Hof sê oor vuurwapenlisensies

Argieffoto (Foto: WerbeFabrik, Pixabay)

Die Pretoriase hooggeregshof het Dinsdag ten gunste van ʼn hofaansoek van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) beslis.

Regter Ronel Tolmay het verklaar dat twee artikels (artikel 24 en 28) van die Vuurwapenbeheerwet ongrondwetlik is en het beslis dat alle vuurwapenlisensies wat verval het, of binnekort sal verval, geldig sal wees totdat die konstitusionele hof die betrokke artikels hersien het.

Die parlement is ook 18 maande gegun om die wet te wysig om aan die Grondwetlike beginsels te voldoen. ʼn Kostebevel is ook ten gunste van SA Jagters uitgereik.

“Die uitspraak is ʼn groot oorwinning vir SA Jagters wat in Maart 2016 ʼn aansoek teen die minister van polisie gebring het, waar die grondwetlikheid van die betrokke twee artikels bevraagteken is, sowel as die eensydige interpretasie en implementering daarvan deur die polisie,” het Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters, in ʼn verklaring gesê. “Ons het presies gekry waarvoor ons gevra het. Ongeveer 200 000 vuurwapeneienaars, of dalk selfs meer, kan ʼn sug van verligting slaak dat hulle nou weer wetlik in besit is van hul vuurwapens. Dít is waarom vuurwapeneienaars by SA Jagters moet aansluit.”

Die hofaansoek volg ná die SAPD se arbitrêre hantering van laataansoeke vir die hernuwing van vuurwapenlisensies tussen 2011 en 2016. Dit is die tweede keer wat SA Jagters suksesvol is in regstappe in die belang van alle vuurwapeneienaars.

Die vereniging het in Junie 2009 twee aansoeke teen die SAPD in die Pretoriase hooggeregshof gebring om te versoek dat sommige van die tussentydse regulasies van die Vuurwapenwet ongrondwetlik verklaar moet word.

Die hof het ook ten gunste van SA Jagters beslis in dié dringende aansoek en het alle lisensies, wat kragtens die ou Wet (ook bekend as die ou groen lisensie) uitgereik is, geldig verklaar totdat die hoofaansoek hanteer is. Duisende vuurwapeneienaars het sodoende vervolging vrygespring. Die hoofaansoek is nooit aangehoor nie, aangesien die SAPD nie reageer het nie.

“Die jongste uitspraak bied ʼn groot verligting vir vuurwapeneienaars wat aan die wet voldoen, maar eenvoudig vergeet het om hul lisensies te hernu en wat op soek is na ʼn redelike proses en ʼn regverdige stelsel om ʼn vuurwapen te besit en die lisensie te hernu,” het Camphor bygevoeg. “Die uitspraak is nie die einde van ʼn lang en frustrerende stryd nie, maar die begin om praktiese wetgewing te implementeer wat in die belang is van ʼn individu se reg om ʼn vuurwapen te besit.”

Camphor het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor die lede van SA Jagters vir hul lojaliteit, en finansiële en morele ondersteuning. “Talle ander organisasies en lede van die publiek het ons ook ondersteun en ons is dankbaar vir die ondersteuning die afgelope 15 maande.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

53 Kommentare

Scalla ·

Baie dankie aan die vereniging, nog n bewys dat hul nie opgewasse is vir die take nie en hul regeer die land, rommel status is eintlik n mooi woord vir die situasie

Primaat ·

Maroela Media, ek wys vriendelik daarop dat die tersaaklike artikels van die Wet op die beheer van Vuurwapens, (Wet 60 van 2000), waarna verwys word, Artikel 24 en 28 is. Die berig meld Artikel 25; dit is nie korrek nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Primaat

Ons vra groot om verskoning vir die flater. Die berig is gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Johann ·

In hierdie land veg ‘n mens letterlik van loopgraaf tot loopgraaf vir sinvolle, regverdige wette en administrasie deur ‘n regering wat nie ‘n idee het wat hulle doen nie. Ek is geen jagter nie maar gaan beslis aansluit net om julle te help om getalle te wys. Dankie ouens

FM ·

Om ons dankbaarheid teenoor die Jagtersvereniging te bewys, kan ons ten minste lede word van die SA Jagtersvereniging. Kyk net wat het hulle alles gedoen vir ons wapeneienaars. Asseblief, sluit aan sodat ons hulle hande kan sterk.Groot ASSEBLIEF!!

Nita ·

Dankie tog nou kan ek as 73 jarige vrou in my motor iewers heen ry met my wapen by my. Dit het my gegrief dat ek n geldige kaart lisensie het maar weens n vertraging met my aansoek word ek n onwettige wapeneienaar uitgelewer aan al die rampokkers in ons land, terwyl my wapen in n wapenhandelaar se kluis le.

Riena ·

Sjoe is ek nou verlig!! Ek het al slapelose nagte gehad omdat ek nie durf my wapen gebruik nie omdat ek “in besit van ongelisensieerde vuurwapen” betrap sou kon word. So bly dat my wapen nog my wapen is!

Joe Olivier ·

Die vuurwapenwet verplig ook die polisie om n wettige eienaar te vergoed vir sy wapen as hy hom inhandig. N vorm saps520d kan daarvoor ingevul word. Die polisie vetsuom egter sy plig om dit te doen.

IvR ·

Maroela, net ‘n opmerking dat die foto hierbo die van ‘n windbuks is, en dus nie eintlik pas by die artikel nie. Windbukse soos die nekbreker in die foto is ongelisensieerd en word nie deur die Vuurwapen wet beheer nie. Verder is ‘n windbuks tegnies ook nie ‘n vuurwapen nie, omrede dit ‘n meganiese veer en lugdruk gebruik om ‘n projektiel te versnel en nie ‘n chemiese dryfmiddel gebruik nie ( letterlik die ‘vuur’ in vuurwapen).

Carl ·

Windgewere word wel aangespreek in die Wet.
Maar ek stem daar is baie mooier fotos van vuurwapens?

Cherokee ·

Dit is wònderlike nuus! Dit verduidelik miskien ook waarom ek minder as ‘n jaar gelede een van my vuurwapens se lisensie hernu het nadat dit meer as ‘n jaar vroeër ‘verval’ het en dit is gedoen sonder enige teëspraak. Die polisiekantoor het my selfs laat weet toe dit daar is en verskoning gevra vir ‘n vertraging.

My vuurwapens is dus nou dubbel gelisensiëer. Relatief onlangs het ‘n vrou in hierdie forums vertel dat haar lisensie verval het en ek het haar verduidelik hoe sy moes te werk gaan vir herlisensiëring maar sy het nie die moeite gedoen om my te antwoord nie. Dra hierdie nuus asseblief oor aan almal vir wie dit van waarde kan wees. Diegene wat hul vuurwapens ingehandig het, wel uh.. em.. hulle moet maar ander gaan koop.

Perd ·

As ek die nuwe kaart lisensie het(nie die ou groen een nie),en hom nie hernu het nie,sal hy nog geldig wees

Francois Bornman ·

Ek het nie woorde om die SA Jagtersvereniging Groot DANKIE te se nie. Het ook slapelose nagte gehad oor my lisensies wat verval het. Dit het my ook weerhou om die jaar te gaan jag. Winter sonder ‘n ou biltongtjie!!! Ek sluit defnitief by SA Jagters Vereniging aan.

Het ook weerloos gevoel as ek langpad met my gesin moes vat sonder my handwapen.

Maar nou is die Kaap weer Hollands.

Nogamaals dankie SAJV. Stuur asseblief vir my aansluitings forms.

Cherokee ·

So nou vra jy in Maroela om aansoekvorms vir die Jagtersvereniging. Maak dus seker dat jy dit nie kry nie.

Nico ·

So as huisverdediging lisensiehouer moet ek steeds 3 maande voor my 5 jaar lisensie verval aansoek doen?

Carl ·

Korrek Nico. Die uiteinde mag wees dat ons soos met alle ander lisensies eerder die persoon as bevoeg verklaar word. Bv dokter, apteker. Die vuurwapen word geregistreer maar daar kleef geen status aan die wapen nie net soos met ‘n kettingsaag of voertuig as voorbeeld.
Dan kan jy as bevoegde persoon koop wat jy wil-as mamma toestem.

koos ·

perd en nico: Gaan maak ASB seker hiervan. Soos ek dit verstaan is hierdie uitspraak net van toepassing op die ou ID boek lisensies en NIE op die nuwe kaart tipes nie.

Drakensberger ·

Maar hoe lyk dit of die SAPD nou wraak neem omdat hulle oor die vingers getik is. Ons bly op ‘n plaas. My vrou en my seun het nuwe aansoeke ingedien vir handwapens vir selfverdediging. Beide is afgekeur (soos in vandag!) Dit is nou nie eintlik dat plaasmoorde en aanvalle seldsaam is nie! Lyk vir my as hulle ons nie kan ontwapen nie dan staan hulle net nie nuwe aansoeke toe nie. Ek wonder maar net…

tuco ·

@drakensberger as jou vrou en seun bevoeg verklaar is om ‘n vuurwapen te besit, met ander woorde hulle het hulle bevoegdheidsertifikate vir die tipe vuurwapen waarvoor hulle aansoek doen, dan is daar eintlik geen rede waarom die aansoek afgekeur sal word behalwe ‘n swak gemotiveerde een. kontak iemand wat daagliks hiermee te doen het en doen weer aansoek of appelleer.

Cherokee ·

Ek het lank terug, jare voor Maroela se tyd, êrens gelees dat die meeste afkeurings omgekeer word deur te appelleer. Volg dus tuco se advies.

koos ·

perd en nico: Gaan maak ASB seker hiervan. Soos ek dit verstaan is hierdie uitspraak net van toepassing op die ou ID boek lisensies en NIE op die nuwe kaart tipes nie.

Johnny Smith ·

Koos jy het dit verkeerd. Die nuutste uitspraak handel spesifiek oor die nuwe wit kaart lisensies. Die ou groen lisensies is reeds in ‘n vorige uitspraak geldig verklaar.

anton ·

Stem saam met Johnny.
Dus kan die mense wie se wit kaartjies lisensies wat reeds n geruime tyd verval het, weer gaan en dit laat hernu. Ek persoonlik weet van sulke mense en het hulle reeds daarvan in kennis gestel.
Ons moet ons wapens ten alle koste behou!!!

MH ·

Dankie Jagtersvereniging. Die uitspraak verander my oornag terug van ‘n krimineel na ‘n wetsgehoorsame burger.

zahn ·

Goed om te weet waarnatoe mens se geld gaan. Ek en my seun, nou 18, is al twee jaar lede, en ek sal lid bly nog baie lank. ‘n Vriendelike versoek aan alle wapeneienaars, sluit aan by hierdie organisasie, dis werklik mense wat vir almal instaan. Jy as nie-lid, wat nog groen lisensies het, kan noug eus vinger trek en aansluit. Niks keer jou nie, net jy. Maak ‘n kopskuif, hierdie mense skiet net kopskote!

Johan ·

Jy weet in plaas van dat ons belasting betalers se geld gemors word im wetige vuurwapen eienaars te beskerm omdat die SAPS nie n clue het hokom vat hulle nie eerder daai geld en stel n taakmag aan om al die diefstal van vuurwapens wat in sie SAPS se besit is te ondersoek

Storm ·

Môre, my wit kaart lisensie het mid verlede jaar verval. Toe ek n maand voor die tyd polisie stasie toe gaan vir die hernuwings vorm toe word daar vir my gesê ek moet nie eers ‘bother’ om dit in te vul nie want hulle sal nie my vorm aanvaar nie omdat ek op die nippertjie my lisensie wil hernu…My vraag is: Tot wanneer toe het ons tyd om die hernuwings vorms in te handig? Kan ek my lisensie hernu deur die jagters vereeniging of moet ek deur die polisie gaan?

Cherokee ·

Ek het een van myne hernu meer as ‘n jaar nadat dit verval het. Ek vertel hoër op daarvan. Klaarblyklik het jy jou gesteur aan wat ‘n onkundige polisiebeampte oor die toonbank gesê het. Spreek die vuurwapenbeampte by ‘n polisiekantoor.

Johan. H. ·

Persoonlik het ek beter en meer oplyding as 98% van die polisie , maar hulle mag wapens ronddra asof hulle rambos is,, Maak my eintlik bang,

SP ·

Gaan lees die vuurwapenwet,dit maak n onderskeid tussen privaatpersone en Saps tov die dra v vuurwapens.

Dalene ·

Baie dankie SA Jagters! Kan die hernuwingsvorms slegs by polisiekantore afgehaal word?

antonie ·

Mense wat wil aansluit by SA Jagters kan ook aansluit by SAGA wat groot werk doen en veg vir ons reg om n wapen te kan besit.

Francois ·

Kan iemand my net klarigheid gee asseblief. Moet ek nou my lisensies wat verval het hernu of moet ons eers wag vir die uitspraak van die Konstitusionele Hof? Ek het die groen en wit lisensies.

Francois ·

Kan iemand my net duidelikheid gee. Moet ons eers wag vir die konstitionele hof om uitspraak te lewer voor ek my vervalde lisensies (wit en groen) hernu?

James Thomson ·

Al wat nou ongeldig is is die ou vuurwapenlisensies wat in jou ID-boek geplak was. Sowel die groen- as die witkaart lisensies is steeds geldig soos ek dit verstaan. Ek sal beslis ook aansluit SA Jagters, alhoewel ek al hopeloos te oud is om nog bokkies te jag!!!

Koffelkop ·

Dom vraag…en die persone wat hulle vuurwapens vrywillig ingehandig het…is daar enige ommekeer….??

Cherokee ·

Ek sou ‘n (miskien dom), antwoord waag op jou vraag. Indien ek ‘n regter was wat in ‘n saak oor jou vraag moes besluit, sou ek sê dat diegene wat hul vuurwapens ingehandig het omdat hul aansoeke afgekeur was, hul vuurwapens moet terug kry. Maar die wat te koffelkop was om te probeer die bevoegdheidstoets slaag, moet maar van voor af begin.

Patrys ·

James, mens kan maar nog bokkies jag al het die jare al aangestap – mik net mooi en sit jou bril op ! Jagters van nature !!

Kobus ·

Het vandag die wapen handelaar waar ek my wapen moes ingee omdat my lisensie verval het gekontak ek is meegedeel dat ek steeds nie my wapen mag terug kry want ek het n oorhandigings dokument geteken vir die veiligebewaring van my wapen tot ek weer n lisensie kon kry en nou moet polisie eers besluit wat hulle gaan doen die mense wat dit nie gedoen
Het kan steeds hul wapens hou so eks steeds geskroef

Julian ·

Julle ouens het groot verligting gebring en dis lekker om te weet dat mens weer jou wapen kan besot met gemoedsrus. Baie dankie vir jul vegtersgees en deursettingsvermoe. Julle het nie net ‘n hofuitspraak gewen nie, maar bewys dat mens kan as jy wil. Ek is nie ‘n lid nie, maar gaan beslis aansluit. Dankie ouens vir julle oorwinning, want dis ook myne!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.