Hof verwys aansoek om heropening van skole te keer

(Argieffoto)

ʼn Aansoek om die departement van basiese onderwys te verhoed om kontakonderrig op 1 Junie te laat hervat is deur die hooggeregshof van die hand gewys.

Die Tebeila Institute of Leadership, Governance and Training het ʼn dringende aansoek in die hooggeregshof in Limpopo gebring om die departement se besluit om sekere grade van 1 Junie toe te laat om terug te keer skool toe, ter syde te stel. Dié private instansie is van mening dat die regering se plan om skole te heropen kinders in gevaar stel om die koronavirus op te doen, aangesien hulle nie verantwoordelik genoeg is om hulself te beskerm nie. Die instituut het ook aangevoer dat meeste sakeondernemings steeds tydens vlak 4 van die inperking gesluit is. Die instituut stem wel saam dat matriekleerders so gou moontlik weer moet teruggaan skool toe.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het verlede week aangekondig dat onderwysers van 11 Mei stelselmatig sal kan terugkeer skool toe. Gr. 7- en gr. 12-leerders kan dan van 1 Junie terugkeer skool toe. Ander grade sal geleidelik toegelaat word om kontakonderrig te hervat.

In antwoord hierop het die departement aangevoer dat die minister nie oornag met die plan vorendag gekom het nie en dat verskeie rolspelers in die besluit geken is. Die departement sê ook die finale besluit om skole te heropen lê by die nasionale Covid-19-bevelsraad.

Regter Gerrit Mulder het die saak Dinsdagmiddag van die hand gewys omdat hy meen dat die hooggeregshof in Limpopo geen jurisdiksie oor die saak het nie. Hy sê die hooggeregshof in Pretoria is eerder opgewasse om die saak te hanteer, aangesien die departement se kantore hier geleë is.

Die departement het die hof se uitspraak verwelkom en sê die departement sal nou voortgaan met die implementering van veiligheid -en gesondheidsmaatreëls ter voorbereiding van die terugkeer van leerders na skole.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Voor ons toegesluit was het ouers baklei omdat skole toegemaak word en kinders die heel laagste risiko is. Nou baklei hulle omdat skole wil oopmaak.
Die ouers wat graag wil hê hulle kinders moet skool toe gaan moet nou lei onder die wat baklei om dit toe te hou.
Maak die skole oop , maar maak bywoning nie verpligtend tot die virus verby is. Gun elke ouer die reg om self te kies of hy sy kind wil skool toe stuur of nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.