
Gareth Cliff en sy prokureur, Eric Mabuza, Dinsdag buite die Suid-Gautengse hooggeregshof. Foto: Getrude Makhafola/ ANA.
Die Suid-Gautengse hooggeregshof het Vrydag uitspraak gelewer rakende Gareth Cliff se dringende aansoek om weer as Idols-beoordelaar aangestel te word.
Cliff het die hof op ʼn dringende basis genader om te probeer verhoed dat 2016-oudisies vir die Idols-program vandag begin, tensy hy weer in sy pos aangestel word of vergoeding van R25 miljoen vir “onregmatige afdanking en kontrakbreuk” en “naamskending” ontvang.
Cliff se aansoek is Dinsdag aangehoor waartydens adv. Dali Mpofu, sy regsverteenwoordiger, aangevoer het dat M-Net teen hom gediskrimineer het omdat hy wit is. Mpofu het Cliff se omstrede twiet vergelyk met uitlatings op sosiale media deur twee van sy Idols-kollegas, Unathi Msengana en Somizi Mhlongo. Mpofu het bygevoeg dat Msengana en Mhlongo erger oortredings begaan het, maar deur die uitsaaier oorgesien is. Msengana en Mhlongo moes albei in die openbaar om verskoning vra nadat hulle verlede jaar omstrede opmerkings op sosiale media gemaak het.
Adv. Wim Trengrove het aangevoer dat Cliff se aansoek teen M-Net met koste van die hand gewys moet word. Trengrove het gesê M-Net het die reg om te besluit wie beoordelaars moet wees. “Die skade aan sy reputasie is deur sy eie toedoen met daardie twiet, nie deur M-Net nie,” het hy gesê. Trengrove het gesê M-Net was gedwing om te kies tussen die 2016-seisoen van Idols, of om Cliff as ʼn beoordelaar te hê “te midde van ʼn politieke opskudding”.
Regter Caroline Nicholls het uitspraak tot Vrydagoggend voorgehou. Sy het Vrydag beslis daar is ʼn kontraktuele dispuut en dat Cliff tydelik weer in sy pos as beoordelaar heraangestel word omdat daar wel ʼn bindende kontrak is tussen hom en M-Net.
M-Net moet die koste van die aansoek dra. Cliff het gesê hy sal Saterdag ʼn mediakonferensie oor die aangeleentheid hou.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
24 Kommentare
Baie Bly vir sy part, maar wie gaan betaal die intekenare
lekke Cliffie
Bemoei of is dit nou meng jou met die semels dan……………….
Ek is bly hy word weer aangestel, al is dit net tydelik,voorlopig. Ek voel dit is onregverdig dat hy summier afgedank is en die ander twee net waarskuwings gekry het. Mooi man.
Wel gedaan!