Hofaansoek gebring om Abrahams en kie te skors

Adv. Shaun Abrahams, die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Foto: Flickr/GovernmentZA

Adv. Shaun Abrahams, die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Foto: Flickr/GovernmentZA

Die Helen Suzman-stigting en Freedom Under Law (FUL) het ʼn hofaansoek gebring om pres. Jacob Zuma te verplig om Shaun Abrahams, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), te skors, na aanleiding van die bedrogaanklagte wat teen die minister van finansies gebring is.

Die twee organisasies het in ʼn gesamentlike verklaring gesê hulle het Dinsdagaand ʼn dringende hofaansoek gebring om Zuma te dwing om Abrahams, Torie Pretorius, die hoof van die NVG se eenheid vir prioriteitsmisdaad en Sibongile Mzinyathi, die direkteur vir openbare vervolging in Noord-Gauteng, te skors hangende ʼn ondersoek na hul bevoegdheid om hul amp beklee. Slegs die president is by magte om hierdie beamptes te skors.

“Die NVG het, deur die optrede van hierdie drie beamptes, strafregtelike aanklagte sonder enige geldige gronde teen minister Pravin Gordhan, Ivan Pillay en Oupa Magashula gebring,” het die verklaring gelees. “Dit het die respek vir ons strafregstelsel ondermyn en ʼn gat in die ekonomie geslaan. Na ongekende openbare opslae, het adv. Abrahams die aanklagte laat vaar.”

Volgens die organisasie bewys dit Abrahams en sy kollegas is nie bevoeg om hul poste te beklee nie. “Geen bevoegde aanklaer sou die aanklagte gebring het of dit so lank verdedig het soos Abrahams nie. Hy moet om verskoning vra en bedank, maar hy het geweier om dit te doen.”

FUL en die Helen Suzman-stigting het Zuma in ʼn brief tot einde Dinsdag gegee om teen Abrahams op te tree, voordat hulle met regstappe voortgegaan het. Die presidensie het egter Maandag ontken die president het ooit ʼn brief in die verband ontvang.

Die organisasies hou egter vol die brief is aan die regte e-posadresse gestuur en daarom gaan hulle voort met regstappe.

“Die president is by magte om hierdie beamptes te skors. Gegewe hul ooglopende mislukking, sal dit irrasioneel van hom wees om dit nie te doen nie. Pres. Zuma kan nog steeds op sy eie hieroor besluit en ons doen ʼn beroep om hom om dit te doen,” lui die verklaring.

“Die Grondwet verwag van hom om rasioneel op te tree. In hierdie geval sal dit wees om [Abrahams en sy kollegas] te skors. Ons gaan hof toe om seker te maak die president doen wat die Grondwet van hom verwag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

zahn ·

Alweer ontken hy dat hy die korrespondensie ontvang het, of te laat ontvang het, of dit nog eers wil bestudeer (bid jou aan).
Regtig zuma, party van ons het verder gevorder as standerd 3.

Johann ·

Zuma en sy Zumaikies is terminaal siek…met die siekte ONAANTASBAARHEIDSINDROOM!

My tweesent bydrae ·

Daar begin die vertragingstaktiek . Oor ses jaar sal hulle nog steeds probeer on hom geskors the kry .

Buitestander ·

Onthou net die is hoe ANC politiek werk. Onken sover moontlik alles.
Staan agter jou politieke leier deur dik en dun en bestuur die land in die afgrond in.
Dit wat oorbly kan die ander maar kry. Verseker ander sal dekades sukkel om huidige leiers neem om hulle te vervolg!

John ·

?…irrasioneel, ja as mens verwys na iemand rassioneel wat ‘n irrasionele besluit sou neem. Moenie asem ophou nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.