Hof sê oor KZN-polisiehoof

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni. Foto: SAPD

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni. Foto: SAPD

Die hooggeregshof in Durban het gelas dat lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, mag terugkeer werk toe, maar die polisie wil nou appelleer.

Regter Nkosinathi Chilli het ʼn bevel uitgereik dat Ngobeni mag terugkeer werk toe totdat die polisie sy aansoek by die appelhof ingedien het.

Brig. Sally de Beer, woordvoerder van die polisie, het Dinsdag gesê hulle het nog nie die appelhof genader nie, maar dit sal in die week gedoen word. “Lt.genl. Ngobeni se regsverteenwoordiger is egter ingelig sy kliënt moet nie terugkeer werk toe nie.” Volgens die polisie sal genl.maj. Bhekinkosi Langa aanbly as waarnemende provinsiale polisiekommissaris.

Regter Chilli het verlede maand ʼn aansoek om teen sy vorige uitspraak te appelleer van die hand gewys. Ngobeni is in Mei verlede jaar geskors. Lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, het Ngobeni ingelig hy beplan om ʼn kommissie van ondersoek saam te stel om bewerings van wangedrag en haar bevoegdheid om haar amp te beklee, te ondersoek.

Regter Chilli het bevind Phahlane is nie by magte om so ʼn besluit te neem nie en hy moet ook die ondersteuning van die minister van polisie en die provinsiale uitvoerende raad hê.

Ngobeni is in die kollig geplaas nadat bewerings aan die lig gekom het dat die sakeman, Thoshan Panday, vir haar man se uitspattige verjaardagpartytjie betaal het. Sy het na bewering ook die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal opdrag gegee om ʼn ondersoek na Panday se beweerde betrokkenheid by ʼn R60 miljoen-akkommodasietender vir die polisie te beëindig.

Ngobeni beweer sy het Panday terugbetaal vir die partytjie en ontken dat sy ingemeng het met die ondersoek teen hom, wat deur genl.maj. Johan Booysen gelei is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jakes ·

Die geagte lt.genl verdien goeie geld as sy so spandabelrige partytjie kan terugbetaal. As so onskuldig was hoekom het sy van begin af nie self partytjie betaal dan?

JCS ·

Wanneer gaan mense in hoe posisies in die staatsdiens besef dat hulle nie spesiaal is nie. Hulle is staatsdiens amptenare. Hulle werk vir die gewone belastingbetalers. Hulle is verantwoordbaar aan hierdie belastingbetalers.

As jy my geld mors, is jy ‘n dief! Ek is die werkgewer en jy is die werker! As jy dit nie so aanvaar nie, begin jou eie besigheid en mors jou eie tyd en geld!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.