Hof sê Vrydag of plastiekwerkers mag staak

hof-hamer

Argieffoto

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het gesê die arbeidshof in Johannesburg sal Vrydag besluit of dié hof ʼn dringende aansoek om ʼn staking in die plastiekbedryf te verhoed sal toestaan of nie.

Numsa het gesê die unie was Woensdag in dié hof om die aansoek van die Plastic Convertors of South Africa (PCSA) teen te staan. Die PCSA wil ʼn dringende interdik verkry om die staking te voorkom.

Die vakbond het in ʼn verklaring gesê die PCSA probeer die howe gebruik om sy lede “stil te maak” om oor hul werkstoestande te betoog.

“Die hof het nog nie uitspraak gelewer nie en die besluit of die bevel toegestaan sal word of nie sal Vrydag gemaak word,” het Numsa gesê.

“Ons herhaal dat die besluit om vir ʼn dringende bevel aansoek te doen niks meer is as ʼn poging deur werkgewers om ons lede te intimideer nie. Ons staking is wettig, ons het al die prosesse gevolg. Die werkgewers verloor geld aangesien ons die produksie beïnvloed en dít is hoekom hulle ons hof toe vat.”

Numsa meen PCSA gee net om oor winste en stel nie daarin belang om betekenisvol na die vakbond se eise te luister nie. “Ons veroordeel die PCSA en die werkgewers in die plastiekbedryf vir dié verkrampte mentaliteit. Ons sou nie in die eerste plek gestaak het as hulle gekies het om ons eise ernstig te neem toe ons dit in 2016 al geopper het nie.”

Numsa voer verder aan dit is belaglik dat werkgewers sê die staking is onwettig aangesien hulle voortdurend probeer om met die werkgewers oor die kwessies in gesprek te tree.

Die vakbond het bygevoeg dat werkers in die plastiekbedryf deur reuse-loonverminderings en die verwydering van voordele en werkstoestande in die gesig gestaar word. Dié dinge het volgens Numsa jare geneem om te onderhandel by die Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursbedrywe (MEIBC).

“Onder die MEIBC-ooreenkoms ontvang werkers ʼn minimumloon van R40 per uur, word hulle vir oortyd betaal en kom hulle in aanmerking vir ʼn bonus. Nou wil die werkgewers in die plastiekbedryf dit alles van hulle wegneem. Hulle het nog altyd vasgeskop teen enige progressiewe voordele en lone vir werkers en dis hoekom hulle hul eie bedingingsforum gestig het. Hulle wil werkers wettig en vrylik kan misbruik en uitbuit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.