Hof vra hoekom hy moet ingryp oor Zuma

Hoofregter Mogoeng Mogoeng. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die konstitusionele hof het Dinsdag uitspraak voorbehou in die saak of die parlement die proses aan die gang moet sit om pres. Jacob Zuma in ʼn staat van beskuldiging te plaas.

Adv. Dali Mpofu, vir die United Democratic Movement (UDM) en die Congress of the People (Cope), het in sy slotbetoë gesê die speaker van die nasionale vergadering het ʼn grondwetlike verpligting om aanspreeklikheid te verseker, nie as ʼn lid van die parlement nie, maar as die speaker. Hy het bygevoeg ʼn onpartydige speaker sal alle aspekte in dié verband in ag neem.

Die EFF het ʼn verklarende bevel aan die parlement gestuur om te versoek dat die parlement Zuma se gedrag beoordeel en bepaal of dit genoegsame gronde is om hom in ʼn staat van beskuldiging te plaas nadat die konstitusionele hof bevind het hy het sy ampseed verbreek en die Grondwet oortree. Die aansoek is gebring in terme van artikel 89 van die Grondwet.

Die konstitusionele hof het in Maart verlede jaar in ʼn verdoemende beslissing gesê Zuma het versuim om die Grondwet die handhaaf, te verdedig en te respekteer toe hy nie gehoor gegee het nie aan die regstellende stappe wat die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, aangedui het. Dit kom nadat meer as R200 miljoen van belastingbetalers se geld gebruik is om opgraderings aan Zuma se Nkandla-woning te doen.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi vir die EFF het Dinsdag gesê die party het drie keer aan speaker Baleka Mbete geskryf en sy het die EFF se versoek al drie keer geweier. Hy het aangevoer Mbete het haar plig versuim deur te weier dat ʼn kommissie van ondersoek, met ʼn regter as voorsitter, of ʼn multi-dissiplinêre komitee Zuma se gedrag ondersoek.

Adv. Ngwako Maenetje vir Mbete het vroeër toegegee dat Zuma se oortreding van die Grondwet ʼn “ernstige” saak is en het saamgestem dat die speaker die proses aan die gang kan sit om Zuma in ʼn staat van beskuldiging te plaas. Hy het gesê die parlement het egter die nodige stappe gedoen om Zuma aanspreeklik te hou.

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

“As ʼn prokureur van die Nasionale Vergadering aanvaar ons hierdie ernstige oortreding van die Grondwet,” het Maenetje gesê. “Die speaker bring nie ad hoc-komitees op die been nie. Dit is die verantwoordelikheid van die Nasionale Vergadering. Sy het nie die mag [om dit te doen] nie. Omdat die speaker die rol van ʼn skeidsregter speel, sal dit vir haar teenstrydig wees om die verwydering van die president aan die gang te sit.”

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het hom gekorrigeer en gesê: “Dit kan nie wees dat die speaker nie ʼn proses om die president in ʼn staat van beskuldiging te plaas aan die gang kan sit nie.” Maenetje het ingestem.

Vroeër het Maenetje aangevoer verskeie stappe is gedoen om Zuma aanspreeklik te hou vir sy oortreding van die Grondwet ná die Nkandla-uitspraak. Hy het bygevoeg dat die Grondwet dit nie stel as die president nie in ʼn staat van beskuldiging geplaas word, dat daar geen stappe gedoen is om hom aanspreeklik te hou nie.

Ngcukaitobi het ook aangevoer dat die kritiese ondersoek van Zuma se optrede tydens die mosies van wantroue in hom nie op genoegsame ondersoek deur die regerende party neerkom nie, aangesien die ANC “eenvoudig deur die voorstel gejaag het” en nie die saak behoorlik oorweeg het nie. Hy het gesê die EFF vra dus die hof om die parlement opdrag te gee om te oorweeg of daar gronde is om Zuma in ʼn staat van beskuldiging te plaas.

Hy het gesê die EFF dring aan op ʼn feitelike ondersoek wat Zuma sal toelaat om sy kant van die saak te stel en kruisondervra te word.

Ngcukaitobi het egter gesukkel om Mogoeng te oortuig hoekom die saak in die konstitusionele hof aangehoor moet word aangesien die hof reeds ʼn uitspraak gelewer het oor Zuma se gedrag. Mogoeng het ook gevra hoekom opposisiepartye nie die speaker nader om te versoek dat ʼn ad hoc-komitee in die parlement op die been gebring word nie.

Mogoeng het beklemtoon die hof benodig duidelikheid hoekom hy moet ingryp by die parlement se beweerde onvermoë om Zuma aanspreeklik te hou sonder om die skeiding van magte te oorskry. “Elke been van die staat het ʼn rol om te speel. Ek wil seker maak dat die hof nie die parlement se verantwoordelikheid oorneem nie,” het Mogoeng gesê.

Mpofu het gesê daar was ʼn hiërargie van aanspreeklikheidsmaatreëls in die parlement wat begin by vraag-en-antwoord-sessies en eindig by ʼn staat van beskuldiging. Mpofu het vroeër gesê Zuma se oortreding van sy ampseed en sy oortreding van die Grondwet is nie bona fide nie. Hy het gesê Zuma moet voor ʼn kommissie van ondersoek geroep word om te bepaal of sy oortreding van die Grondwet ʼn eerlike fout of ʼn doelbewuste daad was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Realis ·

Ja lyk my min mense verstaan Afrika politiek. Zuma het homself omring met ondersteuners en kaders wat lojaal is aan hom. Van die howe tot die polisiekommissarisse, die openbare vervolger, regters, en almal in alle hoë posisies wat enigsins enige gevaar vir hom kan inhou is vervang met kaders, met sy lojale ondersteuners wat GEEN negatiewe besluite teenoor hom sal neem nie, en geen vervolging teen hom instel nie, en as daar enige vervolging is sal hulle hom onskuldig bevind. Wie dink regtig nog dat hier enige reg en regverdigheid in SA is? VERAL wat die parlementariers aanbetref, Faith is nie vervolg nie, Zuma is nie vervolg nie, Julius is nie vervolg nie .. vir oortredings wat ander mense 15 jaar en meer tronkstraf gekry het, is nie ‘n oog geknip toe hierdie mense dieselfde oortredings begaan het nie.

JC ·

Goeie en oortuigende punte wat jy maak Realis, “ons werk nie so in Afrika nie”. (want SA is nou ‘n volwaardige Afrika land, ne)
Wat ons Afrikaners betref, laertrek is maar ons toekoms; let wel; nie ‘n opsetlik of doelbewus verkose besluit nie; maar op ons afgedwing. Dit laat die vraag ontstaan of ons OOIT enige ander keuse gehad het as die voorgenoemde, en laat ook vraagtekens ontstaan oor die, nou weloorwoe en geykte hippokritiese bevraagtekening, van die legitimiteit of/en moraliteit v/d vorige bestel se optrede en beleide.

Karma ·

Regter Mogoeng is op Zuma se ‘payroll’ – dit is hoekom hy so moeilikheid het met die begrip van “Het Zuma geweet dat wat hy doen, verkeerd is?” en “Die hof moenie die rol van die parlement oorneem nie” en waarom die saak in die ConCourt aangehoor moet word.

Doreen ·

Regters ken ook omkoop geld. Dalk ook gewaarsku sal sy werk verloor

Adri ·

Ja daar het jy dit. Die Afrika kultuur en n totale gebrek aan oordeelsvermoe is nou tot in die hoogste hof te bespeur

Marcel ·

Sjoe ek het vir jou 783 redes hoekom die hof moet ingryp…

Ouma ·

Onthou daar is wetlike aspekte wat ook regters aan bande lê. Mogoeng moet ook versigtig trap om nie uit lyn uit te raak nie. Dit kan altyd weer toekomste hofsake beinvloed. Maar hierdie kat het 10 lewens. Smaak my so wragtag Zuma bly tot die einde van tyd.

vrikie ·

Gooi die bal maar net aan of dit nou ‘n hospitaal ‘pass’ is of nie

Deon ·

EFF …. wil Zuma uit he omdat hy die Grondwet oortree, wat van alle individue en Politieke partye wat die Grondwet oortree…???????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.