Hofaansoek om wanorde in parlement ook uit te saai

Argieffoto: Kopano Tlape, GCIS

Argieffoto: Kopano Tlape, GCIS

Mediahuise en ander partye het vandag die Wes-Kaapse hooggeregshof gevra om ʼn klousule in die parlement se uitsaaibeleid onwettig en ongeldig te bevind, omdat dit die publiek verhoed om aktiwiteite op die parlementsvloer te sien.

Steven Budlender, een van die aansoekers, het Maandag die hof versoek om die klousule wat betrekking het op die dekking van onparlementêre gedrag en ernstige wanorde, onwettig en ongeldig te bevind. Media24, Primedia, die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) en twee ander partye het die aansoek gebring en die hof verder versoek om die parlement opdrag te gee om voorvalle van ernstige wanorde dieselfde as onparlementêre gedrag te hanteer.

Die partye het ook versoek dat die gebruik van ʼn seinblokkering-toestel gedurende die 2015-staatsrede in Februarie onwettig verklaar word. Tans gee die parlement se uitsaaibeleid die uitsaai-direkteur diskresie om soms wyehoek-kameraskote gedurende onparlementêre gedrag te gebruik. Daar is geen voorsiening gemaak vir kameraskote gedurende ernstige wanorde nie en die beleid definieer ook nie wat as ernstige wanorde beskou word nie.

Die aansoek volg ná LP’s van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) gedurende pres. Jacob Zuma se 2015-staatsrede hardhandig uit die parlement verwyder is en dit nie uitgesaai is nie. Die parlementêre videodekking het slegs op speaker Baleka Mbete en die Nasionale Raad van Provinsies-voorsitter, Thandi Modise, gefokus.

Joernaliste het egter beeldmateriaal met hul selfone afgeneem, in oortreding met die parlement se uitsaaibeleid, maar kon nie stories vanuit die parlement deel nie omdat die selfoonsein geblokkeer was.

“Dit ondermyn nie vir mense die waardigheid van die parlement om so iets te sien nie. Die publiek is daarop geregtig en móét sien sodat hulle dit kan assesseer en hul eie oordeel fel. Ons is nie bewus van enige gesag wat sê vryheid van uitdrukking kan beperk word omdat dit ʼn instansie sleg laat lyk nie,” het Budlender gesê.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Langenhoven se “Meneer die Speaker, ek trek terug. Die helfte van hierdie huis is nie donkies nie!” kom weer na vore. Ek wonder egter watter woord sou hy gebruik het in plek van “donkies”? Ek dink ons almal raai reg . . .

Gert van der Merwe ·

Ha ha ha Peet so korrek. Wonder hoe het Langenhoven geweet van die “regraai”in ons parlement. Hy wil voorkom om beter te voorspel het as ou Siener.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.