Hof verbied kragonderbrekings by dié munisipaliteit

Argieffoto: GCIS

Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydag ʼn dringende tussentydse interdik teen kragonderbrekings deur Eskom toegestaan.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, het dit as ʼn oorwinning vir betalende elektrisiteitsverbruikers bestempel.

Ingevolge die bevel word Eskom verbied om krag na die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit af te skakel, hangende ʼn hersieningsaansoek wat teen 29 Junie ingestel moet word.

“Die aansoek is ingedien deur besorgde inwoners van die plaaslike munisipaliteit, verteenwoordig deur Andreas Peens Prokureurs en advokate H van Eeden SC, DH Wijnbeek en KT Mathopo. AfriSake ondersteun die aansoekers finansieel, as deel van sy veldtog om ʼn dreigende ekonomiese krisis in plaaslike munisipaliteite landwyd af te weer,” het Le Roux gesê.

Le Roux het sy gelukwensinge uitgespreek: “Ons wens die betalende inwoners van Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit en hul regspan geluk met die oorwinning.”

AfriSake bestudeer tans die uitspraak met die oog op benutting daarvan in ander plaaslike munisipaliteite en vir ondersteuning in die komende hersieningsaansoek. “Dit was ʼn belangrike veldslag, maar daar is nog baie wat gedoen moet word om te verseker dat elektrisiteitsverbruikers kry waarvoor hulle betaal.”

Die aansoek volg op kennisgewings deur Eskom na inwoners van die gebied dat hul krag onderbreek sou word in die lig van die plaaslike munisipaliteit se agterstallige elektrisiteitsrekeninge. Eskom wou hierdie onderbrekings instel ongeag die feit dat baie elektrisiteitsverbruikers in die gebied op datum met hul rekeningbetalings is, of selfs vooruit reeds vir hul elektrisiteit betaal het.

Landwye veldtog

AfriSake tree tans in om ekonomiese krisisse landwyd af te weer, met verskeie plaaslike munisipaliteite wat elektrisiteitsafsluitings deur Eskom te wagte is. “Dit is AfriSake se standpunt dat Eskom, nieteenstaande agterstallige munisipale elektrisiteitsrekeninge, in wese onbillik optree met elektrisiteitsweerhouding van ondernemings en ander eindgebruikers met opbetaalde rekeninge of selfs voorafbetaalde elektrisiteit.”

AfriSake het sy lede en die publiek uitgenooi om bewyse van Eskom se voorneme om elektrisiteit af te sluit, waaronder kennisgewings en kort beskrywings van die situasie, op sy webblad in te dien.

Volgens hom is ander dorpe en munisipaliteite wat moontlik geraak kan word Koster en Swartruggens (Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit), Naboomspruit/Mookgophong (Modimolle- plaaslike munisipaliteit), Barkly-Wes (Dikgatlong- plaaslike munisipaliteit), Vryburg (Dr Ruth Segomotsi Mompati-distriksmunisipaliteit) en Secunda (Govan Mbeki- plaaslike munisipaliteit).

Le Roux meen dat Eskom se optrede administratief gebrekkig, onbillik en teenproduktief is. “Eskom is ’n monopolie beskerm deur regeringsregulasies wat vrye mededinging verhoed, iets wat ondernemings en ander verbruikers van alternatiewe elektrisiteitsverskaffers sou voorsien. Verder word mense gedwing om Eskom te betaal via wanbetalende plaaslike owerhede, wat in wese as Eskom-invorderaars optree, maar terselfdertyd nalaat om die geld aan Eskom oor te betaal. Nou wil Eskom elektrisiteit weerhou, nie net van verbruikers wat op datum met hul rekeninge is nie, maar selfs van diegene wat voorafbetaalde elektrisiteit gekoop het.”

Le Roux meen verder die skade aan plaaslike ekonomieë sal aansienlik wees en sulke munisipaliteite in ’n neerwaartse spiraal dompel. “En dit is om nie eens te praat van die humanitêre nagevolge, wanneer hospitale, skole, rioolaanlegte, verkeersligte en ander openbare infrastruktuur sonder elektrisiteit sit nie,” sluit Le Roux af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Soms droom ek oor waar hierdie land kon gewees het as Eskom, SAA, Transnet, Prasa, en andere, asook al ons munisipaliteite hulle volle potensiaal kon bereik het en die mense van hierdie land opgehef het in plaas van uitgebuit het……….dan sug ek maar.

Verstaan net glad nie. ·

Ek verstaan dit glad nie. Die dorp het al meer as n jaar koopkrag. Hoekom word eskom nie betaal nie.

Rudolph van Wyk ·

Die berig is misleidend. Dis nie ‘n oorwinning vir betalers nie. Dis ‘n oorwinning vir wanbetalers want enige insentief wat daar was ivirnwanbetalers om betalers te word is nou weggeneem deur die hof. Hoekom sal ‘n wanbetaler nou wil betaal? Die krag is mos nou aan danksy die kostes wat die betalers aangegaan het om ‘n hofbevel te kry. Jippie! Die RSA is darem ‘n lekker plek

Kosie ·

Ek stem. In plaas daarvan dat die munisipale bestuur hof toe gesleep word, moet Eskom nou pa staan vir die agterstallige skuld?Hoe kan mens n besigheid so bedryf… As Eskom nie sy skuld invorder nie is dit Eskom wat sleg is, indien Eskom sy skuld wil invorder is hy ook sleg? Waar is die logika hierin?

Pieter ·

Verkeerd, dit is nie Eskom wat die krag van wanbetalers afsny nie , dit doen die munisipaliteite self.

Gemaskerde Sopbeen ·

Hoe gouer AL die huise in Suid Afrika voorsien word van ‘n voorafbetaalde elektrisiteits-meter hoe beter………..maar die munisipaliteite kan dit nie bekostig nie, want waar gaan hulle DAN al hulle Kersfeesbonusse opmaak met hulle “skattings”?

Jaycee ·

Die munisipaliteite volg ‘n simpel voorskrif: verhoog eenvoudig die tariewe op ander dienste, van diegene wat wel hulle rekenings betaal. So onderhou die betalers die nie-betalers.

zoom zoom ·

Tshwane munisipaliteit betaal van hulle werkers om in Centurion Mall inkopies te doen en om by Lyttleton se biblioteek te stop met ‘n amptelike law voertuig om dan die res van die dag op die gras te lê en saam met die son te trek tot hulle weer moet huistoe moet gaan. Dan is hulle vol energie soos die son hulle gebak het.

KP ·

Dit is nie Eskom nie maar die Munisipaliteit wat die krag moet sny na wanbetalers maar hulle sal dit mos nie doen nie want dan word alles afgebrand en stukkend gegooi. Die vraag is net hoe gaan Eskom sy skuld invorder van Munisipaliteite wat nie betaal nie sonder om die betalers ook af te sny. Hulle moet die Munisipale bestuurder en Burgemeester verantwoordelik hou en hou hulle groot salarisse terug.

snoefie ·

munisipaliteite, nie eskom nie, deel graris elektriseteit, water en dienste uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.