Hof sê oor omstrede fliek se ouderdomsbeperking

Die hooggeregshof in Pretoria het Donderdag beslis dat die Rolprent- en Publikasieraad (FPR) se appèltribunaal se proses om Inxeba se ouderdomsbeperking aan te pas wettig gebrekkig was.

Die hof het gelas die proses moet hersien word en dat die fliek se klassifikasie as pornografie ter syde gestel moet word.

Regter Joseph Raulinga het gesê die proses waarvolgens Inxeba geherklassifiseer is, was prosedureel onregverdig aangesien die fliek se vervaardigers nie behoorlik kans gegee is om gehoor te word nie.

Die uitspraak beteken die aanvanklike ouderdomsbeperking vir die fliek, naamlik 16 vir seks, naaktheid en geweld, bly van krag. Raulinga het wel ook gesê dat die fliek ’n potensieel skadelike impak op die regte van Xhosa-vroue kan hê en verdeeldheid in dié gemeenskap kan saai.

Die FPR se appèlraad het die fliek as pornografie geklassifiseer en die ouderdomsbeperking na X18 verander vir die klassifiseerbare elemente van seks, kru taal, naaktheid, geweld en vooroordeel. Dit het tot gevolg gehad dat die rolprent nie in hoofstroomfliekteaters gesien kon word nie.

Die hof het egter in Maart gelas dat die verbod op die omstrede fliek Inxeba tydelik gelig word hangende die uitkoms van die hofsaak.

Inxeba is tydens die 12de jaarlikse Saftas (Suid-Afrikaanse fliek- en televisietoekennings) met drie gesogte beeldjies vereer – beste vollengtefliek, beste regisseur en beste draaiboek. Die fliek is vir agt toekennings genomineer.

Inxeba het ook al 19 toekennings by 44 rolprentfeeste reg oor die wêreld ontvang en was ook ingesluit by die kortlys van films wat meegeding het om ʼn gesogte Oscar-toekenning in die kategorie “beste rolprent in ʼn buitelandse taal”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

'n Middelmatige film en 'n groot Bohaai ·

Dit is belaglik dat sommige mense so hiperaktief raak wanneer hulle enige iets sien of hoor wat moontlik hulle leefwêreld kan verontrief of hul in enige opsig ongemaklik kan laat. Hierdie film was nog nooit pornografie nie en die bedoeling was nog nooit dat dit platvloerse en kru pornografie moes gewees het nie. Die bedoeling was nog nooit dat hierdie film aan springmielie kouende massas in teaters vertoon sal word wat kort kort sies! gil en skree nie want hierdie film is op ‘n baie beperkte gehoor gerig. Ag nee wat Suid Afrika is ligjare agter ander beskaafde lande in vele opsigte.

Laastens – dit is nie eens ‘n baie goeie film nie- tegniese en ‘n klomp ander foute is daar en die fliek is daarom nie ‘n meesterstuk nie en sou dus nie ‘n Oscar gewen het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.