Hof sê oor borgtog vir oudpolisieman

Francis oorhandig sy goue horlosie aan ‘n familielid. Foto: ANA.

ʼn Voormalige polisiekonstabel wat skuldig bevind is op aanklag van strafbare manslag ná sy amptelike vuurwapen tydens ʼn moord gebruik is, se aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis is Woensdag in die Port Elizabeth‑hooggeregshof van die hand gewys.

Konst. Walter Francis (29) is in Julie skuldig bevind aan strafbare manslag en later tot ses jaar tronkstraf gevonnis. Hy is vrygespreek op aanklag van moord.

Maroela Media het vroeër berig Francis, Enzorich Kroates (22) en Clement Kogana (29) was op 25 Oktober 2014 in Shane Potberg (34) se huis toe ʼn skietery plaasgevind het.

Francis het ná die skietvoorval sy amptelike polisievuurwapen en patrone aan Potberg, ʼn bekende bendelid in die stad se noordelike dele, oorhandig. Hy het aangevoer dit was vir veilige bewaring.

Francis was in daardie stadium by die Humewood-polisiekantoor gestasioneer.

Die staat het aangevoer dat Potberg, Kroates, Kogana en ʼn ander persoon die volgende dag na Bethelsdorp gery het om Denton Rademeyer “uit te haal”.

Regter Jannie Eksteen het bevind Francis het geweet Potberg was lid van die Spotbouers-bende toe hy sy vuurwapen aan hom oorhandig het, en het gesê dat die voormalige polisieman teenstrydige getuienis gelewer het.

Francis het tydens die hofsaak aan staatsaanklaer Jason Thysse gesê hy het nie geweet Potberg was by bendes betrokke nie. Hy het egter in sy pleitverduideliking gesê hy was bewus daarvan dat Potberg vriende met bendelede was.

Francis het ook getuig dat hy geweet het bendelede kuier by Potberg se huis. Die hof het gevolglik beslis dat Francis bewus moes gewees het van die aard van bendegeweld in dié gebied.

Regter Eksteen het bevind Francis sou beslis geweet het daar is ʼn moontlikheid dat die vuurwapen gebruik sou word. Deur sy vuurwapen te oorhandig, het hy dus deur nalatigheid Rademeyer se dood veroorsaak, het die hof bevind.

Eksteen het gesê ʼn “redelike mens” sou kon voorsien dat Potberg die vuurwapen sou gebruik of aan ander bendelede sou oorhandig in reaksie op die skietery wat die vorige dag by sy huis plaasgevind het.

Die verdediging sal hulle nou na die appèlhof wend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.