Hof sê vandag oor voormalige Valkehoof

Lt.genl. Berning Ntlemeza (Foto: chronicle.co.cw)

Die hooggeregshof in Pretoria sal Donderdag uitspraak lewer oor die dringende aansoek wat deur die voormalige hoof van die Valke, Berning Ntlemeza, ingedien is om te versoek dat hy mag terugkeer werk toe hangende sy appèlaansoek voor die appèlhof.

Regter Sheila Mphahlele het Woensdag voorleggings deur Ntlemeza en Fikile Mbalula, minister van polisie, se regspanne aangehoor. “Ek gaan die voorleggings oorweeg. Ek sal môre [Donderdag] om 10:00 my uitspraak kan lewer. Ek sien julle môre-oggend,” het Mphahlele gesê en haar uitspraak voorbehou.

Vroeër die dag het adv. Nazeer Cassim, die Valke se regsverteenwoordiger, aangevoer hoekom die Valke Ntlemeza se aansoek om terug te keer werk toe ten sterkste teenstaan. “[Ntlemeza] kry sy volle salaris. Die appèlverhoor is geskeduleer vir 2 Junie. Toe hierdie aansoek ingedien is, het ons nog nie geweet wanneer die appèl aangehoor sou word nie. Wat hulle nou doen, is om te probeer politieke punte aanteken. Die saak gaan twee weke van nou af deur die appèlhof aangehoor word en sal dan daar deeglik bespreek word. Tot dan is daar ʼn hofbevel wat bepaal dat hy [Ntlemeza] nie kan terugkeer werk toe nie,” het Cassim gesê.

Cassim het gesê Mbalula moet na regte sterk standpunt inneem oor die saak. “Mbalula is die minister in beheer. As ʼn hof bevind ʼn onderwyser is ʼn pedofiel en die hof maak ʼn sodanige bevinding, dan is daar ʼn gedeelte in die wet wat sê hy moet terugkom hangende ʼn appèlaansoek. ʼn Mens kan jou net indink hoe ontstoke die skoolhoof sal wees om daardie persoon weer in ʼn posisie te plaas waar hy met kinders werk,” het Cassim gesê.

“Hoe kan [Ntlemeza se regsverteenwoordiger, adv. Nceba Dukada] die stelling maak dat sy status geraak word as hy nie terug is by die werk nie? Hy kan bly wees hy word betaal terwyl daar gewag word vir sy appèl om aangehoor te word. Hy kan bloot sê hy is geregtig op sy salaris terwyl daar gewag word vir sy appèl. Wel, hy ontvang sy salaris.”

Cassim het gesê Ntlemeza se argument dat Mbalula sy Valkevoertuig en selfoon teruggeneem het, is onbenullig. “Ek wil nie die hof se tyd mors oor ʼn voertuig en ʼn selfoon nie. Geen hof sal so ʼn kwessie aanhoor nie. My minister is nie harteloos nie. As hy [Ntlemeza] opreg ʼn selfoon nodig het, sal ek vir hom ʼn selfoon gee. As dit die probleem hier is, dan kan ons dit uitsorteer,” het Cassim gesê.

Cassim het gesê Ntlemeza se aansoek moet met koste van die hand gewys word.

Dukada het egter aangevoer Mbalula het Ntlemeza vroegtydig en onwettig uit sy kantoor uit verwyder. “Indien hierdie aansoek van die hand gewys word, sal dit gelykstaande wees om te sê die onwettige optrede van [Mbalula] moet goedgepraat, onder die mat ingevee en niks daaraan gedoen word nie,” het Dukada gesê.

Dukada het aangevoer aangesien Ntlemeza ʼn appèlaansoek ingedien het, val die hooggeregshofuitspraak, dat sy aanstelling ter syde gestel moet word, outomaties weg totdat die appèlhof ʼn uitspraak gelewer het. Dukada het gesê Mbalula het egter “op onwettige wyse” Ntlemeza verbied om te werk, en het sy amptelike diensvoertuig en ander toebehore “gekonfiskeer”.

“Die aansoeker [Ntlemeza] versoek die hof om hierdie gedrag as ongrondwetlik te verklaar. Die aansoeker vra die hof om [Mbalula] se onwettige optrede te keer,” het Dukada gesê. Hy het ook gesê die aansoek is dringend omdat die saak Ntlemeza se naam skade berokken.

Die Helen Suzman-stigting (HSS) en Freedom Under Law (FUL) het aanvanklik ʼn hofaansoek ingedien wat gelei het tot die hooggeregshof in Pretoria se uitspraak dat Ntlemeza se aanstelling as hoof van die Valke ter syde gestel moet word. Die hof het bevind Ntlemeza was “bevooroordeeld en oneerlik” en het nie oor “integriteit en eerbaarheid” beskik om die Valke te lei nie.

Nathi Nhleko, voormalige minister van polisie, het aanvanklik hofdokumente ingedien om teen die uitspraak te appelleer, maar Mbalula het kort ná sy aanstelling as minister van polisie die aansoek om verlof tot appèl teruggetrek.

Lees alle vorige berigte oor Berning Ntlemeza op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Hoe op aarde kry ons dit altyd so verkeerd om altyd die verkeerde mense op die verkeerde plekke aan te stel wat die verkeerde wil beskerm en as hulle verkeerde wee hulle inhaal verkeerdelik aan te hou veg in die howe om die verkeerde gewettig te kry? Waar en wanneer het al die verkeerde so ‘n verkeerde vastrapplek gekry in hierdie so verkeerde land van ons… Sekerlik nie in Verkeerdevlei nie… of… is ek nou verkeerd?

dolphin ·

skelm streke mense nie eerlik op sa nie mense kyk vir jou hoe goed behandel is dit.

snoefie ·

na my beskeie mening praat due getuienis vir hulle self. ek wens om ook sulke lukrate beleggings te kan doen. lyk my hy sal weer 3de Junie sy stoel volsit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.