Hof sê of Motsoeneng moet betaal

Hlaudi Motsoeneng. Foto: Juran van den Heever

Die arbeidshof in Johannesburg het beslis dat Hlaudi Motsoeneng, die SAUK en Simon Tebele aanspreeklik gehou word vir die onregmatige afdanking van die SAUK 8 verlede jaar.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se sentrum vir billike arbeidspraktyke, is hierdie uitspraak ʼn oorwinning vir elke Suid-Afrikaner. “Hierdie oorwinning is nie net ons oorwinning nie; dit is elke Suid-Afrikaner s’n. Dit onderstreep die nodigheid dat staatsamptenare, ongeag hoe hoog en magtig hulle hulself ag, aanspreeklik gehou moet word vir hul besluite.

“Dit bevestig ook die basiese beginsels van deursigtigheid en verantwoording, soos uiteengesit in die Grondwet. Ons is verheug oor die uitspraak, wat ook as presedent sal kan dien teen soortgelyke staatsamptenare,” het Van der Bijl gesê.

Die uitspraak beteken dat Motsoeneng, omstrede voormalige bedryfshoof van die SAUK, Tebele, die voormalige waarnemende hoof van nuus by die SAUK, en die openbare uitsaaier elk ʼn gedeelte van die regskoste moet betaal rakende die onregmatige afdanking van die SAUK 8 in Julie verlede jaar.

Die kostebevel-aansoek het gekom nadat die SAUK 8 suksesvol was in hul hofaansoek om hul afdanking deur die openbare uitsaaier teen te staan. Hulle is afgedank nadat hulle Motsoeneng se opdrag teëgegaan het dat geen gewelddadige betogings op die uitsaaier se platforms uitgesaai mag word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Estelle ·

Baie geluk, Solidariteit, julle het hard gewerk aan hierdie saak.

alida ·

Mooi so !!!! Kry vir jou. Hy het mos gedink hy is verhewe bo die wet. Dit sal ‘n stywe rekening wees maar hy het mos nie ‘n probleem nie hy het dan miljoene bonus gekry of gevat!!!!

Speedguard ·

Wat is ‘n gedeelte van die kostes ? Word dit in die uitspraak gestipileer dat hul die koste in hul persoonlike hoedanighede moet betaal?

Piet Snot ·

Gewoonlik bepaal so ‘n bevel dat die partye gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik is vir die volle bedrag, die een om te betaal die ander om vrygeskeld te word. Dit gee die wenner die voorreg om elkeen vir die volle bedrag aan te spreek.
Sodra een dan betaal, word sy pellies vrygeskeld (teenoor die wenner). Hulle moet mekaar dan onderling weer aanspreek om seker te maak elkeen betaal gelyk – maar dis nie die wenner se probleem nie.
Lieflike uitspraak.

piper ·

daai rooi ogies is hierdie keer van huil. dis van die gehuil oor die geld wat hy moet betaal. mooi so. my tone krul van lekkerkry.

o ·

En wie gaan toesien dat dit wel betaal word? Gaan een of ander finansiele instansie weer instaan vir die kostes?

alida ·

Die rekening sal nou eers getakseer word en indien hy nie betaal nie kan ‘n Lasbrief vir Eksekusie uitgereik word. Die Balju kan dan op sy persoonlike bates beslaglê en dit per veiling verkoop.

Eish ·

Kry vir jou bietjie van die gebroke miljoene sindroom . Dis n skande soos die man aangegaan het met professionele joernaliste!

Afrikaanse Knaap ·

As ou Hlaudi graad 8 deur gekom het, sou hy seker hierdie basiese beginsels kon verstaan.

Darem het mens nie ‘n graad nodig om jou skuld terug te betaal nie, net soos jy nie ‘n graad nodig het om in SA net op te daag vir jou CEO pos en ‘n pophuis vol geld betaal word nie.

thelsa ·

Ek dink Hlaudi Motsoeneng het ‘n groter kans om swanger te raak as wat hulle die geld uit hom uit gaan kry. Goeie oorwinning maar dis ‘n hol oorwinning as iemand dink daar gaan enige betaling uit voortspruit.

Soekie ·

…en wie gaan toesien dat hy dit betaal. Gaan maar net weer wegkom daarmee, soos wat hulle met alles wegkom!!!

Soekie ·

Soekie, sulke negatiewe kommentaar maak my wielietjies pap. Nee a!

antie ·

Sal seker nou weer appeleer dat die biesies bewe en so die saak rek soos al die ander wat skuldig bevind word. Mors net die belastingbetalers se geld op n gruwelike wyse.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.