Hof steek tydelike stokkie voor SA se jagkwotas

(Argieffoto)

Die hooggeregshof in Kaapstad het tydelik ʼn stokkie gesteek voor die jaarlikse jagkwotas wat die departement van omgewingsake, bosbou en visserye in Februarie bekend gemaak het.

Ingevolge dié kwotas word trofeejagters vanjaar toegelaat om tien swart renosters, 150 olifante en tien luiperds te skiet.

Humane Society International – Afrika (HSI‑Africa) het die minister en departement oor die kwotas hof toe gesleep. Die organisasie het aangevoer dat die departement versuim het om te voldoen aan die konsultatiewe proses soos voorgeskryf in die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteit (Nemba) toe die besluit oor die kwotas geneem is.

Die hof het die tussentydse aansoek Vrydag toegestaan. HSI‑Africa sê hangende die finale uitspraak, gee die tussentydse verligting die organisasie kans om die minister se besluitnemingsrekord te hersien om te bepaal op grond waarvan sy die kwotatoewysings gemaak het.

Ingevolge die wetgewing moet ʼn omvattende openbaredeelnameproses van stapel gestuur word voor ʼn besluit soos die een oor jagkwotas geneem word. HSI‑Afrika het in die hof aangevoer die publiek is nie geraadpleeg nie – wat die besluit ongeldig en onreëlmatig maak; die kennisgewing vir die 2021-kwota, wat glo na 2022 oorgestaan het, was foutief en dus ook ongeldig en onreëlmatig; en laastens dat die departement nie ʼn kwota vir die trofeejag van olifante, swart renosters of luiperds sonder geldige nie-benadeling-bevindings mag uitreik nie.

Die finale bevel word binne die volgende twee weke verwag.

Wildbedryf SA (WRSA) het die tussentydse besluit egter as “skokkend” bestempel.

Richard York, uitvoerende hoof van WRSA, sê die organisasie staan by die wetenskaplike grondslag dat ʼn spesie nie op ʼn sogenaamde per spesie-vlak bestuur kan word nie, maar slegs op bevolkingsvlak.

Hy sê dit is moontlik dat ʼn spesie as bedreig bestempel kan word wanneer daar op makrovlak na alle onbeskermde gebiede in Afrika gekyk word. Terselfdertyd bestaan daar egter goed bestuurde private gebiede waar daar gesonde bevolkings van dieselfde spesies is en dat die spesies daar nie die gevaar loop om uit te sterf nie – ongeag die daling in getalle in onbeskermde gebiede.

“WRSA hou ook vol dat waar mense baie belê het en die moeite gedoen het om enige spesie te beskerm en te teel, daar geen geldige rede is om in te meng met die oes daarvan nie, veral nie as dit volhoubaar gedoen word nie,” sê York.

Die kwota, soos aangekondig deur min. Barbara Creecy en die departement, word volgens WRSA gegrond op behoorlike wetenskaplike beginsels en in ooreenstemming met die konvensie oor die handel in bedreigde fauna en flora (Cites) en Nemba.

York sê Suid-Afrika is een van verskeie lande wat dié soort jag toelaat en dat dit gegrond is op die beste beskikbare wetenskaplike inligting oor hul bewaringstatus en die versekering dat die jag van dié diere nie ʼn negatiewe uitwerking op die natuurlike bevolkings van die spesies het nie.

“Suid-Afrika steun die beginsel van verantwoordelike en volhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne. Navorsing het gewys dat trofeejag ekonomiese aansporing skep wat bewaring bevorder.

“Trofeejag skep ook ʼn nuttige wildlewebestuursmiddel en word gebruik om hoofsaaklik oortollige mannetjies uit ʼn bevolking te verwyder, terwyl ʼn inkomste terselfdertyd gegeneer word om die koste van die bewaringspogings te dek,” sê York.

Trofeejag word boonop streng gereguleer in Suid-Afrika, op ʼn internasionale, nasionale en provinsiale vlak tegelykertyd.

Die jagbedryf het in 2019 nagenoeg R1,4 miljard tot die ekonomie bygedra. Dié syfer sluit nie die bydrae tot die toerismesektor of jag- of wildkyk-verwante bedrywe in nie en York sê die inkomste wat deur trofeejag geskep word, is kritiek vir gemarginaliseerde en verarmde landelike gemeenskappe.

WRSA sal die hofsaak dophou en sê hy sal regstappe doen om die regte en beste belange van sy lede en Suid-Afrikaners te bevorder en te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

Sy sou dit net tot voordeel van haarself gedoen het. Krap maar, die antwoord sal gekry word.

Buks

As die idiote vir diere regte so aanhou gaan ons massas wild wat uitvrek in SA se natuur reservate sien. Olifante is die mees vernietegende element waneer dit kom by habitat. Hulle vernietig alles wat ander diere onderhou bome vir voël nesse en nagapies ensomeer, grasvelde, watergate. Dan waneer hulle alles opgevreet het en verniel het beweeg hulle aan na nuwe gebiede buite die reservate dan word hulle probleem diere. Dan is dit te laat en die veld vat 50 jaar om te herstel.

Jacob

Ongelukkig is die wet van Afrika, as dit nie betaal nie gaan dit nie oorleef nie. Ons sien dit in Kenia waar daar in 1977 ‘n jagverbod ingestel is en hulle wildsgetalle het met sowat 80% tot nou gedaal. In Suid Afrika was die totale stuks wild in 1962, privaat en in nasionale en provinsiale parke, sowat 550 000. Wild het waarde gekry omdat jagters al hoe meer bereid was om te betaal vir daarvoor en huidiglik het Suid Afrika sowat 22 miljoen stuks wild waarvan die grootste persentasie in privaatbesit is. Ek persoonlik kan nie verstaan waarom iemand ‘n… Lees meer »

Diline

Hierdie Minister se besluite laat mens wonder. Hoeveel keer was daar al hofsake oor die twak wat sy aanjaag en instansies dit moes keer. Lyk my sy het GEEN idee wat aangaan nie. Sit ook net in die pos vir die salaris en verder geen benul hoe om die werk te doen. TIPIES

Rudolph

Daar word oor die kwotas geredeneer.
Die werklikheid is dat hierdie ‘n wrede, bedryf is wat homself aan die verkeerde kant van die geskiedenis bevind, ‘n bedryf wat heeltemal uit voeling is met beskaafde norme, aangedryf deur sosiopatiese gedragsafwykings. Dit is ‘n klad op die moderne mensdom se waardes