Hof veroordeel vals klag van rassisme teen polisievrou

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die arbeidshof het verlede week uitspraak gelewer ten gunste van Solidariteit in ’n saak waarin een van sy lede in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) valslik van rassisme aangekla is.

Renate Barnard, sektorkoördineerder van Solidariteit se openbare sektor, het Vrydag in ’n verklaring gesê ’n formele grief van beweerde rassisme is in 2018 teen een van dié beweging se lede, ’n bevelvoerder in die SAPD, ingedien waarna Solidariteit die arbeidshof genader het.

Die hof het verlede week in die bevelvoerder se guns bevind. Luidens Solidariteit se verklaring het die hof beveel dat die SAPD onmiddellik departementele stappe vir ernstige wangedrag, naamlik onbillike diskriminasie, teen die persoon moet instel wat die grief teen die bevelvoerder gelê het. Die hof het die SAPD ook gelas om die bevelvoerder te vergoed vir die skade wat sy gely het weens die onbillike diskriminasie waaraan sy onderworpe was asook vir die SAPD se versuim om die nodige stappe ingevolge die Wet op Billike Indiensneming te doen nadat die grief gelê is.

Volgens Barnard is daar verskeie gevalle in die SAPD waar ondergeskiktes vals klagtes van rassisme teen hul bevelvoerders indien wanneer bevelvoerders poog om dissipline en orde in die werkplek te handhaaf. Dit was die geval in dié betrokke saak, sê Barnard.

“Dit is werklik jammer dat ’n werkgewer soos die SAPD, wat ’n wetstoepasser is en veronderstel is om onpartydig en apolities te wees en konsekwent teen wetsoortreders moet optree, deur ’n hofbevel gedwing moet word om die wet na te kom,” voer Barnard aan.

“Hierdie saak skep werklik ʼn uitstekende presedent vir Solidariteit. Werkgewers sal ook moet kennis neem van hul verpligting soos vervat in artikel 60 van die Wet op Billike Indiensneming. Die uitspraak het ʼn impak op alle werkgewers in die staatsdiens sowel as die private sektor. Hulle sal voortaan proaktief en daadwerklik moet optree om diskriminasie in die vorm van valse klagtes van rassisme uit die weg te ruim,” meen Barnard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eerlik ·

Soos ek mos sê, die enigste “get out of jail free card” gooi die rassisme kaart. Gelukkig kom die een nie weg met die belaglike aantuigings nie maar meeste kom maar weg daarmee.

Daleen ·

Tewis 2 jaar is beter as NIEMAND wat omgee nie. Dankie Solidariteit vir julle “Pitbull” houding…. Los nie sommer net saak omdat dit lank vat nie.

Michael 1 ·

Kom ek stel dit dan so sodra huidige benaadeeldes iets doen of sê waarmee vorige benaadeeldes nie tevrede is nie word net die huidige benaadeeldes van rasisme aangekla of beskuldig wat regtig wys dat die teenoorgestelde eintlik waar is.

Jaco ·

as jy wit is in Suid-Afrika, BLY DAN WEG uit bestuursposte. ek weet die salaris is seker baie goed, maar saam met al daardie geld kom KLOMP verantwoordelikhede waaroor jy, vereal as jy wit is, met arendesoe dopgehou word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.