Hof steek stokkie voor wildspesies as ‘ras’

(Argieffoto ter illustrasie: Clifford Roberts)

Die Trust vir Bedreigde Wildlewe (EWT, ) het ʼn hooggeregshofuitspraak verwelkom wat eindelik sou kon beteken dat alle wildlewe in Suid-Afrika as “getemde vee” bestuur sou kon word en ingevolge die Wet op Diereverbetering as rasse beskou sou word.

Die trust is hof toe ná twee wysigings aan die wet (in 2016 en 2019) wat ʼn aantal wilde dierespesies as landrasse (inheems en plaaslik ontwikkel) of plaaslik aangepaste rasse (en wat gereeld voorkom) verklaar – ʼn besluit wat die hof nou omgekeer het.

Dié wilde dierespesies het ingesluit leeu, wit- en swartrenoster, jagluiperd, swartwildebees, blouduiker, blouwildebees, bosbok, steenbok, Kaapse grysbok, hert, swartwitpens, springbok, tsessebe en bastergemsbok.

Die EWT sê hy is gekant teen enige wilde spesie wat op dié manier tot “ras” verklaar word, en sê verskeie van die spesies op die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (en sy voorganger) se lys is boonop nie eens inheems aan Suid-Afrika nie.

“Die EWT bevorder die waarde en rol van wilde diere in natuurlike, vrylopende omstandighede wat bydra tot funksionerende ekostelsels en die voortsetting van ons natuurlike wêreld.

“Ons steun nie die vermeerdering van intensiewe wildlewe-teelfasiliteite wat geen bewese bewaringsvoordeel inhou nie,” het die organisasie ná die uitspraak gesê.

Die trust sê hy erken die waarde wat wildboerdery en die ekologies volhoubare gebruik van wildlewe vir Suid-Afrika het. Dit sluit in algehele inkomste uit die bedryf wat na raming meer as R10 miljard per jaar is en die indiensneming van meer as 70 000 mense.

Die wins uit wildboerdery dien boonop as aansporing om wildlewe in vrylopende omstandighede aan te hou, wat weer lei tot meer bewaring, habitatte en biodiversiteit in Suid-Afrika.

“Ons steun wildlewebewaringspraktyke wat binne die raamwerk van Suid-Afrikaanse wetgewing die ekologies volhoubare gebruik van wildlewe in natuurlike, vrylopende omstandighede bevorder,” sê die trust.

“Ons steun nie die toenemende neiging vir nywerheidskaalproduksie en bestuur van Suid-Afrikaanse wildlewe waar die praktyke nie ooreenstem met die beginsels van ekologies volhoubare gebruik, geen bewaringsvoordeel inhou, of waar algemene kommer oor die welstand van wildlewe bestaan nie.”

Nadat die wysigings aan die wet sewe jaar gelede bekend gemaak is, was daar groot openbare teenkanting, maar eindelik het net die EWT en die SA Jagters- en wildbewaringsvereniging regstappe gedoen.

Die EWT het sy aansoek in Januarie 2020 by die Pretoriase hooggeregshof ingedien en gevra dat die besluit om die wilde diere as rasse by die wet in te sluit, hersien en tersyde gestel word. Die trust het onder meer ook aangevoer daar was wetlike en prosedurele foute en dat daar nie genoeg openbare deelname tydens die proses was nie.

“Die EWT is verheug oor die uitspraak en loof die omkeer van ʼn besluit wat uiteindelik sou kon beteken dat alle wildlewe in Suid-Afrika as getemde vee bestuur kon word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

57 Chevy ·

Alle wild lewe in S.A as ” getemde vee kalisifiseer ………hahaha kwaai ! Lekker lag ek nou vir die grap . Het hierdie ouens nie n regte werk wat hulle besig kan hou nie .

Yolandie ·

En dan wonder hulle hoekom hierdie land in totale verval is, maar kan hulleself toespits op iets so totaal onbenullig. It just boggles the mind, you would think there is more pressing matters…….but ni we are concerned our wild animals will become racist LOL!!!!!!

Pietertjie ·

Die mensdom moet eerder weer in spesies verdeel word, om in te pas by die res van die nomenklatuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.