Hof verplig Zuma om voor Zondo-kommissie te verskyn

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: AP)

Die konstitusionele hof het Donderdag beslis dat oudpres. Jacob Zuma voor die Zondo-kommissie van ondersoek oor staatskaping móét verskyn.

Zuma word ook verplig om getuienis voor die kommissie te lewer en het geen reg om voor die kommissie te swyg mits hy nie kan bewys dat sy antwoord op die kommissie se vrae selfinkriminerend is nie.

Die 78-jarige Zuma speel sedert 2018 kat en muis met die kommissie wat op die been gebring is om die plundery van staatskoffers tydens sy nege jaar lange bewind te ondersoek.

Maroela Media het vroeër berig die oudpresident het nog net een keer voor die kommissie getuig, in Julie 2019, maar het na ʼn paar dae onttrek en aangevoer hy word soos ʼn beskuldigde eerder as ʼn getuie behandel.

Hy het in November weer vlugtig voor die kommissie verskyn om te eis dat die voorsitter, adjunkhoofregter Raymond Zondo, hom aan die saak onttrek.

Die kommissie het daarna ʼn nuwe dagvaarding uitgereik en ʼn dringende aansoek by die konstitusionele hof ingedien om Zuma te dwing om daaraan te voldoen.

Die konstitusionele hof het nou gelas dat Zuma die koste vir die aansoek moet betaal.

Die DA verwelkom die uitspraak en sê dat die Zondo-kommissie eenvoudig nie sy werk sou kon afhandel sonder die oudpresident se getuienis nie.

“Die speletjie is nou verby vir Zuma. Indien hy nie vir sy getuienis verskyn nie, moet hy in hegtenis geneem word,” sê adv. Glynnis Breytenbach, DA-skaduminister van justisie.

Breytenbach wys ook daarop dat Zuma al jare lank sy spreekwoordelike dag in die hof ontduik.

“Hy het dieselfde strategie gebruik om nie te getuig in die saak na staatskaping nie hoewel hy by baie geleenthede geëis het dat sy naam in ere herstel word.

“Hierdie aansoek was ʼn laaste, desperate poging om openbare aanspreeklikheid te vermy en die hof het die laaste woord. Zuma se dag het inderdaad nou aangebreek en daar is geen hoek meer waarin hy kan wegkruip nie.”

Breytenbach beskryf die uitspraak as ʼn oorwinning vir Suid-Afrikaners en die kommissie wat al jare op Zuma wag om te getuig oor sy rol in staatskaping.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

tweeling ·

15 Februarie moet hy verskyn. Hy behoort soos ‘n beskuldigde te voel vir die feit dat hy indirek vir die diefstal van minimum R9 biljoen verantwoordelik is.

Mauritz ·

Ek sien geen waarde in Zuma se verkyning voor die kommissie nie. Sommige getuies (geen name) lieg soos tandetrekkers.

JohanNL ·

@Mauritz, ek weet nie of jy reg is of nie (ek vermoed jy is), maar as jy bewyse het dat sommige van die getuienis lieg soos tandetrekkers, moet jy `n voorlegging doen aan die kommissie.

Cherokee ·

Wanneer iemand my iets wil vertel, en begin met die aanhef: “Sal nou nie name noem nie…” dan verander ek die lyn van die gesprek net daar.

JohanR ·

Dubai toe na die Gupta-broers? Het hy nie 25 vroue en 105 kinders om saam te vat nie?

JohanR ·

Mmmm agh mmmm agh he he he ha….keel skoonmaak….mmmmm agh mmmmm agh he he ha ha….keel padda uitspoeg!

Kerneels ·

Hulle moet maar vir hom ‘n bakkie pepperminte gereed kry…

Alet ·

Ag hierdie is ook net een of ander raad vir weet nie wat nie. Niks gaan gebeur nie. Niks het nog ooit gebeur nie. Wat wel gebeur het is dat op die Bloomberg’s Covid Resilience rating is Suid Afrika tweede laatse op die lys van alle lande in die wereld van waar om nie woonagtig te wees tydens die pandemie nie. Dis net slegter om in Mexiko te bly as in RSA. Self die ander Afrikan lande is bo Suid Afrika. Niks meer te sê nie. Dalk kan MM die berig publiseer.

Ou bees ·

Wil dit nog sien. Hy was al klaar met handskoene gehanteer die vorige keer.

Sarel ·

Daar was altyd op Zuma gekonsentreer maar deesdae gaan dit veel erger.
Sover ek weet is hy nog in besit van sy Paspoort en besit glo eiendom in Dubai. Maar ek dink nie hy kan bekostjg om daar te bly nie. Ek glo Zimbabwe of Britanje sal hom verwelkom
Kyk wie is Voorsitter van die sg. Zuma Stigting. Wonder wat doen hille?

Sobymykoolkop ·

Hy gaan net 2 antwoorde hê, ek kan nie onthou nie en ek gaan my nie self inkrimineer nie . Geen nut hy gaan getuig nie.

Dirk Mostert ·

Jy mag swyg as jou getuienis selfinkriminerend is? Wat ‘n klug is ons regstelsel. Volgende sal Zuma ‘n dag voor hy moet getuig met iemand in aanraking kom wat positief getoets het. Dan kan hy kwarantyn gebruik om sy verskyning weereens uit te stel.

Casper ·

Nou moet hy voor die kommisie verdwyn en getuig en sy strafsaak gaan voort.Hy het mos gesê hy gaan eerder tronk toe as om voor die kommisie te getuig.Voel hy nog so wonder ek.

Vrijburger ·

Mmmm wonder watse siekte hy gaan ontwikkel om nie te verskyn nie.
(Leef sy maatjie Schabihr nog?)

Kerneels ·

Jy gaan die Covid kaart speel. Nes Dirk Mostert hierbo voorspel…

andre ·

Regtig?? 100,000 mense is al gearresteer oor hulle nie maskers dra nie of op die strand geloop het. Nog nie EEN staatskaper is gearresteer of aangekla nie. Zondo kommissie is n klug. Al wat Zondo doen is sit en kwaak in die getuienis verhore, verder gebeur niks. Zuma sal NOOIT toegesluit word nie

Riaan ·

En al sy antwoorde gaan seker weer wees “I cannot remember”.

Jerry ·

Al die kaders is boeties, Zuma sal nooit in der ewigheid verantwoordelikheid neem nie

Theo ·

Die kommissie is die grootste klug wat daar is.Net nog n voorbeeld van hoe ons belasting geld gemors word.Ramaparra sal sorg dat daar niks met Zuma of een can sy rasistiese commrats gebeur nie.

Hennie J ·

Ou snaar, ek wil voorstel dat jy en jou pelle by die ssa baie gou n ernstige siekte uitdink en dat julle die dokters wat vir shabir losgelieg het, taak om dit weer te doen met jou.

Dries ·

Ek sien groot gemors. As hy weier om te getuig moet hy gearristeer word. Zuma beweeg nerens sonder n hele antourage van swart karre en sekuriteits personeel wat hom beskerm. Hoe gaan hulle hom arresteer sonder groot konflik. Gaan sy personeel terug staan en net kyk. Ek wil dit sien

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.