Hof sê oor Molefe se appèlaansoek

Brian Molefe. Foto: ANA

Die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag uitspraak gelewer in Brian Molefe se appèlaansoek teen die bevinding oor sy heraanstelling en pensioenuitbetaling.

Die hof het Molefe, voormalige hoof van Eskom, se aansoek met koste van die hand gewys. Adv. Arnold Subel SC, namens Molefe, het vroeër aangevoer sy kliënt meen dat die hof gefouteer het in sy vorige uitspraak en dat daar ʼn groot moontlikheid is dat ʼn ander hof tot ʼn ander beslissing sal kom. Molefe het versoek om die appèlhof in Bloemfontein te nader. Die hof het egter beslis dat ʼn ander hof nie ʼn ander bevinding sal maak nie.

Molefe het op 31 Januarie sy aansoek om verlof tot appèl ingedien ten einde die hofbevinding teen hom te laat omkeer. Die bevinding was dat hy die geld wat hy reeds deur ʼn onregmatige pensioenuitbetaling van die kragvoorsiener ontvang het, moet terugbetaal.

Dié hofuitspraak wat op 25 Januarie gelewer is, het beslis dat sy heraanstelling en pensioenuitbetaling van sowat R11 miljoen onregmatig was.

Die hooggeregshof in Pretoria het beslis Molefe is nie geregtig op enige pensioenvoordele van die kragvoorsiener nie en moet daarom die geld terugbetaal wat hy reeds ontvang het van die R30,1 miljoen-pensioenuitbetaling wat aan hom toegeken is.

“Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat die heraanstelling van mnr. Molefe as die groep- uitvoerende hoof by Eskom strydig met die wet en dus ongeldig is en gevolglik ter syde gestel moet word,” het regter Elias Matojane uit die uitspraak van ʼn volbank hooggeregshofregters voorgelees.

“Ons het ook bevind mnr. Molefe was nooit geregtig om enige pensioenvoordeel van die Eskom-pensioenfonds te ontvang nie, en enige betaling wat as deel van hierdie voordele gemaak is, was onwettig.”

Die vakbond Solidariteit en politieke partye het die hof genader om te versoek dat Molefe se pensioenuitbetaling ter syde gestel word. Solidariteit het ook Molefe se appèlaansoek teengestaan en versoek dat dit met koste van die hand gewys word.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Molefe as ʼn “belastingplunderaar” beskryf. “Hy is nie veronderstel om dit in die hof te verdedig nie. Hy moet sy kop in skaamte laat sak en Suid-Afrika om verskoning vra. Hy doen die teenoorgestelde en probeer sy onregmatige optrede verdedig.”

Solidariteit het reeds strafregtelike klagte teen Molefe en die voormalige voorsitter van Eskom, Ben Ngubane, gelê en wag vir verdere optrede deur die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

GES ·

Eskom word droog gesuig deur mense wat geen bydrae lewer en net vir eie gewin aanboord is. Dienslewering verswak daagliks.

Tersia ·

Nou wil Eskom krag opsit met 36 persent omdat daar nie geld is nie. Hulle feel geld uit soos lekkergoed. Eish.

Daan Erasmus ·

Net toe ek my vertroue in reg en geregtigheid begin verloor het. Begin dinge stadig. Te stadig maar Darm regkom. Of ten minste net in die regte rigting te beweeg. Dankie tog.

Jan ·

En net vanoggend lees ons in die media dat SA weer n enorme verhoging in tariewe in die gesig staar maar intussen word geld verkwis op mense soos hierdie. Ek hoop hy word verder behoorlik afgeransel.

Theresa B ·

Net so GES. Almal is in poste wat hulle niks van weet om te doen nie. Kry maandeliks die masiewe salarisse, ry die karre en ons hulpbronne word droog.

Ou Vlakvark ·

GROOT DANKIE Solidariteit vir jul insette vir reg en geregtigheid.

PJC ·

Snaaks hy het nie gesit en huil in die hof soos sy gewoonte is nie. Hy is deeglik bewus daarvan dat hy nie die geld moes kry nie maar is so arrogant dat hy wragtig weer hof toe gaan daaroor. Gelukkig het die hof hom nou lekker in die bek geruk.

Cherokee ·

Dan is daar kommentators wat AfriForum bevraagteken. Nie net bevraagteken maar blatant kritiseer. Solidariteit en AfriForum is deel van die selfde groep.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.