Hof sê oor pedofiel se borgtog

Argieffoto

ʼn Dringende aansoek deur die pedofiel Andries Petrus Retief (37) om op borgtog vrygelaat te word is vandeesweek in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor.

Retief is in Julie tot tien jaar tronkstraf gevonnis waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is. Hy is ook tot verdere tronkstraf gevonnis op ander aanklagte. Die regter het egter gelas dat die vonnisse gelyklopend uitgedien moet word. Retief moet dus effektief agt jaar tronkstraf uitdien.

Retief het daarna aangedui dat hy teen die vonnis wil appelleer en het die dringende aansoek gebring om op borgtog vrygelaat te word hangende die appèluitspraak.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê adv. Evadne Kortje, vir die staat, het Retief se borgtogaansoek teengestaan en aangevoer dat Retief nie meer net ʼn beskuldigde is nie. “Die applikant se status het verander. Hy is nie meer onskuldig tot skuldig bewys nie. Hy is skuldig bevind en is ʼn gevonnisde oortreder,” het Kortje gesê.

“Daar is kommer by sommige van die slagoffers se ouers. Retief se vrylating sal die publiek se veiligheid ondermyn. Daar is niks buitengewoon omtrent sy situasie nie en die waarskynlikheid dat ʼn ander hof hom ʼn vonnis sal oplê wat nie gevangenisstraf insluit nie, is nie realisties nie. [Retief] stel net die onvermydelike uit.”

Twee regters van die hooggeregshof het saamgestem en Retief se dringende borgtogaansoek geweier. Onmiddellik nadat die aansoek geweier is, het Retief se regspan ʼn aansoek gebring om teen die uitspraak te appelleer.

Adv. Kortje het hierdie aansoek ook teengestaan en aangevoer die aansoek het geen vooruitsigte op sukses nie. Die regters het weer eens met die staat saamgestem. Retief moet dus tronkstraf begin uitdien.

Maroela Media het vroeër berig Retief, ʼn siviele ingenieur, is in Augustus 2015 in die hof vir seksuele misdrywe in Parow tot agt jaar tronkstraf gevonnis op die voorwaarde dat hy nie binne vyf jaar weer dieselfde oortredings begaan nie. Die vonnis is egter heeltemal opgeskort, wat beteken het dat hy nie tronkstraf moes uitdien nie.

Dit volg nadat Retief skuldig gepleit het op verskeie aanklagte rakende die vervaardiging en besit van kinderpornografie sowel as seksuele aanranding. Retief, ʼn eerste oortreder, het toe skuldig gepleit op 2 130 aanklagte. Hy het jong kinders na ʼn plaas naby Durbanville gelok met die oog daarop om pornografiese foto’s en video’s van hulle te neem. Van sy slagoffers sluit in ʼn sesjarige, ʼn agtjarige en ʼn negejarige kind wat almal seksueel aangerand is terwyl hulle geslaap het.

Die Wes-Kaapse direktoraat van openbare vervolging het egter teen sy “skokkend onvanpaste ligte vonnis” geappelleer waarna hy tot tronkstraf gevonnis is. Daar is ook beslis dat sy naam op die lys van seksuele oortreders geplaas moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JJ ·

Hy verdien die doodstraf… Bring terug die doodstraf. Steel die kinders se onskuld. Hy kan maar te dankbaar wees dit was nie my kinders nie… Sterkte aan gesinne van slagoffers en slagoffers self.

Louise ·

Wat ‘n grap! Kinders se lewens is opgemors en hy kry ‘n vonnis wat tegnies ‘n tikkie oor die vingers is. Hy sal sy straf in die tronk kry.

marous ·

Gee hom borg , met die voorwaarde dat hy by sy regverteenwoordigers tuisgaan , hangende appel , en hul kinders oppas.

bren ·

Ek dink ekhet besluit om nie meer hierdie tipe nuus te lees nie; vandag maak ek klaar ; die tipe lowlife wat lewens opneuk wil borg he? rerrig?? Ons regstelsel en samelewing is siek; ekt GEEN maar geen vertroue in enige mens meer nie; eks net beswaard; erg beswaard,.

johnny_walker ·

moenie beswaard wees nie Bren , die Grootbaas is oppad , en as hy hier aankom gaan hulle almal kry wat hulle gevra het voor

My mening ·

Dis hartseer dat n pedofiel weg kan kom met so n ligte straf. Hulle rehabiliteer nooit en hy gaan heel waarskynlik net aangaan met dit wat hy gedoen het as hy uit die tronk kom. Hulle besef nie die impak van hulle optrede nie. Jy as ouer sit met n stukkende kind, wat jy moet op en af ry teddiebeer kliniek toe, staatshospitaal besoek vir n vernederende ondersoek deur n distriksgeneesheer, hofdatums wat nooit end kry nie….en hy kry nie eers n genoegsame straf nie.
Nee wat, die regstelsel laat ons in die steek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.