Hofaansoek gebring oor Zuma se parool

Jacob Zuma (Foto: Nic Bothma, Pool via AP)

John Steenhuisen, leier van die DA, meen oudpres. Jacob Zuma se vrylating op mediese parool is onwettig en maak ’n bespotting van die regstelsel.

Die opposisieleier het daarom vandag ’n aansoek by die Gautengse hooggeregshof ingedien om Zuma se parool te laat hersien en ter syde te stel.

Steenhuisen glo Arthur Fraser, kommissaris van die departement van korrektiewe dienste (DKD), se goedkeuring van Zuma se vrylating op mediese parool was onwettig, aangesien die adviesraad vir mediese parool aanvanklik die aansoek afgekeur het.

Volgens Steenhuisen voldoen Zuma se vrylating boonop nie aan die tersaaklike wetgewing nie.

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

“Fraser se paroolbesluit benadeel die hof op presies dieselfde manier as wat Zuma se minagting van die hof dit gedoen het. Dit maak weer ʼn bespotting van die geregtelike proses en stuur die boodskap aan elke Suid-Afrikaner dat jy, solank jy kragtig en polities verbonde is, nie bang hoef te wees om die wet te oortree nie.”

Steenhuisen is ook ongelukkig met pres. Cyril Ramaphosa, nadat hy Zuma se vrylating openlik verwelkom het.

“Erger nog, hy het dit gefasiliteer deur die gekompromitteerde Arthur Fraser in die eerste plek as kommissaris van korrektiewe dienste aan te stel,” sê die DA-leier.

Maroela Media het vroeër berig Fraser is ʼn man teen wie verdoemende bewerings oor sy termyn as spioenbaas gemaak is, maar hy is nietemin in 2018 as hoof van die DKD aangestel. Hy word onder meer daarvan beskuldig dat hy ʼn parallelle intelligensiestruktuur by die Staatsveiligheidsagentskap bedryf het.

Fraser is ook bestempel as ’n bekende bondgenoot van Zuma en tree boonop oor ʼn paar weke af.

Steenhuisen bestempel Zuma se vrylating op mediese parool as ’n desperate poging om gemoedere binne die Zuma-faksie van die ANC voor die verkiesing te kalmeer.

Die opposisieleier beskuldig Ramaphosa daarvan dat hy die belange van die ANC voor die belange van Suid-Afrika stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Werner ·

Ou Steenhuisen was maar stil toe die reg n bespotting gemaak het van Clive Darby Lewes en Janus Walus seker weer n verkiesing oppad.

Jack ·

DA ek glo julle is bietjie te laat soos gewoonlik.Ook weet ons die howe is deesdae heeltemal ANC gesind en sal daarom nie in julle guns uitspraak lewer nie maak nie saak of julle saak baie meriete en feite dra nie.In die land maak reg en geregtiheid nie meer saak nie.As die ANC of sy bendelede betrokke is gaan jy nie wen nie.Net soos julle aansoek by die konstisionele hof oor die OVK wat ook afgelag gaan word.Julle gaan nie wen by enige hof al het jy hoeveel meriete en geregtigheid in jou saak nie.Vergeet dit.

melW ·

Stem saam Jack. Dit help eenvoudig nie meer om teen die gety te swem nie, die golwe word net erger.

gatgogga ·

Hoe is die DA “bietjie te laat soos gewoonlik”?
Wat seker wel waar is, is dat die howe deur Ramaphosa/Zume gekaap is.

Cherokee ·

Dankie vir ‘n ligkolletjie! Ek is anti-DA, maar nog meer anti-pro-anc-kommentare. Dit is lekker om jou te sien die jack-tipe-kommentare te versmaai.

Chris dupreez ·

Netso, ek het al begin dink ek het weer n swart en wit tv

Nie Verbaas ·

Die regstelsel word nie nou eers gesien as n grap nie, dit is so vir jare. Hoës se sake word aanhoudend uitgestel. Malema, Magashule, Zuma, almal nog vry. Klein vissies word baie gou gevonnis. Of as jy wit is.

Peter Pan ·

Ag vader los tog vir ou Zuma uit.. maak nie saak wie wat doen nie. Hy sal altyd sy sin kry! Dit raak nou rerig iriterend!

melW ·

My opinie, sweet en short. Almal weet dat covid ń ekonomiese krisis veroorsaak het, wêreldwyd. Nou word Covid deur CR as die oorsaak van die vallende ekonomie is. Verskoon my, die plunderery en verwoesting van infrastruktuur en winkels in KZN is steeds skokkend en die eienaars ly wat die harde werklikheid moes ervaar. So, hoeveel skade is finansieel aangeteken? Snaaks dat oproere nie genoem word in dalende ekonomie nie maar covid kry deesdae al die skuld. Op die ou einde was my kommentaar toe nie short en sweet nie maar magtig man, Zuma en vriende kom weg, hulle sal altyd wegkom, die waarheid tel nie, hulle karakter bestaan nie, nog minder eerlikheid. Sickening.

Hendrik Marthinus ·

En as looting plaasvind en Meer optogte, en nog mense verloor werk, is Steenhuizen veilig met n vet bankrekening.
Los die Zuma debakel, die man kry heeltyd nuus dekking en hy Geniet dit.
Die man sou in elk geval binnekort parool gekry het.
Gebruik die geld van die hof aansoek vir iets beter

gatgogga ·

Die DA probeer om die druk op die gekaapte regsbank vol te hou, anders wen die kaders sonder teenstand. Die DA hou aan om die soeklig te skyn op die dinge wat verkeerd is – eendag sal die oormaat getuies dalk in ons guns kan tel.

Johanncb ·

Ai, ons is al só keelvol om van die Zuma-skepsel te hoor! Sluit hom asseblief toe, sodat ons van hom en die mediadekking kan ontslae raak!

SomeOne ·

of stuur zuma kuba of moskou toe, dan is sy gesig nie meer te siende nie

Anton J ·

Ag ou Zuma’tjie. Jy raak nou al afgesaag. Maak wat julle wil met die oompie. Hy is die estcourt gevangenis in gery en by die agter hek uitgery met sy he he he lagie. DA, verlore geld en tyd, julle sal nie wen nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.