Hofaansoek om Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursbedryf te red

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag hofstukke op alle belanghebbende partye beteken om die Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursbedryf (MEIBC) onder kuratorskap te laat plaas om dit sodoende van ondergang te probeer red.

Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, moes die vakbond nou ingryp om te red wat te redde is. “Die langdurige wanbestuur van die MEIBC is gekenmerk deur groot finansiële ongerymdhede, plundery en onderlinge politiekery. Dit het die MEIBC op sy knieë gedwing totdat die punt bereik is waar basiese verantwoordelikhede nie meer nagekom kan word nie,” het hy gesê.

Solidariteit nader die arbeidshof vir ʼn bevel dat ʼn kurator/trustee met omvattende sakereddingsmagte aangestel word om te poog om die MEIBC se sake reg te ruk. Volgens Croucamp is hierdie stap nie net in die belang van Solidariteit se lede nie, maar in die belang van die bedryf in die geheel. “Ordelike kollektiewe bedinging en dispuutresolusie staan sentraal tot die stabiliteit van die bedryf. Verantwoordelike rolspelers in die bedryf moet saamwerk om dit te beskerm.”

Croucamp het verduidelik dat die MEIBC agterstallige skuld het wat die bedingingsraad nie kan delg nie. “Weens uitstaande fooie van meer as R2 miljoen aan Tokiso het dispuutresolusie in die bedryf feitlik tot stilstand gekom. Gewone mense se dispute word eenvoudig nie aangehoor en afgehandel nie.”

Verskeie versoeke wat tot die minister van arbeid gerig is om in te gryp, het volgens Croucamp op dowe ore geval. “Die minister het eenvoudig verskeie skrywes wat die haglike toestand van die raad se finansies sowel as die wanbestuur daarvan uiteensit, geïgnoreer,” het Croucamp bygevoeg.

Solidariteit hoop dat die kurator/trustee wat aangestel word die raad weer op koers sal kan kry en die verlammende greep waarin dit is, sal kan breek. “Die kurator word drie maande gegun om sake om te draai. Indien dit nie moontlik is nie, kan finale likwidasie die MEIBC gedurende 2017 in die gesig staar,” het Croucamp gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hennie ·

Met die sogenaamde demokrasie het plundering die nommer een aktiwiteit in ons land geword. Wanneer jy noem wie skuldig is, is jy ‘n rassis.

Piet ·

Ja Hennie jy is reg. Dan moet hulle my ook maar as n rassis “label”. Ons regering en die mafia wat al ons staat en semi-staats departemente beheer. As hulle nou almal donker van gelaatskleur is is dit nou nie my skuld nie. As dit van my n rassis maak dan is ek ook een.

Nelie ·

As MEIBC insolvent verklaar word wat word van al die mense se pensioene? ? Is dit nog n Transnet?

Hendrik ·

Dagse laat die spul toe maak en klaar kry. Hul doen niks vir die werkers nie en ja en amen vir die groot firmas wat werkers inloop. Deur hul is daar nie meer n ding soos menslikheids verlof in die geval van die af sterwe van n famielie lid nie, en nog baie voordele van werkers laat weg val. En die unies praat groot in die media maar is nie veel beter nie.

Carel ·

Nee Hendrik, menslikheidsverlof word uitgespel in die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, die MEIBC het geen insae daarin nie en kan dit nie laat weg val nie, jou werkgewer lei jou aan die neus. Jy is baie sinies, hulle het wel baie vir die werkers gedoen in Desember 2014 toe hulle die verhogings vasgemaak het op ‘n vlak baie hoër as wat baie werkgewers kon bykom.

Lindie ·

Carel, die MEIBC het hulle eie reëls en volgens wet moet sekere bedrywe aan hulle lidmaatskap behoort. Hulle het hul eie loon skaal, verhogings, verlof en bonus skale. As MEIBC sê 10% verhoging en arbeid sê 8% dan sal lede 10% betaal, indien die besigheid nie kan nie, doen jy aansoek vir kwytskelding. Doen jy dit nie, sal jy terug werkend opbetaal. MEIBC is geen werkgewer se vriend as dit swaar gaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.