Die Johannesburgse hooggeregshof het Vrydag uitspraak gelewer oor Zwelinzima Vavi, voormalige uitvoerende hoof van Cosatu, se versoek om sy skorsing ter syde te stel.
“Die besluit wat geneem is om hom te skors is ongeldig en daarom moet sy skorsing ter syde gestel word,” het regter Phineas Mojapela beslis.
Vavi het op Twitter bevestig dat sy vrou hom vandag in die hof verteenwoordig, aangesien hy na Queenstown in die Oos-Kaap moes gaan om sy dogter by te staan. Sy oudste dogter, Phumeza, is in ‘n ongeluk beseer toe ‘n taxi en ‘n vragmotor gebots het. Sy het ‘n kopbesering opgedoen. Sewe mense het in die ongeluk omgekom. Vavi het sy medelye betoon met die gesinne wat geliefdes verloor het. Hy het ook aangedui dat hy sal poog om van die begrafnisse by te woon.
Die National Union of Metalworkers of SA (Numsa) en Vavi het aangevoer dat afgevaardigdes nie tydens Cosatu se vergadering van die sentrale uitvoerende komitee op 14 Augustus 2013 oor Vavi se skorsing gestem het nie. Die besluit is glo afsonderlik gemaak tussen presidente en uitvoerende hoofde. Klik hier om meer te lees.
Vavi is in Augustus deur Cosatu op spesiale verlof geplaas hangende die uitslag van ʼn tugverhoor wat verband hou met sy buite-egtelike verhouding met ʼn junior werknemer. Die werknemer het hom in Julie van verkragting aangekla, en Vavi het gesê hulle was in ʼn verhouding. Die vrou het daarna die saak van seksuele teistering teen hom onttrek. -SAPA