Hof wys aansoek oor Prasa-verhogings van die hand

(Argieffoto: Untu)

Die arbeidshof het die United National Transport Union (Untu) se dringende aansoek teen die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) om die 5%-salarisverhoging te betaal waarop daar in ’n langtermyn-loonooreenkoms ooreengekom is, van die hand gewys.

Maroela Media het vroeër berig dat Untu ’n dringende aansoek by dié hof ingedien het nadat Prasa versuim het om die betaling aan die einde van April 2021 te doen.

Waarnemende regter Reghana Tulk het Woensdag gesê Untu het versuim om uitdruklik uiteen te sit waarom hy die instelling van die loonverhoging as dringend beskou.

Tulk het ook bevind dat die arbeidshof nie die gesag het om oor die kwessie te besluit nie aangesien Prasa-werknemers individueel siviele eise teen hulle werkgewer by die hooggeregshof kan indien.

Sy het ook gesê dat Prasa aanspreeklikheid vir die betaling erken het toe hy die eerste jaar van die loonooreenkoms in Desember verlede jaar betaal het.

’n Vorige aansoek wat deur Untu by die arbeidshof ingedien is om dié betaling af te dwing is ook destyds van die hand gewys.

“Noudat die tweede jaar se verhogings betaalbaar is, versuim Prasa weereens om sy plig na te kom. Untu is bekommerd oor die moontlikheid dat dit vir die volle duur van die ooreenkoms so sal aanhou.

“Ons nooi die arbeidshof uit om ’n presedent te stel dat staatsbeheerde instellings gehoor moet gee aan gemeenskaplike ooreenkomste wat in goeie trou gesluit is, asook dat die versuim daarvan daadwerklike gevolge sal inhou,” sê Sonja Carstens, woordvoerder van Untu.

Carstens sê Untu sal sy lede op die hoogte van verwikkelinge aangaande dié saak hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bushy ·

Met al die werkloosheid kan hul dankbaar wees om nog n werk te he. Selfde geld vir Staats amptenare.

Nie Verbaas ·

En waar dink Untu moet Prasa die geld vandaan kry vir verhogings wanneer alles wat in staat se beheer is bankrot is? Wees dankbaar dat julle werk het. Hoeveel staatsamptenare verdien werklik enige vorm van verhoging?

Eugene ·

Alle unies behoort saam te staan en verhogings te stop totdat die epidemie verby is. Hoe verstaan die mense nie daf n werk in hierdie tyd ‘n absolute voorreg is en dat miljoene sonder werk sit as gevolg van die pandemie. Om nou aan te dring vir n verhoging is lagwekkend belaglik. Alle staatsamptenare behoort n vrywillige 10% vermindering van salaris te neem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.