorlede is.

Die mans sal dus nou in aanhouding bly terwyl hul verhoor vir die tweede keer aangehoor word. Ná regter Chetty Woensdag sy uitspraak gelewer het, het die beskuldigdes egter geweier om voor die nuwe verhoorrregter, Irma Schoeman, te verskyn. Hulle het gesê hulle wil hul prokureurs in die pad steek en sal nie weer in die hof verskyn nie.

Ná baie verset het hulle uiteindelik voor Schoeman verskyn, maar gesê hulle sal nie vir die verhoor opdaag nie. “Daar is meganismes in die strafproseswet wat voorsiening maak vir die verhoor om aan te gaan sonder die teenwoordigheid van die beskuldigdes; dit is egter tot julle voordeel as julle hier is,” het Schoeman gesê.

Khangelani Matebe, Luyanda Nkolose, Mzuvukile Foli, Fuzile Kosana, Athenkosi Mtshayisa en Fundile Nqwensu is in aanhouding nadat hulle Kruger glo in Augustus 2010 op sy kleinhoewe naby St Albans in Port Elizabeth vermoor het.

Die beskuldigdes het na bewering by Kruger se huis ingebreek, sy huis geplunder en hom deur die loop van die aand aangerand. Sy liggaam is die volgende dag met steekwonde aan sy arms en rug langs ʼn grondpad aangetref. ʼn Nadoodse ondersoek het bevind hy is uiteindelik dood weens ʼn koeëlwond aan sy kop.

Die ses staan tereg op aanklagte van moord, ontvoering, huisbraak, huisroof en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nita ·

Die wiel van geregtigheid draai gans te stadig in ons land. Dit laat toe dat boewe soos hierdie vrygelaat word om hulle duiwelswerk voort te sit.

al ·

En natuurlik is die beskuldigdes arrogant. Hoeveel keer het die beskuldigdes die saak laat sloer teen hulle?

goga ·

Van wanneer af besluit moordnaars of hulle in die hof verskein of nie .. hulle het moord gepleeg ..

Manna ·

Hierdie saak sloer te lank. Dis alles deel van vertraging aksie wat somimge mense in ons samelewing vervolmaak het. As hulle wit was ,was saak binne 7 maande of korter af gehandel. Daar is volksmoord op wit mense. Kriminele word beskerm deur belagliķe wetgewing. ANC het nie politieke wil om misdaad te bekamp.

pietie ·

Daar is sekerlik regsgronde om hul te verplig om in die hof te verskyn.

Swannie ·

Enige persoon mag in “absentia”verhoor word indien hy/sy weier om aan die verhoor deel te neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.