Hof staan interdik toe; vries SAPD-pos

polisie 2Die arbeidshof in Johannesburg het ten gunste van die vakbond Solidariteit en lt.kol. Adolf Arendt beslis en gelas dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ‘n pos wat Arendt nie gekry het nie omdat hy wit is, moet vries.

Die interdik is toegestaan hangende die beregting van ʼn onbillike diskriminasie-saak wat Solidariteit namens Arendt voer. Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, het weereens sy teleurstelling oor die SAPD se vermorsing van belastinggeld in die navolging van sy ideologie van rasseverteenwoordigendheid uitgespreek.

Groenewald meen dit is duidelik dat Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, telkens die SAPD se foute herhaal. “Solidariteit het reeds verskeie ander soortgelyke sake teen die SAPD suksesvol aangepak. Ten spyte hiervan gaan die SAPD blindelings voort met sy gebrekkige rassetransformasie. Kommissaris Phiyega se optrede druis boonop lynreg in teen die beginsels wat reeds deur die hoogste hof van appèl in die Renate Barnard-hofsaak beslis is”, sê Groenewald.

Volgens Groenewald is lt.kol. Arendt, ten spyte daarvan dat hy deur ʼn indiensnemingspaneel vir drie vakante poste in die departement as die beste kandidaat geïdentifiseer is, weens sy ras afgekeur omdat wit mans glo in dié spesifieke departement van die polisie oorverteenwoordig is.

Die paneel wat lt.kol. Arendt vir die posisies geëvalueer het, het bevind dat, hoewel sy aanstelling nie diensbillikheid sou bevorder nie, dit beslis dienslewering in die departement sou bevorder. Die paneel het die nasionale kommissaris van die SAPD, Riah Phiyega, ingelig dat Arendt se aanstelling dienslewering sou bevorder aangesien hy ʼn volledige begrip van die spesifieke departement se werksaamhede het.

Kommissaris Phiyega het egter beslis dat lt.kol. Arendt se aanstelling nie diensbillikheid in die departement sal bevorder nie en het daarom versoek dat die poste weer geadverteer moes word.

“Solidariteit wil met die dringende interdik teen die polisie verhoed dat die enigste oorblywende vakante pos uit die drie waarvoor lt.kol. Arendt aansoek gedoen het, gevul word en dat daar verder onbillik teen lt. kol. Arendt gediskrimineer word,” het Groenewald gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Wessel

Mense jul besef nie wat aangaan in die polisie nie daar is lede laer af op grondvlak soos hul sou se wat 14 tot 20 jaar al die selfde range het slegs oor hul kleur van vel sersante wat nie poste kan kry nie want daar is te veel adjudant offesiere maar tog word daar vir ander kleur vel poste geskep of net gegee so ook met kapteine hou my asb anoniem ek is self n dienende sersant van 20 jaar diens 14 daarvan in my huidige rang ek is n polisie man gebore, opgelei, nie in n pos aangestel… Lees meer »