Hof verwerp appèl oor verkoop van Mango

Die lugredery Mango is in 2021 onder sakeredding geplaas. (Foto: Mango/Facebook)

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se appèlaansoek teen die afhandeling van die verkoop van die lugredery Mango van die hand gewys.

Die departement het aansoek gedoen om verlof tot appèl teen ʼn vorige uitspraak waar Gordhan opdrag gegee is om ʼn besluit te neem oor die verkoop van Mango.

Die uitspraak, wat op 6 September gelewer is, het Gordhan 30 dae gegee om te bevestig of die verkoop van Mango deurgegaan het al dan nie.

Sou die transaksie suksesvol wees, sal Mango nie verder deur die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en die departement besit word nie – en dus sal hulle nie meer aandeelhouers wees nie – maar sal dit eerder in die besit van ʼn private ekwiteitsvennoot wees.

Die hof het Gordhan se versuim om ʼn besluit oor die aangeleentheid te neem as “onwettig en grondwetlik ongeldig” verklaar en dit tersyde gestel.

Gordhan is egter nog 30 dae gegee om aan die oorspronklike hofuitspraak gehoor te gee en indien hy versuim om ʼn besluit oor die verkoop van Mango te neem, kan die betrokkenes aanvaar dat die transaksie suksesvol is.

Mango is in 2021 onder sakeredding geplaas, maar ná ʼn gewysigde sakereddingsplan is daar ooreengekom dat ʼn private ekwiteitsvennoot die sukkelende lugredery sal oorneem en weer op die been bring.

Hoewel alle voorwaardes nagekom is, is Mango se bedrywighede steeds vir eers gestaak omdat dit onduidelik is of die lugredery nou wel verkoop is.

Die metaalwerkersvakbond Numsa sê die departement se gesloer beteken dat talle oudwerkers van Mango steeds werkloos sit.

“Numsa was by hierdie saak betrokke omdat ons nog lede het wat by Mango werksaam was,” sê Irvin Jim, Numsa se sekretaris-generaal.

“Al is dié lede afgedank, het ons met die sakereddingspraktisyns onderhandel dat Mango se oudwerkers voorkeur vir indiensneming sal geniet wanneer die lugredery weer in bedryf is.

“Maar Gordhan se besluiteloosheid veroorsaak dat werkers, die lugredery en die voorkeurbieër onbepaald in die lug hang.”

Volgens Numsa is Gordhan se appèlaansoek “nog ʼn poging om die ooreenkoms te saboteer”.

“Die departement het ʼn lys van absurde redes saamgestel om die vertragings in die besluitnemingsproses te regverdig,” sê Jim.

“Gordhan bestuur die mees strategiese portefeulje wat gelas is met die taak om die ekonomie te laat groei, maar sy mislukkings vernietig die ekonomie.”

Numsa vermoed dat verdere pogings deur Gordhan om teen die uitspraak te appelleer ook sal faal, “daarom eis Numsa dat hy ophou belastingbetalersgeld mors en net die verkoop van Mango goedkeur”.

Die vakbond het nogtans die hooggeregshof se jongste uitspraak verwelkom en sê dit help om die belange van sy lede en die toekoms van Mango te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.