Hof sê oor NG Kerk en gays

Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydag beslis die NG Kerk moet sy standpunte oor selfdegeslagverhoudings wysig.

Die NG Kerk se algemene sinode het in 2015 besluit kerke kan self besluit of hulle gay verhoudings erken, gay paartjies in die kerk mag trou en of hulle gay predikante wil aanstel. Die sinodebesluit is egter in 2016 tydens ʼn spesiale sitting vervang. Die hof het egter nou gelas dat die besluit van 2016 onwettig en ongeldig is.

Volgens die besluit van 2016 mag homoseksuele mense deel van die kerk wees mits hulle selibaat lewe. Gay mense is net toegelaat om dominees te word indien hulle selibaat lewe en predikante word nie toegelaat om paartjies van dieselfde geslag te trou nie.

ʼn Groep mense het egter die NG Kerk hof toe gesleep oor die standpunt wat die kerk ingeneem het oor selfdegeslagverhoudings.

Die aansoek is deur dr. Frits Gaum, gewese redakteur van die Kerkbode, sy seun Laurie, Judith Kotzé en Michelle Boonzaaier ingedien. Hulle verteenwoordig altesaam 11 teoloë, proponente en lidmate van die kerk.

Die lidmate is deur die Kommissie vir Geslagsgelykheid (KVG) as vriend van die hof ondersteun, wat van mening is dat dit ongrondwetlik vir kerke is om teen mense te diskrimineer.

Die alliansie vir Verdediging van Suid-Afrikaanse Kerke se Onafhanklikheid (Adacsa) was weer van mening dat die aansoek inbreuk op kerke se grondwetlike reg op vryheid van geloof maak.

Die Kerkbode berig ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen van die NG Kerk, het Donderdag op die vooraand van die hofuitspraak gesê die saak het die potensiaal om die kerk “te ontwrig”.

“Ek dink dis ’n redelike groot moment vir ons. Dis ’n kwessie wat vir ons oor die afgelope paar jaar geweldige hoeveelhede spanning gebring het. Die uitspraak het die potensiaal om ons te ontwrig. Daar is geen twyfel daaroor nie,” het hy gesê.

Lees meer hier oor die kerk se besluit in 2016.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.