Hof steek stokkie voor ANC-verkiesingskonferensie

ANC-se-vlag-deur-ANA

Foto: ANA

Die ANC se langverwagte verkiesingskonferensie in KwaZulu-Natal is opgeskort ná besorgde partylede se dringende aansoek Vrydagaand in die hooggeregshof in Pietermaritzburg goedgekeur is.

Regter Jacqui Henriques het die interdik goedgekeur en beslis dat die saak wat die aansoekers uit drie streke in KwaZulu-Natal gebring het, aandag moet geniet sodat die konferensie nie nadelig geraak word nie.

Die agtste verkiesingskonferensie sou hierdie naweek by die Universiteit van Zululand plaasgevind het om ʼn nuwe leierskap aan te wys.

Die aansoekers het aangevoer ʼn aantal sleutelkwessies moet aangespreek word voor die provinsiale konferensie, insluitend:
– dat sommige lede deur omstrede takvergaderings uitgesluit moet word;
– die uitgerekte vertraging om besware aan te spreek, wat beteken dat geskikte lede nie die konferensie sal bywoon nie; en
– vrae of afgevaardigdes wat die verkiesingskonferensie bywoon, voldoen aan die 90%-drumpel wat vereis word om só byeenkoms te hou.

Vinay Naidoo, vir die ANC, het aan die hof gesê die dringende aansoek kom neer op ʼn bemarkingsfoefie, aangesien die aansoekers al dae gelede geweet het die konferensie sal plaasvind, maar hulle het die hofsaak ter elfder ure gebring.

Die saak is om 15:00 aangehoor. Die aansoekers het egter deur hul verteenwoordiger, Cameron Benton, gesê hulle het besef die konferensies gaan voort ná ʼn vergadering Maandag deur die provinsiale struktuur.

Hy het gesê die konferensie sal ernstige implikasies inhou, en het verwys na moorde in die Moses Mabhida-streek as ʼn voorbeeld van dit wat gebeur as die kwessies nie opgelos word nie.

Die regter het beslis dat die konferensie nie moet voortgaan nie.

Kwazi Mshengu, voorsitter van die ANC-jeugliga in KwaZulu-Natal, het sy teleurstelling uitgespreek met die beslissing. Hy het gesê saak is ligsinnig en het verwys na die kort tydjie wat die regerende party gehad het om te reageer.

ʼn Verteenwoordiger van die ontstoke lede, Siyabonga Hlongwa, het gesê dié “vernederende episode” kon verhoed gewees het, as die leierskap na griewe geluister het. “Sommige van die kwessies duur al jare lank voort en die leiers het gekies om dit te ignoreer. Dit is hoekom ons vandag hier is,” het Hlongwa gesê.

Senior partylede is ná die uitspraak uitgejou terwyl hulle aan lede probeer verduidelik het waarom die provinsiale konferensie gekanselleer is. Afgevaardigdes het Gwede Mantashe verhinder om te praat. Hulle het liedere begin sing waar die party se houding jeens voormalige pres. Jacob Zuma bevraagteken word en Mantashe is daarvan beskuldig dat hy deel is van die faksie wat die aansoek vir die interdik gebring het. “As hierdie ʼn ANC-vergadering is, sal ek vanaand praat. As dit ʼn faksievergadering is, sal ek nie praat nie. Streeksvoorsitters moet met hul afgevaardigdes praat. Ek gaan vanaand praat,” het Mantashe aan die ontevrede ANC-lede gesê.

Mantashe het sy frustrasie ook op sy Twitter-rekening uitgespreek: “ʼn ANC-vergadering is deur ʼn minderheid ontwrig. As jy praat, comrade Sihle Zikalala, dan bly hulle stil. Hulle is onder die indruk dat hulle jou faksie is. Hulle is nie.”

Die vergadering is uiteindelik gekanselleer toe afgevaardigdes begin verdaag het. Dit sal na verwagting Saterdag hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

humor ·

En ons is aan hierdie trant van sake uitgelewer. Is ons gedoem om tot aan die voleinding daaronder gebuk te gaan?

Mariana ·

Ons mag nie die ou vlag waai nie…maar die ANC vlag mag waai…

Realis ·

Mariana hier het ons te doen met politiek. Swaai gerus jou politieke party se vlaggie! Hier is die kwessie van landsvlae nie ter sprake nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.