Hofaansoek ingedien vir meer inligting oor entstofvoorwaardes

(Argieffoto: Unsplash)

AfriForum en Solidariteit het ’n dringende hofaansoek ingedien om meer inligting te versoek rakende die entstofvoorwaardes wat die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) vir Johnson & Johnson gestel het asook vir die hersiening van die besluit om hierdie voorwaardes te stel.

Sahpra het in Aprilmaand versoek dat die Johnson & Johnson- Sisonke-inentingsprogram, wat deur Janssen Pharmaceuticals vervaardig word, weer hervat moet word. Dit volg nadat die regering aangekondig het dat hy besluit het om die inenting van gesondheidswerkers met die J&J-entstof tydelik te staak nadat enkele gevalle aangemeld is van mense in die VSA wat bloedklonte ontwikkel het nadat hulle met dié entstof ingeënt is.

Die program is egter na Sahpra se versoek goedgekeur met ’n voorwaarde wat bepaal dat slegs die regering die entstof mag aankoop.

Maroela Media het vroeër berig Solidariteit het op 14 April gesê hy gaan die hof nader om hierdie voorwaarde irrasioneel te laat verklaar.

Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit, sê AfriForum en Solidariteit se hofaansoek is tweeledig.

“Eerstens is dit ’n aansoek vir inligting oor dié voorwaardes wat gestel is en wat deur middel van die Staatskoerant gepubliseer moet word. AfriForum en Solidariteit kan geen sodanige publikasie vind nie, en dus versoek die organisasies dringend hierdie inligting. Dit is ’n dringende aansoek en dit word op 29 Junie aangehoor,” sê Van der Bijl.

“Tweedens versoek ons die hersiening van die besluit van Sahpra om ’n voorwaarde van ’n regeringsmonopolie te stel vir die aankoop van die Johnson & Johnson-entstof. Hierdie besluit deur Sahpra is onwettig, want daar is geen bepalings wat hom magtig om hierdie voorwaardes te stel nie.”

Van der Bijl sê dit is duidelik dat die staat hier onbehoorlik ingemeng het in die funksies van Sahpra.

“Sahpra is veronderstel om te kyk na die doeltreffendheid van entstowwe en ander medisyne en nie na die sentralisering en nasionalisering daarvan nie. Ons is van mening dat so ’n sentraliseringsvoorwaarde onwettig is,” sê Van der Bijl.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, is van mening dat die regering se entstofuitrolprogram tot dusver ’n ondoeltreffende, sloerende fiasko is.

“Die land se minister van gesondheid, Zweli Mkhize, is pas op spesiale verlof geplaas weens ernstige korrupsieaantygings. Die regering is dus in geen posisie om alleen die aankoop en verspreiding van entstowwe te hanteer nie. Hulle eie treurige rekord tot dusver is die beste argument teen hierdie monopolie,” sê Van Zyl.

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jack

my eerste vraag is: Wat word nou weer deur onse regering weggesteek. Is daar fout met die j&j middel? Is hulle bang die privaatsektor toets dit? Ek sal wegbly van die een af. Liewers dan spoetniek.