Hof steek ’n stokkie voor bankstaking

Argieffoto

Die bankwerkersvakbond Sasbo het Donderdag sy lede per SMS in kennis gestel dat die beplande landwye staking in die bankwese afgelas is, nadat Business Unity South Africa (Busa) wat die banke verteenwoordig, se dringende aansoek om ʼn interdik in die arbeidshof in Johannesburg aangehoor en goedgekeur is.

“Busa se interdik teen ons was suksesvol. Ons sal die hofuitspraak nakom en die protesaksie sal NIE op Vrydag 27 September plaasvind nie,” lui die SMS.

Sasbo en Cosatu het vroeër aangekondig dat hulle Vrydag teen werksverliese in die bankbedryf sou staak. Dié staking het gedreig om die bankwese, waaronder ook kitsbanke, in die land dán tot stilstand te bring.

Busa het aangevoer dat die protes onwettig en onbeskermd is en dat Sasbo en Cosatu hul artikel 77-kennisgewing moet onttrek. “Die vakbonde het beweer dat hulle ʼn artikel 77-kennisgewing ingedien het wat die staking wettig en beskermd maak, maar die kennisgewing is al in 2017 by die Nasionale Raad vir Ekonomiese Ontwikkeling en Arbeid (Nedlac) ingedien. Die kennisgewings is nie immergroen nie,” het Kaizer Moyane, die Nedlac-sameroeper vir Busa, aan Maroela Media verduidelik.

Moyane sê die regter, Hilary Rabini-Naicker, het bevestig dat Sasbo en Cosatu versuim het om die regte prosesse te volg en dat die staking afgelas is tot die regte stappe gedoen is om ʼn artikel 77-kennisgewing te bekom.

“As die vakbonde die regte prosedures volg, kan die staking steeds in die nabye toekoms plaasvind, maar die regter het ook gesê dit was belangrik vir Busa en Sasbo om nóú te beraadslaag om oplossings te vind. Die regter het die partye nou net in die regte rigting gewys,” het Moyane bevestig.

Hy het verder verduidelik dat die banke reeds gewillig was om oor die afdankings met die vakbonde te praat. Daar was ook deurlopend gesprekke oor die afdankings alvorens dit plaasgevind het, omdat die wet dit so in artikel 189 voorskryf.

Standard Bank het in Maart vanjaar aangekondig dat hy 1 200 werkers gaan afdank en 91 van sy takke gaan toemaak, terwyl Nedbank ook planne bekendgemaak het om 3 000 werkers af te lê. Absa het ook in daardie maand gesê dat hy 870 werkers sou afdank.

“Artikel 189 gee vakbonde soveel mag en het alle selfseggenskap by ondernemings weggeneem wanneer afdankings ter sprake is. ʼn Onderneming kan nie net lukraak besluite neem oor afdankings nie. Daar moet eers oorlegplegings plaasvind, die ondernemings moet hul redes vir die besluite uiteensit, dit moet regverdig en gegrond wees. Sasbo is ten volle bewus van hierdie regulasies,” het Moyane gesê.

Die idee dat ondernemings net mense uit die bloute afdank, is ʼn versinsel, het hy gesê. “As afdankings gemaak word sonder die regte prosedures, sal dit in die hof onwettig verklaar word. Die risiko bestaan ook dat die besluit omgekeer moet word.”

Nehawu, die vakbond vir onderwys, gesondheid en verwante werkers, het in ʼn verklaring gesê hy veroordeel Busa se aanvanklike besluit om die saak in die hof te bestry. Dit “bewys dat Busa [en die banke] ongetwyfeld nie omgee oor werkloosheid nie, en net daarop fokus om meer dividende te bekom”.

“Ons moet die bloedbad van werksverliese stuit. ʼn Gesamentlike poging is nou nodig om verdere werksverliese en werkloosheid te keer,” het Nehawu gesê.

Die staking sou opbou na die landwye Cosatu-staking wat op 7 Oktober gaan plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Johann cb ·

Die Howe doen ‘n uitstekende werk om die land te “regeer”! Dank die hele huidige Regering af!

John ·

En toe moes die VBS-bank sy mense ook afdank, sy deure sluit en sy kliènte se geld… waar is dit? Maar in die geval is dit aanvaarbaar. Hoe so?

se net ·

Wel ek se as hul n bank toe maak op n dorp, gaan na die opponent toe. Hoe kan jy diens wil lewer as daar nie n tak is nie? Eerlik, sekere klagtes en hulp is net verkrygbaar binne in n tak. Onthou daar is baie ou mense wat niks weet van internet banking of selfoon banking nie. Ag sies, mense moet deur hul nek betaal vir bankdienste maar daar is nie eens n bank op hul dorp nie. My ouers is oud en moet 120km ver ry om net by n kitsbank geld te trek. Dit is nou al 8jaar so. Ek dink dit is pateties. Hul het van FNB gebruik gemaak.

Nettie ·

@sê net – wel, in my eerlike opinie (ek is self ‘n FNB-kliënt) – is FNB die mees powere bank in die hele land, indien nie die wêreld nie. Hulle pas onbeperkte swart-op-wit rasse-diskriminasie toe (kyk maar hoeveel blanke werknemers daar by FNB-takke is en hulle TV-advertensies bevat omtrent NET swartmense en kleurlinge); hul aanlyndienste is net so power soos wat hul tak-dienste is. Nee wat, ek skuif eersdaags oor na Capitec Bank.

Santie ·

As soveel werke in die slag sou bly, stem ek saam dat hulle moet staak. Geen land kan bekostig dat soveel mense hul werk te laat verloor nie. Dan sit ons, die publiek met die telefoon en jy moet fyn luister waarheen om deurgeskakel te word om jouself te kan help. Wat het van klientediens geword? Dit is maar net die begin. Glo my.

Pieter ·

Ja santie en hoe dink jy werk dit oor see daar gooi jy tot jou eie brandstof in

Marinda ·

Baie dankie vir die howe wat die staking kon afweer. Die opsie om vir ‘n gedeelte van hulle salaris te werk maar steeds hulle werk behou, is nie vir vakbonde aanvaarbaar nie. Daar is heelwat instansies wat op hierdie wyse hulle werkers behou het. Wat maak hulle beter as ander? Indien die inkomste krimp, is daar menige wyses om die begroting tog te laat klop solank iemand sy werk met voordele kan behou en ‘n vaste inkomste het. Die vakbonde is nie hiervoor te vinde nie, want hulle inkomste word dan ook verminder. Hulle moet inderdaad begin dink hoe om afdankings te voorkom of te verminder! Geweld is nie die antwoord nie!

Viss ·

Marinda waar kom jy daaraan dat dit ‘n staking gaan wees met geweld,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,5,000 mense gaan hulle werk verloor waarvoor jy blykbaar geen begrip het nie. Maklik om snert kwyt te raak as jy nie in die bootjie sit nie,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,ek werk in ‘n Bank en daar is geen halwe salaris te betaal of so iets nie. Jy moet gaan oor en verby,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,

HOBBO ·

Solank as wat banke werknemer vermindering gebruik om sakewinste te verhoog sal hierdie n slegte smaak in mense se monde oorlaat. Die koste van bankwese het die hoogte ingeskiet. Banke wat op tradisionele koste heffings staatmaak sal altyd afleggings as spaar metode gebruik sonder werklike voordele vir die klient.

Ja nee ·

Die bloedbad van afdankings is te danke aan julle big brothers die anc vir hulle uitsonderlike hantering van die land se ekonomiese beleid

Jerry ·

Ai nou moet ek seker weer my geldjies gaan deponeer, die matras het darem goed gewerk vir een aand

Mariaan ·

Ceo’s van banke kry meer as n miljoen rand PER MAAND..hopeloos te veel…!! Nou wil hul personeel afdank om te spaar?? Nee nee…begin bo..dis waar die probleem is

Sêmaarnet ·

Dis waar begin sny aan die “fat cats” se astranomiese salarisse dan is dit onnodig om takke te sluit en personeel te verminder. Ek kan nie verstaan hoe ‘n CEO leef met al daai geld terwyl die mense wat eintlik die werk doen eintlik onder die broodlyn leef nie. Skaam vir julle

aj ·

Blameer die ANC en stem hulle uit!

Want miljoene wel-af bankkliënte het reeds die land verlaat … met hulle geld, as gevolg van die ANC se mislukte regering! Sonder wel-af kliënte het banke nie werk vir werkers nie.

COSATU en die SAKP was grotendeels verantwoordelik vir die toksiese ekonomiese situasie in SA deur hulle verpolitisering van arbeidswetgewing en -verhoudinge!

Daarom het miljoene werke verlore geraak (en meer verliese volg!) a.g.v. voortdurende TEISTERING van ondernemings en werkgewers.

Wél, nou moet die ANC, Cosatu en die SAKP alliansie opdok om die weksloses te voed! “Slim het sy baas gevang!”

Stem gerus wéér ANC!

Nou toe nou! ·

So alles is toe nie ANC se skuld nie maar tog die Gieriges met slap karre,bote en kolosale huise!

Attie. ·

Dink mooi oor wat die waarheid is. Ek en my vrou is bejaardes maar kom nooit in ‘n bank nie want onskan die die inheemseEngels praat nie. Onsdoen al ons sake elektronies of met ‘n debietkaart. Onsendie afgelope jare geen tjekuitgeskryf of ontvang nie en ek sal n tjek vandag weier. Vroeer was ons weekliksin die bank maar nou weet ek nie eens hoe lyk die Engelsedames daar nie. Al my aftrekorders is by een bank en my debietkaart. Al ons beleggings os by ‘n ander bank en met ons selfone betaal ons van tyd tot tyd geld oor na die eerste bank. As almal dit doen dan het die banke net 5% van hul personeel nodig en dan kan hulle die spul maar afdank. Dieselfde met die poskantoor. Ek het jare laas ‘n posseel gesien. Ek hou net die posbus aan omdat my munisipaliteit nie weet hoe om ons rekening per epos aan te stuue nie. Ek het so uitgesien na vandag se staking en nou het die hof dit verbied….so jammer. Die vakbonde sou vandag geleer het jy staak nie as die werkers te veel is en die werk te min is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.