Hof stuit Shell se eksplorasieregte

Ondersteuners van die applikante buite die hooggeregshof. (Foto: Lucas Nowicki)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die Oos-Kaapse hooggeregshof het bevind dat die eksplorasieregte wat die minister van minerale hulpbronne en energie aan Impact Africa en Shell toegestaan het, was onregmatig. Die uitspraak maak ʼn einde aan enige seismiese opnames langs die Wildekus.

Die regte, wat twee keer tussen 2014 en verlede jaar verleng is, het toestemming ingesluit vir wat ʼn omstrede seismiese opname geword het en in Desember verlede jaar voorlopig deur ʼn hofbevel gestuit is. Gemeenskappe langs die Wildekus en burgerregtegroepe het gekla dat daar nie behoorlik met hulle geraadpleeg is nie.

Die applikante het die hof daarna met die tweede deel van hul aansoek genader, dié keer om die toestaan van die regte ter syde te laat stel. Weens die belang van die saak en die kwessie wat daarin geopper is, het drie regters – regterpresident Selby Mbenenge, regter Zamani Nhlangulela en regter Thandi Norman – die aansoek aangehoor.

Mbenenge, wat die uitspraak geskryf het, het Donderdag gesê die belangrikste vraag is op die toestaan van eksplorasieregte vir olie en gas, wat gelei het tot die behoefte aan die seismiese opname langs Suid-Afrika se suidkus, regmatig was.

Die hof het opgemerk dat die kusgebied ʼn gewilde bestemming vir watersportentoesiaste is en dat die gemeenskap, wat van vissery vir ʼn inkomste afhanklik is, heelwat gebruike het. Dit is ook ʼn hawe vir mariene en voëllewe.

Die seismiese opname behels die afvuur van saamgeperste lug uit luggewere om klankgolwe te skep wat na die seebodem gerig word.

Impact Africa en Shell het nie omgewingstoestemming gekry om ingevolge die Wet om Nasionale Omgewingsbestuur die opname te doen nie. Die applikante het aangevoer dit is nodig en dat die belanghebbendes glad nie geraadpleeg is nie.

Daar was geen ontsag vir moontlike skade aan mariene en voëllewe nie, en ook nie vir gemeenskappe se spirituele en kulturele regte nie. Die applikante het voorts aangevoer die gebied verdien veral beskerming, gegewe die ekologiese waarde en die teenwoordigheid van kritiek bedreigde en beskermde spesies.

Shell en Impact Africa het aangevoer dit was nie nodig om omgewingstoestemming te kry nie, omdat die omgewingsbestuurprogram reeds ingevolge die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne (MPRDA) goedgekeur is. Hulle het ook aangevoer seismiese opnames is “roetine” en dat daar geen bewyse is dat dit skadelik vir mariene en voëllewe is nie.

Regter Mbenenge het gesê die minister het die hersiening teengestaan en “hom met Impact Africa en Shell geassosieer”.

Oor behoorlike konsultasie het die hof bevind dit behels werklike kommunikasie tussen partye met die oog om so ver moontlik konsensus te bereik en is nie ʼn lys wat net afgemerk kan word nie. Boonop is die MPRDA onderhewig aan die Grondwet en die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting.

Die regter het bevind in hierdie geval is die proses egter gedwarsboom.

Mbenenge het ook bevind die minister se versuim om gemeenskappe se regte, klimaatsverandering en skade aan mariene en voëllewe in ag te neem, ʼn doodskoot was vir sy besluit om die regte in die eerste plek toe te staan.

“Dit is duidelik aangetoon dat die besluit [om die regte toe te ken en te hernieu] nie voorafgegaan is deur ʼn billike proses nie, dat die besluitnemer versuim het om tersaaklike oorwegings in ag te neem en aan die relevant wetlike voorskrifte te voldoen.”

Hy het die hersiening toegestaan. Dit verhoed Shell nou om voort te gaan met die seismiese opname.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Samuel ·

Ek verheug my oor die hofuitspraak. Hopelik sal die geldmag besef geld is níé alles nie.

Pieter J ·

Ek kan nie onthou dat daar nog enige bewyse voor die hof gebring is van hoe die seelewe deur hierdie eksplorasie benadeel is nie, slegs bewerings sonder enige bewyse.

annie ·

… hersiening… Dit klink nie goed nie. Mantashe wíl ‘n oligarg word. Hy sal aanhou. Waarom nie olie koop nie? Ons het ander skaars produkte, maar nee… Waarom Shell so knaend om SA rondhang, is eenvoudig. Groot geld, al is dit net uit die soektog te make. Afrika kla vir eeue oor kolonialisasie maar por dit self aan vir eie gewin soos met die destydse slawehandel: Verkoop hul eie kinders vir krale en drinkgoed. Shell is min gepla oor ons seelewe want Sjina is die grootste visterman in die buurt.

Vincent ·

Oooeee, iemand gaan vir Shell ‘n krediet moet gee …..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.