Hof sê oor TV-evangelis se borgtogaansoek

Argieffoto

Die Nigeriese pastoor wat van mensehandel en die seksuele misbruik van nagenoeg 30 meisies in Suid-Afrika beskuldig word, se borgtogaansoek is Vrydag in die Port Elizabeth-hooggeregshof vir ʼn tweede keer geweier.

Die sogenaamde TV-evangelis, wie se naam weerhou word tot hy in die hof gepleit het, se aansoek om borgtog is verlede maand geweier toe landdros Thandeka Mashiyi bevind het hy is ʼn vlugrisiko en sou waarskynlik met staatsgetuies inmeng.

Die evangelis het egter gesê nuwe feite in die saak het hom genoop om weer ʼn borgtogaansoek voor die hof te bring. Landdros Mashiyi het Vrydag gesê dié nuwe feite bestaan glo glad nie, en die borgtogaansoek word daarom nie toegestaan nie.

Mashiyi het gesê die pastoor het nie daarin geslaag om met nuwe feite vorendag te kom nie, veral rondom die kwessie van die pastoor se wettigheid in die land. Sy het gesê die verdagte moenie ʼn skommeling van ou bewyse as nuwe feite in die saak voorhou nie.

Sy het verder ook gesê die kwessie rondom sy werkspermit is reeds tydens die verhoor vir sy eerste borgtogaansoek aangehoor. Die verdagte het in sy jongste aansoek gesê sy werkspermit is glo deur die departement van binnelandse sake gewaarmerk, maar Mashiyi het gesê die inhoud van die brief dui geensins op die evangelis se wettigheid in die land nie. Dié kwessie verwys na die bykomende klag van onwettige betreding wat op 29 Augustus by die klagstaat gevoeg is. Die polisie moes intussen die beskuldigde na die departement van binnelandse sake vergesel sodat hy aansoek kon doen vir die verlenging van sy algemene werkspermit.

Alwyn Rossouw, die evangelis se regsverteenwoordiger, het gesê die verdagte se woonadres kan nou bevestig word, daarom tel dit glo as ʼn “nuwe feit” en hoef hy dus ook nie meer ʼn vlugrisiko te wees nie. Mashiyi het egter gesê die kwessie van die adres is ook tydens die eerste verhoor bespreek, en daarom is sy oortuig dat die verdedigingspan ou inligting as nuwe feite probeer opdis.

Die saak teen die evangelis is tot 1 November uitgestel.

Maroela Media het vroeër berig dié omstrede pastoor (58), wat op 20 April in hegtenis geneem is op aanklagte van mensehandel, het glo kerke in Port Elizabeth, Kaapstad, Johannesburg en Brittanje bestuur, en het na bewering meer as 30 meisies en vroue van verskeie takke van dié kerke na ʼn huis in Umhlanga, KwaZulu-Natal, geneem waar hy hulle glo seksueel misbruik het.

Hy kom te staan voor nagenoeg 22 klagte van mensehandel en seksuele misbruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.