Hof sê oor Tshwane-fees

Foto: Argief

Foto: Argief

Die Tshwane-metroraad se aansoek om die organiseerders van die TribeOne-musiekfees te dwing om voort te gaan met die geleentheid, is Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria van die rol geskrap.

Die metroraad het ʼn aansoek gebring om die organiseerders, Rockstar4000 en Sony Music Entertainment, te dwing om die musiekfees die naweek te hou. Die fees is verlede Donderdag gekanselleer.

Selby Bokaba, woordvoerder van die metroraad, het gesê hulle wil die saak nou vir arbitrasie verwys. Volgens Bokaba het die organiseerders in hul hofstukke aangevoer dat hulle reeds die kontrakte met kunstenaars wat by die fees sou optree, gekanselleer het. Die hof het bevind die saak is nie dringend nie.

“Ons voer aan dat die rede vir die kansellasie ongeldig is,” het Bokaba gesê. Volgens Bokaba beplan die metroraad om skadevergoeding te eis aangesien daar reeds onkostes aangegaan is.

Die TribeOne-musiekfees was veronderstel om die naweek in Cullinan, oos van Pretoria, plaas te vind. Die metroraad het R45 miljoen op infrastruktuur spandeer en ʼn verdere R25 miljoen aan bemarking, promosies en deposito’s om die kunstenaars se optredes te verseker.

Die organiseerders van die fees het egter aangevoer dat die metroraad nie aan die infrastruktuur-vereistes voldoen het nie. Internasionale kunstenaars soos Nicki Minaj, Macklemore en Ryan Lewis en J Cole sou by die fees opgetree het. Karen Zoid, MiCasa, Kuli Chana en Mafikizolo is van die plaaslike kunstenaars wat ook deel van die fees sou wees.

Lees ook:
“OG moet gekanselleerde fees ondersoek” – DA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa ·

Ons land en sy mense huil. En al wat julle kan doen is om geld te mors………..

Babs ·

Het hulle te laat uitgevind die kunstenaars gaan nie ‘n groot genoeg gehoor trek om geld daaruit te maak. Die mense gaan liewer sokker kyk op hulle verniet TV kanale.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.