Hofaansoek oor Tuinroete-strande gebring

(Foto: SANParke/Facebook)

ʼn Dringende hofaansoek is Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof gebring teen die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, oor haar besluit om strande in die Tuinroete-distrik, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal te sluit gedurende hierdie feestyd.

Daniël Eloff, prokureur by Hurter Spies, sê die aansoek is gebring namens die Grootbrakrivier-sakeforum, Louis Cook, ’n gastehuiseienaar en voorsitter van die Gastehuisgilde van Mosselbaai, en AfriForum as derde applikant.

Die respondente is die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, die minister van gesondheid en die premier van die Wes-Kaap.

Volgens Eloff berus die aansoek hoofsaaklik op twee bene.

“Eerstens argumenteer die applikante dat die besluit irrasioneel is weens die feit dat strande en buitelugruimtes nie ’n groot gevaar vir Covid-19-transmissies inhou nie. Tweedens, dat die besluit in die belangrike tyd rampspoedig is vir die toerismebedryf wat reeds op sy knieë is na die afgelope agt maande van die nasionale ramptoestand,” sê Eloff.

Volgens AfriForum kom die beperking van toegang tot strande, wat openbare eiendom is, neer op ’n beperking van ’n basiese mensereg.

“Ingevolge die Grondwet mag ’n basiese mensereg soos die vryheid van beweging slegs beperk word indien dit eerstens regverdigbaar is en tweedens deur algemeen geldende wetgewing ondersteun word. Die regering kan dus nie verskillende reëls vir verskillende strande maak nie aangesien dit nie regsbeginsels met algemene gelding is nie,” sê Monique Taute, AfriForum se hoof van Veldtogte.

“Dit is ongrondwetlik en diskriminerend om sekere strande te sluit gegewe die geweldige ekonomiese impak wat dit veral op die kusdorpe gaan hê, wat reeds heeljaar baie swaargekry het weens die inperkingsregulasies. Die Desember-vakansie is ’n geleentheid om hul ekonomieë tot ’n mate te herstel en die sluit van strande gaan lei tot geweldige, onherstelbare skade vir die sakelui in hierdie dorpe.”

Die saak dien Dinsdag 22 Desember voor die hof.

Die Tuinroete- en Sarah Baartman-distrik is nou ook tot brandpunte verklaar. Alle strande in eersgenoemde distrik word van Woensdag tot 3 Januarie gesluit.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het Dinsdag gesê die sluiting van alle strande in die Tuinroete-distrik gaan ʼn uitklophou vir die streek se ekonomie wees.

Winde sê die Tuinroete-distrik se ekonomie steun swaar op toerisme vir oorlewing en die besluit kan lei tot talle werksverliese, wat groot kommer wek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

koei ·

Agge nee ALWEER daai nar………..haar besluite is maar net stupid

Die Wolf ·

Hoekom KZN voortrek? Kopdoek word nog steeds deur die KZN mafia beheer.

Cd ·

Die magspel van Zuma gaan ons land se eindelose skade besorg.
Wanneer gaan ons van die Zumas ontslae wees?

Alleen Wolf ·

Ek dink sy was te lank deurmekaar met JZ, as ‘n reel is die Dlamini’s wat Swazi’s is redelik intellegent en nogal by.

Jaco ·

Ek wonder net: as groot getalle mense van alle rasse, let wel alle rasse, nou op elke strand in die Oos-Kaap en die Tuinroete toesak, wat dan? Gaan die polisie genoeg mannekrag en voertuie hê om almal te arresteer en in hegtenis te neem? Ek bly in Kaapstad en selfs wanneer ons plaaslike buurtwag ernstige misdade soos aanranding en poging tot moord by die SAPD aanmeld EN ons sê ons het die skelms vasgetrek, dan sê die plaaslike polisie bloot “jammer ons het nie ‘n voertuig nie”

Bertie ·

Lae intelligensievlakke en onbevoegdheid of n duistere motief om kleinsake besighede te vernietig is die redes vir hierdie swak besluite.

Hannes ·

Jy mag moontlik “sterk soos ‘n beer” wees maar jy is dom soos grond, Covid het nie strande nodig om te versprei nie, hy gebruik mense in winkel sentrums.

Elsabe ·

Ek’s al lekker deurmekaar met wat ek mag, nie mag doen. Waar ek mag en nie mag wees en op watter tyd ek daar mag wees waar ek nie mag wees. So, ons kan ook nie te vroeg vertrek en te laat daar aankom as ons die kar gepak het en die padkossies gepak…. Jy kan ook nie maar met die stroom beweeg, want die stroom loop stroom-op. Want ons mag of nie.

Jacobus ·

Die besluite is allermins bedoel vir veiligheid. Dit is nommerpas in die moedswillige neiging van NDZ en haar kabaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.