Hof sê oor Ntlemeza

Lt.genl. Berning Ntlemeza (Foto: chronicle.co.cw)

Berning Ntlemeza, geskorste hoof van die Valke, mag nie terugkeer werk toe nie.

Die hooggeregshof in Pretoria het Donderdag uitspraak gelewer in die dringende aansoek wat deur Ntlemeza ingedien is om te versoek dat hy mag terugkeer werk toe hangende sy aansoek by die appèlhof. Regter Sheila Mphahlele het egter Ntlemeza se aansoek met koste van die hand gewys.

Mphahlele het  gesê Ntlemeza verdien tans sy volle salaris alhoewel hy nie enige funksies verbonde aan sy werk verrig nie. “Hierdie verhoor is reeds vir 2 Junie 2017 by die appèlhof geskeduleer. Dié saak is nie dringend nie en moet van die rol geskrap word. Ek beveel dus dat hierdie saak geskrap word,” het Mphahlele gesê.

Mphahlele het Woensdag voorleggings van Ntlemeza en Fikile Mbalula, minister van polisie, se regspanne aangehoor.

Vroeër die dag het adv. Nazeer Cassim, die Valke se regsverteenwoordiger, aangevoer hoekom die Valke Ntlemeza se aansoek om terug te keer werk toe ten sterkste teenstaan. “Die saak gaan twee weke van nou af deur die appèlhof aangehoor word en sal dan daar deeglik bespreek word. Tot dan is daar ʼn hofbevel wat bepaal dat hy [Ntlemeza] nie kan terugkeer werk toe nie,” het Cassim gesê.

Cassim het gesê Ntlemeza se argument dat Mbalula sy Valke-voertuig en selfoon teruggeneem het, is onbenullig. “Ek wil nie die hof se tyd mors oor ʼn voertuig en ʼn selfoon nie. Geen hof sal so ʼn kwessie aanhoor nie. My minister is nie harteloos nie. As hy [Ntlemeza] opreg ʼn selfoon nodig het, sal ek vir hom ʼn selfoon gee. As dit die probleem hier is, dan kan ons dit uitsorteer,” het Cassim gesê.

Adv. Nceba Dukada, Ntlemeza se regsverteenwordiger, het egter aangevoer Mbalula het Ntlemeza vroegtydig en onwettig uit sy kantoor verwyder. Dukada het aangevoer die hooggeregshofuitspraak, dat Ntlemeza se aanstelling ter syde gestel moet word, val outomaties weg totdat die appèlhof ʼn uitspraak gelewer het, aangesien Ntlemeza ʼn appèl aangeteken het.

Die Helen Suzman-stigting (HSS) en Freedom Under Law (FUL) het aanvanklik ʼn hofaansoek ingedien wat gelei het tot die hooggeregshof in Pretoria se uitspraak dat Ntlemeza se aanstelling as hoof van die Valke ter syde gestel moet word.

Maroela Media het vroeër berig die hof het beslis Nathi Nhleko, destydse minister van polisie, moet Ntlemeza se aanstelling tersyde stel. Dit kom nadat die Helen Suzman-stigting (HSS) en Freedom Under Law (FUL), die aansoek gebring het.

Nhleko het Ntlemeza aangestel ten spyte daarvan dat regter Elias Matojane in Februarie 2015 bevind het Ntlemeza was “bevooroordeeld en oneerlik” en het nie oor “integriteit en eerbaarheid” beskik nie.

Lees alle vorige berigte oor Berning Ntlemeza op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marous ·

Wonder of hy en Fikile dit nie wil bespreek oor ‘n koppie koffie , laat aand iewers sonder lakeie nie.

John ·

Hierdie man gaan uiteraard nog groot skade aanrig. Die woede smeul…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.