Hof skort leeubeenkwotas op

Argieffoto ter illustrasie (Foto: designerpoint, Pixabay)

Die hooggeregshof in Pretoria het bevind die uitvoerkwotas wat die departement van omgewingsake vir leeus vasgestel het, is onwettig en ongrondwetlik.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het die departement, asook die Suid-Afrikaanse Roofdiertelersvereniging (Sapa) hof toe gesleep oor die kwotas wat in 2017 en 2018 vasgestel is. Die hof het bevind die departement het die leeus wat aangehou word se welstand geïgnoreer. Hoewel die diere se welstand nie hulle mandaat is nie, moet die minister en departement dit wél in ag neem wanneer besluite geneem word.

Regter Jody Kollapen het beslis die respondente het nie die regte prosedures gevolg nie, het die NDBV Dinsdag in ʼn verklaring gesê.

Die regter het bevind die kwotas stuur ʼn boodskap aan die res van die wêreld in die algemeen en die leeuteelbedryf in die besonder, dat die staat die uitvoer van ʼn vasgestelde hoeveelheid leeubene gaan toelaat. Hy het voorts bevind dit kan egter nie korrek wees dat die manier waarop die leeus aangehou word, irrelevant is ten opsigte van die kwota wat vasgestel word nie en het dit as “onlogies en irrasioneel” bestempel.

Kollapen het gesê as die land dan besluit het om in leeubene handel te dryf, wat klaarblyklik in dié stadium die geval is, móét die diere se welstand in ag geneem word.

Die NDBV het die uitspraak verwelkom en sê dit het ook wyer gevolge, vir wilde bevolkings én wilde diere in gevangenskap. Die organisasie sê leeus in gevangenskap, die geblikte leeubedryf, welpies wat vertroetel word en die handel in leeubene is hoogs omstrede – plaaslik en internasionaal.

“Ons is verheug dat die belang van dierewelsyn en die belangrike en wetlike rol wat die NDBV speel om wilde diere en diere in aanhouding te beskerm in dié baanbrekeruitspraak erken word. Jy kan nie net wilde diere gebruik, misbruik en met hulle handel dryf, sonder om hulle welsyn in ag te neem nie,” het Karen Trendler, bestuurder van die NDBV se eenheid vir wildhandel en smokkelary, gesê.

Die NDBV het die afgelope ruk verskeie strafregtelike sake aanhangig gemaak teen die eienaars van fasiliteite waar leeus in haglike omstandighede aangehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Dit is nou die beste nuus vandag, en in weke. Wonder wat se begrag die minister gekry het as 800 leeu beendere land uit is?

Viss ·

Slegte nuus vir daaàaaai sogenaamde wild boere……veral vir mnr Steinman van Lichtenburg.

Rudolph van Wyk ·

Hoekom bestaan daar instansies soos ‘n leeubedryf? Of ‘n wildsbedryf of ‘n dieremelkbedryf? Hoe verder ons wegbly van die diere af hoe beter vir mens en dier. Die diere veral sal baie beter af wees sonder die slawerny, mishandeling en wrede dood wat ons aan hulle doen. Die onreg wat ons pleeg is onverdedigbaar en ‘n skande vir sogenaamde beskaafde mense

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.