Hof verwerp skelm raadslid se aansoek

Argieffoto.

ʼn Voormalige ANC-raadslid van die Nelson Mandelabaai-metro se regspan gaan die hooggeregshof nader om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer nadat hy aan bedrog en geldwassery skuldig bevind is.

Bongo Nombiba (43), ʼn voormalige raadslid van Wyk 20, is in Maart in die hof vir kommersiële misdade in Port Elizabeth skuldig bevind en effektiewelik tot vyf jaar tronkstraf gevonnis.

Nombiba het ná sy vonnis ʼn nuwe regsverteenwoordiger, adv. Vuyisile Calaza, aangestel en ʼn aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis is by die hof vir kommersiële misdade ingedien.

Dié hof het Maandag die aansoek van die hand gewys.

Calaza het ná Maandag se beslissing aangedui ʼn aansoek om verlof tot appèl gaan nou by die Oos-Kaapse hooggeregshof in Grahamstad ingedien word.

Nombiba is skuldig bevind dat hy R20 000 se donasiegeld in sy sak gesteek het wat vir ʼn nieregeringsorganisasie, die Thulamangwane-gemeenskapsprojek, bedoel was.

Dié gemeenskapsprojek verskaf onder meer dienste om na bejaardes om te sien en skole in die gemeenskap skoon te maak.

In 2014 het Zukiswa Mbhem, Thulamangwane se sekretaris, en Mandisa Monco, die ondervoorsitter, vir Nombiba genader en ʼn skenking van R10 000 van die metro versoek om hulle finansieel by te staan. Die raadslid het die organisasie versoek om ʼn skriftelike aansoek in te dien met die bedrag geld wat verlang word.

Gedurende September 2014 is ʼn amptelike skriftelike aansoek opgestel wat deur die sekretaris en ondervoorsitter onderteken is. Geen bedrag het egter op die aansoek gestaan nie.

Nombiba het daarna die finansiële aansoek by die metro ingedien, maar ʼn bedrag van R30 000 namens die organisasie versoek.

In November 2014 het die metro R30 000 in Thulamangwane se bankrekening inbetaal. Nombiba het aan die bestuur verduidelik dat die metro die skenking goedgekeur het en het hulle versoek om hom na die bank te vergesel waar hy R20 000 van die geld in sy sak gesteek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

snoefie ·

goed en wel en geskikte vonnis vir die misdaad. maar…. wat van supra, ace en zuma en kie? hoekom kan die kinders nie self hulle skole skoonmaak en skoon hou nie? dis hulle wat daar mors!

marous ·

Tussen hom en die advokaat moet nog ‘n prokureur ook wees … almal nuut .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.